Resepte: Smaaklike Hoender-Happies

Hierdie hoendergereg-resep is ideaal vir vingeretes, voorgeregte en tussen-maaltyd versnaperings.

SMAAKLIKE HOENDER HAPPIES

HoenderbolletjiesGenoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 30min.

BESTANDELE

  • 60 ml (¼ k) broodkrummels
  • 2 ml (½ t) elk paprika, cayennepeper, kerriepoeier en knoffelpoeier
  • 45 ml (3 e) melk
  • 500 g hoendermaalvleis
  • 1 eier
  • sout en peper

BOLAAG

  • 125 ml (½ k) broodkrummels

VIR VOLTOOIING

  • 30 ml (2 e) olie
  • 15 g botter
  • gebakte patatskywe vir voorsit
  1. Plaas die broodkrummels in ’n bak en meng die speserye en die knoffelpoeier in. Giet die melk oor, roer en sit eenkant tot die broodkrummels die vloeistof opgesuig het.
  2. Knie die broodkrummelmengsel by die hoendermaalvleis in. Voeg die eier by, geur met die sout en peper en roer met mening tot die mengsel glad en ferm is. Vorm die sagte mengsel met klam hande in klein balletjies van sowat 15 g elk.
  3. Bolaag Plaas die broodkrummels in ’n diep bord en doop die balletjies een vir een daarin om dit deeglik met die krummels te bedek.
  4. Vir voltooiing Verhit die olie en die botter in ’n pan, maar moenie die botter laat verbruin nie. Plaas die balletjies in die pan en verlaag die hitte tot matig. Braai ’n paar minute of tot die onderkante van die balletjies goudbruin is. Verlaag die hitte, draai die balletjies om en braai tot gaar. (Kyk deur een balletjie middeldeur te sny.)
  5. Sit voor met gebakte patatskywe.

Namecheap