Vryheidsfront Plus Geweeg en te Lig Bevind

Deur Dan Roodt

Dr Dan Roodt

Dr Dan Roodt

RUBRIEKE – Die afgelope week by ’n inligtingsessie van die Onafhanklike Verkiesingskommissie in Kempton Park loop ek een van die leiers van die Daggaparty raak.

Nee, dis nou nie die kortstondige DA-Agang-party nie, maar die regte Daggaparty van Suid-Afrika wat hom vir die wettiging van dié dwelm beywer, asook ’n soort “volhoubare dagga-ekonomie” waar ons selfs in huise sal bly wat van byprodukte van die daggaplant gemaak word!

Die Daggaparty kan dalk ’n metafoor wees vir die verwarde en verdwaalde toestand waarin die opposisiepartye in Suid-Afrika hulle bevind. Aan die vooraand van waarskynlik die belangrikste verkiesing sedert 1994 lyk dit asof sowel die DA as die VF+ by die stasie se verlore goedere moet aanklop om hul beginsels terug te vind.

In Suid-Afrika se geesdriftige omhelsing van multikulturalisme en linkse denke, het regs eenvoudig weggekwyn. Om vandag in Suid-Afrika behoudend te wees, is amper om sosiale selfmoord te pleeg.

Begrippe soos private eiendom, die markekonomie, ’n werk­etiek, die gesin, identiteit en morele waardes word met hoongelag begroet. Leiers van Julius Malema se EFF verskyn selfs in die openbaar in oranje tronkuniforms omdat hulle die misdadigers as hul natuurlike bondgenote in ’n anti-wit stryd sien. Op Twitter praat hulle vrylik van revolusie en geweld.

Die DA onder Tony Leon het self sterk regse elemente bevat, waarteen die huidige parlementêre leier van die party, Lindiwe Mazibuko, haar skerp uitgelaat het deur die party se groei met Afrikanersteun ná 1999 as “korttermyn… en nadelig op lang termyn” te beskryf. Sy het ook gesê dat “wit nasionaliste” die DA liefs behoort te verlaat.

Anders as wat Pieter Mulder verlede naweek in Rapport beweer het, is die VF+ kwalik die “natuurlike tuiste van Afrikaners”. Eintlik is die party maar ’n splintergroep van die ou KP wat onder Constand Viljoen ’n oomblik van glorie in 1994 beleef het, maar sedertdien nie daarin kon slaag om kiesers gaande te maak nie.

Die leier van die pas gestigte Front Nasionaal in Suid-Afrika, Hannes Engelbrecht, vergelyk Pieter Mulder se deelname aan die ANC-regering as adjunkminister met F.W. de Klerk se Regering van Nasionale Eenheid kort ná 1994. Hy sê: “As ’n party teruggryp na ou uitgediende Nasionale Party-argumente wat ’n klaaglike mislukking was, is jy polities bankrot.”

As beroepspolitikus lyk dit asof dr. Pieter Mulder nie meer weet watter liedjie om voor watter gehoor te sing nie. Die liberale rubriekskrywer R.W. Johnson laat hom die afgelope week só uit oor die DA se omhelsing van ’n pro-Palestynse beleid in die Midde-Ooste: “Dít is die werklike ramp, dat die DA só deur die ANC gebreinspoel is dat hy nie net die pad byster geraak het nie, maar ook nie meer aan Suid-Afrikaners ’n werklike keuse bied nie.”

Maar ook die VF+ is nie immuun teen al die linkse sjarme nie en word self in die Praathuis gesosialiseer om ANC-idees klakkeloos na te praat.

Daarom verwerp Pieter Mulder implisiet die party se selfbeskikkingstrewe as hy skryf dat die VF+ hom “herposisioneer” het en voortaan die ANC-ideale van “ware eenheid in verskeidenheid; rondom ’n ware ‘better life for all’?” omhels. Is dit Zuma jr. wat hier praat?

Helen Suzman het jare lank vrou-alleen ’n ongewilde Houghton-liberalisme in die ou parlement met skrille sarkasme verdedig en oplaas gesien hoe die bolwerk van die eens magtige NP in duie stort. Vandag smag Suid-Afrika na konserwatiewe politici met beginsels wat eiendomsreg, private besit, gelyke regte vir Afrikaners en wit mense, asook ons reg op eie instellings soos skole en universiteite sal voorstaan. Noem dit “kulturele selfbeskikking”.

