Voetsole en Veldskoene: Chris Jones oor Versoening

revolution-360x564Deur Leon Lemmer

Chris Jones is ‘n teoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het onlangs ‘n artikel oor versoening in Die Burger (28 Des, p 15) gepubliseer. Daar word berig dat hy die hoof van die US se kantoor vir moraliteit en morele leierskap is. ‘n Mens mag hom dus seker op sy spesialiteitsgebied toets. ‘n Probleem wat hom dadelik voordoen, is dat Jones ‘n eienaardige soort teoloog is. Sy benadering kan seker as na-modernisties beskryf word, as vloei-saam-met-die-stroom; dus as iets in die mode is, kan dit maar onderskryf word.

Jones gun homself hierdie skynbaar bandelose vryheid deur anders as tradisionele teoloë nie na die Bybel te verwys nie. By geleentheid het hy beweer “truths – and in particular Bible truths – are not fixed but wax and wane with the ebb and flow of each new society and culture”. Daarmee pluk Jones enige sprake van ‘n bonatuurlike mat onder die Bybel uit. Die Bybel is volgens hom blykbaar ‘n suiwer mensuitgedinkte en mensgeskrewe teks. Die rots waarop Jones gevolglik eerder bou, is Chris Jones. Op dié manier het hy voorheen sy mening oor bv die doodstraf en homoseksualiteit gelug.

Hierdie keer sê hy dat ons van ons troontjies moet afklim, ons afgode moet agterlaat en mekaar as gelykes moet omhels. Versoening vind glo net tussen gelykes plaas. Dit lyk vir my na ‘n doodloopstraatopsie, want die praktyk toon baie duidelik dat, ten spyte van al die propaganda wat die teendeel beweer, ons in baie opsigte (die opsigte wat wesenlik saakmaak) nie gelykes is nie. Ons moet ons nie laat mislei deur gelykverklaring eers voor die reg en daarna in die politiek (een mens, een stem) nie.

Selfs voor die reg is mense nie gelyk nie, want rykes kan beter regshulp as armes bekostig, sommige mense verstaan hofprosedure beter as ander, kan hulle beter as ander uitdruk en dus hulle belange beter beskerm, ens. Een mens, een stem is in baie opsigte ‘n gevaarlike klug, want mense verskil hemelsbreed in bv ingeligtheid en insig. Die meeste plaaslike kiesers, baie van hulle funksioneel ongeletterd, het geen benul van wat werklik belangrik is in die hede of met die oog op die toekoms nie. Hulle stem op grond van ras, propaganda/hoorsê, intimidasie, ens, in die waan dat hulle hier en nou bevoordeel gaan word.

Waar Jones wei en waarnatoe hy mik, is duidelik, want hy voer sy betoog met woorde soos weerloses, gemarginaliseerdes, verwondes, magteloosheid, uitsluiting, geregtigheid en waardigheid. Al die genoemde woorde word deesdae gebruik (eintlik misbruik) om ‘n saak ter bevoordeling van nie-wittes uit te maak en om wittes te benadeel. Dit is omdat die wittes vir nie-wittes, en veral swartes, se beweerde benadeling verantwoordelik gehou word. Jones se standpunt laat ‘n mens dink aan Sergey Nechayev (1847-1882) en François Furet (1927-1997) se frase “revolusionêre kategismus”. Volgens die HAT beteken kategismus: “Kort begrip … van die vernaamste leerstellinge van ‘n godsdiens.”

Jones gebruik ook ‘n woord wat ons nie in die ou Suid-Afrika gehoor het nie, naamlik voetsoolvlak. Deesdae word die destydse bevoordelingshiërargie soos volg voorgestel: veldskoenvlak heel bo, gevolg deur plakkie- en tekkievlak, en dan die heel laagste, voetsoolvlak. In die nuwe Suid-Afrika is dié piramide, soos dit ‘n revolusie betaam, omgekeer. Diegene op voetsoolvlak (swartes) is nou bo en kry ongekwalifiseerd simpatie, dié op plakkie- en tekkievlak (Asiate en bruines) ‘n mate van simpatie, terwyl dié op veldskoenvlak (wittes, veral Afrikaners/Boere, insluitende boere) verguis word.

