RESEPTE: Roomysbombe met Karamel

Roomysbombe met Karamel.

Roomysbombe met Karamel.

RESEPTE – Maklik en vinnig, met net drie bestanddele. So ’n bombe hou lank in die vrieskas. Sny skywe af, soos benodig, en vries die res.

Gebruik enige koek vir die buitelaag en pas die roomys binne-in daarby aan. Jy kan ook die roomys verder geur met gekapte neute, konserf of iets soos peppermentsjokolade. Onthou dat alkohol sal verhinder dat roomys kliphard vries. As jy dus brandewyn of whisky wil gebruik om roomys mee te geur, kook dit eers af sodat die alkohol kan verdamp en laat dit afkoel voor jy dit by die roomys voeg.

  • 1 groot karamelrolkoek of 1 pakkie mini-karamelrolletjies
  • 1 blik karamelkondensmelk
  • 1 liter toffie-en-vanieljeroomys

Smeer ’n kleinerige metaalmengbak liggies met olie of bespuit met kleefwerende kossproei. Voer uit met kleefplastiek en smeer of spuit weer. Sny die rolkoek (of klein rolkoekies) in snye en voer die hele bak daarmee uit. (Hou genoeg snye oor om bo-op te pak, want dit vorm die basis van die bombe.)

Klits die karamelkondensmelk om dit effens sag te maak en smeer dit egalig oor die karamelrolkoek. Skep die roomys in die holte en maak die bak vol tot bo. Smeer gelyk en pak die res van die rolkoeksnye bo-op. Draai dig toe met kleefplastiek of foelie en vries tot hard. Lewer 12 porsies – Afrikaanse Nuus

Namecheap