’n Tsoenami van Britse Marx­iste het Suid-Afrika getref en groot dele van ons universiteite beset. Van die mees radikale denkers in ons land is Britse vroue soos Ruth Hall van die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland (Plaas) en Carin Runciman van die Universiteit van Johannesburg. Hulle is niks minder nie as staatsbesoldigde aktiviste wat onverdunde kommunisme propageer. Hulle skryf die beleid vir Malema se EFF en die linkervleuel van die ANC, waaronder die departement van grondsake.

Afgesien van ’n paar geluide uit Orania, beskik die VF+ oor geen intellektuele om hierdie ideologiese aanslag op die Afrikaner en eintlik die hele Suid-Afrikaanse ekonomie te troef nie. Die party produseer niks behalwe anekdotes oor die goeie ou dae en futlose mediaverklarings nie.

Hierteenoor beskik Europa oor ‘n groot aantal aantal intellektuele wat vanaf die sewentigerjare reeds die kommunisme skerp kritiseer. Aanvanklik het hulle nie veel hond haaraf gemaak nie. Die Franse filosoof Alain de Benoist het byvoorbeeld ‘n boek van 3 000 bladsye geskryf oor waarom die regse beweging in sy land oor die afgelope 200 jaar misluk het. Ironies genoeg het dit verskyn op die vooraand van Marine Le Pen en haar Front Nasionaal se meteoriese opgang tot waar dié party tans 34% steun onder die tradisioneel linkse Franse geniet.

Die hele Europa ervaar tans ‘n swaai na regs, soos Leon Lemmer ook vandag berig. Benewens Frankryk, het steun vir nuwe regse partye ook in Nederland, België, Denemarke, Swede, Oostenryk, Hongarye en Italië toegeneem. In Noorweë het die Vooruitgangsgparty wat as “konserwatief liberaal” beskryf word en eers as “verregs” gestigmatiseer is, tesame met die Konserwatiewe Party in Oktober 2013 ‘n nuwe regering gevorm. Die Vooruitgangsparty beskryf homself as ‘n “libertariese volksparty”.

Europese regse partye groei veral onder jongmense. Die kletskamers van rekenaarspeletjies waaraan miljoene van hulle deelneem, is by uitstek die plek waar uitgesproke menings oor die politiek uitgeruil word.

Soos Leon Lemmer dit vandag stel:

‘n Les wat die ENR my geleer het, is om nie meer Westerse beskawing as ‘n ideaal vir myself en Suid-Afrika voor te hou nie. Die assosiasie met Amerika is dan te sterk. Tydens apartheid is die woord “blankes” met “Europeans” vertaal. Dit blyk nou korrek te wees. Pleks van op ‘n hernude golf van Westerse beskawing te hoop, sal ek voortaan liewer vir die plaaslike hervestiging van Europese beskawing pleit; iets wat in 1652 met Jan van Riebeeck begin het.

Ons is Afrikaners, maar ook Eurokaners. Op skool het ek Afrikaans, Engels en Latyn geleer. Ek herken my eerder in ou-Griekse begrippe oor die deug, oor verantwoordelikheid en vryheid as in die modieuse geswymel oor oeboentoe en verwante Afrosentriese clichés. Ek wil nie deur ‘n sangoma in ‘n vuil, vervalle hospitaal behandel word nie en dring op my Europese wêreldbeskouing aan. Terwyl ek dié woorde skryf, luister ek na die Duitse violis Anne-Sophie Mutter. Ek vra nie daarvoor om verskoning nie. Net so min as wat die Arabiere van Noord-Afrika om verskoning hoef te vra dat hulle Moslems is, net so min hoef ons daaroor skaam te wees dat ons wat ons voorkoms en ons kennisbenaderings betref, Europeërs gebly het. Weliswaar het ons ‘n eie beskawing hier te lande geskep, maar hy is vandag meer as ooit aan die groter Europese wêreld verbind.

De Gaulle, Verwoerd en ander het gevoel dat die voortbestaan van ons beskawing in Suider-Afrika van wesentlike belang vir die groter Europese beskawing daarbuite is. Dit is nodig dat ons opnuut hieroor sal besin.

Ons het niks meer om te verloor nie. Is dit nie tyd dat ons opstaan om ons idees en ons onvervreembare reg op ’n plek in die Suid-Afrikaanse son onverskrokke en ondubbelsinnig teenoor die hele wêreld te verdedig nie?

Dr. Dan Roodt is onderleier en woordvoerder van die nuwe party, Front Nasionaal.

Namecheap

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za