Hierdie rondte verwys Jones darem wél na die Bybel, naamlik na die storie van Rispa wat aan God, en nie aan die koning nie, gehoorsaam was. Sy neem nie wraak nie, maar waak eerder oor die lyke van haar kinders. Hierdie verhaal kan op verskillende maniere vertolk word. Jones se uitleg is: Rispa “wórd die gesig van versoening en herstellende geregtigheid.” Godsdiens moet, volgens Jones, nie vir politieke doeleindes misbruik word nie. In hierdie opsig lê daar vir hom op die US-kampus ‘n groot sendingveld braak, want daar is van die rektor en die studentedekaan tot by die dekaan van die fakulteit teologie en ook in daardie fakulteit baie bevrydingsteoloë vir wie dit in die eerste plek nie om religie gaan nie, maar om politiek.

Op die US-kampus is die frase “herstellende geregtigheid” ‘n gewilde mode-frase by veral bevrydings- en (as daar van hulle oor is) ander teoloë. Met “herstellende geregtigheid” word beweer dat daar tydens apartheid (eintlik) geen geregtigheid was nie en dat hierdie positiewe waarde nou teruggebring moet word. Dit word in dieselfde konteks as transformasie, bemagtiging, regstellende aksie, ens, gebruik; dus ter bevoordeling van nie-wittes en benadeling van wittes.

Die revolusionêre aard van hierdie soort geregtigheid word deur Jones belig wanneer hy afwisselend ook die (blykbaar sinonieme) frase “radikale geregtigheid” gebruik; ook “radikale versoening”, wat plaasvind as mense “plekke met die ‘ander’ ruil”. Jones se ideaal van absolute gelykheid word hiermee bereik. Daarom plaas hy “ander” tussen aanhalingstekens. In die salige staat waarin almal gelyk/eenders is, word alle andersheid ontken. Die probleem is dat dit ‘n illusie is; dat (soos die tuin van Eden) so ‘n opset nie in die werklikheid aangetref word nie.

Naas “geregtigheid” vereis terme soos “agtergeblewe” en “gemarginaliseer” ook kwalifisering voordat hulle ondubbelsinnig tuisbring wat bevrydingsteoloë wil sê. Vir bevrydingsteoloë is die probleem dat “agtergeblewe” en “gemarginaliseer” nie duidelik maak of die betrokkenes deur eie toedoen of deur die laakbare gedrag van ander mense agter geraak het of uitgeskuif is nie. Om seker te maak dat dit nie op eersgenoemdes se eie slegtigheid dui nie, word daar dan by voorkeur van “agtergesteldes” gepraat. Dan is die bedoeling duidelik, naamlik dat hierdie mense agtertoe gedwing is, dus dat wittes verantwoordelik gehou word as nie-wittes nie op peil is nie.

Jones se vervreemding van die werklikheid blyk duidelik uit wat hy skryf: “Radikale versoening lei tot ‘n nuwe mensheid … Hierdie núwe mensheid word dikwels gebore in die moeilikste situasies – deur te vergewe, te herstel en te genees.” ‘n Voorbeeld hiervan vind hy dan waaragtig in die naloop van die Reitz-4-episode, wat in werklikheid ‘n geval van grootliks onskuldige studentepret was. In daardie episode is niemand gedood of beseer nie en niemand het werklik skade gely nie, maar die gebeurtenis is ter inkriminering van blankes gewetenloos uitgebuit.

Maar Jones stu voort met nog frases: “deernisvolle geregtigheid” en “radikale transformasie”. Ook: “Deur radikale versoening en herstellende geregtigheid kry mense al meer heelheid.” Jones verwys ook na “ware versoening, genesing en herstel.” Dit sluit aan by die gewilde sinspeling dat daar tydens apartheid (net) gebrokenheid was en dat die wittes siek was en genees moet word.

Soos baie ander skrywers kon Jones in Desember nie iets publiseer sonder om gunstig na Nelson Mandela te verwys nie: “Mandela was iemand wat op profetiese wyse sy lewe vir vryheid en versoening geoffer het, en as president politieke integriteit en sterk waardes soos geregtigheid, vergifnis en menswaardigheid vir ons nagelaat het.” Let op die onnodige gebruik van die tipiese teologiese term “profetiese”. Let ook op die insinuasie dat Mandela soos ‘n messias/verlosser gesterf het om vir ons daardie rits wonderlike waardes te laat beërwe. In die Wikipedia word daarenteen beweer dat Mandela aan ‘n longkwaal dood is.

Wat ek ironies vind, is dat die militante Mandela, wat deur Jones as die toonbeeld van versoening opgehemel word, dit baie duidelik gemaak het dat versoening nie van albei kante, wit én swart, moet kom nie, maar net van die blankes se kant af. Nog meer ironies is dat Mandela ‘n “Reverend Jones” direk teenspreek: “Over and over, he [Jones] preached the importance of reconciliation – implying that it was we who needed to reconcile ourselves to the whites” (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 537).

Jones se gevolgtrekking is: “Ons land sal meer effektief op die pad van radikale versoening moet vorder.” Is die idealistiese absolute gelykheid van die gespreksgenote hiervoor ‘n noodsaaklike voorwaarde, soos Jones beweer? ‘n Voorspoedige, veilige land sou myns insiens veel eerder die teelaarde vir die versoening van sy gelukkiger inwoners kon wees. Vir so ‘n land is ‘n heeltemal ander politieke grondslag as die huidige een egter noodsaaklik.

Dit sou versoening bevorder as ook van die dwaasheid van politieke korrektheid afgesien word en daar direk gesê word hoe sommige van ons landgenote kan verbeter. Daar het die onsinnige gewoonte posgevat dat net die wittes sonder ophou sleggesê kan word. Daarenteen mag nie-wittes nie op hulle ooglopende tekortkominge gewys word nie. Dit is heeltemal moontlik dat die een party meer rasioneel oor versoening kan dink en dus beter weet hoe om te versoen as die ander party, wat geneig kan wees om instinktief te reageer en te roem op etniese meerderheidsteun. Kwantiteit as sodanig kan egter nie ‘n tersaaklike bydrae tot versoening lewer nie.

‘n Bekende beeld wat dikwels gebruik word, is dié van die handgeweefde mat. Die koper wat die mat ontvang, kyk graag na die bokant, die mooi kant. Die arbeider wat die weefwerk gedoen het, is baie bewus van die onderkant, wat nie so mooi is nie. Suid-Afrika het grootliks onverdiend in die skoot van die swartes geval. Jones skaar hom aan hulle kant en dink wat hulle doen, is mooi. Daarenteen word diegene onder wie se leiding die land opgebou is, die wittes, deur Jones minder mooi voorgestel, al word ondernemingsgees en voortreflikheid veral by hulle aangetref.

‘n Variasie hierop is diegene, soos Jonathan Jansen, wat bekommerd is oor hoe die relatief talentloses die skoolstelsel ervaar. Daarenteen bekommer ek my oor die begaafde leerlinge wie se talente in ‘n uitsiglose skoolstelsel versmoor word; daardie mense wat die leiding kan neem om die land uit die moeras te sleep.

Dit lyk asof Jones net vir die wittes preek. Dit verbaas my altyd as iemand ernstig voorgee dat hy sy etnisiteit dermate ontgroei het dat hy geen poging aanwend om vir sy identiteitsgenote in die bres te tree nie. Dat daar militante, hardegat swartes is, soos hierbo uitgewys is, is ‘n feit. Hoekom nie direk vir nie-wittes, veral swartes, sê dat sommige van hulle moet ophou om af te breek wat onder wit bewind opgebou is en dat hulle gerus ook kan ophou om die wittes te treiter, te besteel, te benadeel en uit te moor nie? As daar wesenlike resultate na sodanige oproep is, sal dit ‘n hupstoot aan versoening gee.

Die reg op lewe is die fundamenteelste mensereg. Slegs lewende mense kan al daardie ander mooi klinkende menseregte geniet. Dít gee ‘n ander perspektief op die woorde van Antjie Krog waarmee Jones sy artikel afsluit: “Stukkie vir stukkie sterf ons in versoening.”

Namecheap

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za