Pierre de Vos en sy Polities Korrekte Godsdiens

Deur Dan Roodt

Dr Dan Roodt

Dr Dan Roodt

RUBRIEKE – Pierre de Vos sê so ewe aan ‘n paar mense wat kommentaar lewer op sy jongste prul waarin hy hom by die heksejag op Potchefstroomse studente oor ‘n sogenaamde “Nazi-saluut” voeg:

I was hoping any of these comments actually engaged with the substance of the argument I presented. Sadly not. Oh well, one day.

Sjoe, is daar enige “substansie”? Daardie idioot wat Desmond Tutu se “analise” van apartheid in die WVK-verslag geskryf het, het mos beweer dat Afrikaners oor ‘n “outoritêre kultuur” beskik en toe een of ander aanhalinkie uit Adorno gegee. Sover ek onthou, was hy ook van die Universiteit van Kaapstad.

Ek dink De Vos adem maar net die soort Boerehaatteorieë wat op sy kampus rondsweef uit en die meeste van die tyd weet hy nie eens waar hulle vandaan kom nie, weens ‘n gebrekkige kennis van Westerse denke, filosofie en geskiedenis.

Tydens die Weimarrepubliek het Hitler in stryd getree met die kommuniste en naarstiglik gesoek na simbole en rituele wat hulle s’n kon naboots. Pleks van die hamer-en-sekel het hy die swastika gekies wat blykbaar op sy Katolieke kerkgebou in Oostenryk iewers al baie lank vertoon is.

Die oorspronklike model vir nasionaal-sosialistiese rituele en simbole was dus kommunisme. Soos ‘n hele paar mense, onder andere die Nederlandse politikus Martin Bosma, onlangs opgemerk het, was nasionaal-sosialisme eintlik ‘n linkse ideologie. Beide kommunisme en NS verteenwoordig vorme van “burgerlike godsdiens” of dan die aanbidding van wat Koos Malan in sy boek Politokrasie “die jaloerse god”, die staat, genoem het.

De Vos se “ontleding” – dis nie ‘n ontleding nie, want hy poog geensins om enige werklike neutrale beskrywing of begrip van die voorval aan te bied nie – verteenwoordig, soos ek reeds voorheen in ‘n Engelse kommentaar gesê het, op sigself ‘n afskuwelike stuk “groupthink” en konformisme.

Kom ons neem nou ‘n hele paar treë terug, soos die spreekwoordelike “antropoloog vanaf Mars” sou kon doen. Waarmee hy besig is, is presies waarvan hy die studente op Potch beskuldig. Hy voel hom deel van ‘n groep – die linkse Engelse stam van vervelige, dom akademici op Rondebosch. Behalwe hy is ‘n effense buitestaander wat nie eintlik Engels is nie, daarom moet jy die waardes van sy groep – asook sy Boerehaat – nog meer beklemtoon in ‘n angsvallige poging om tot die groep te behoort.

Dus, Afrikaners is Nazi’s. Of ten minste diegene wat tydens die tweede wêreldoorlog lede van die Ossewabrandwag was. Dit strook met die amptelike SAKP-siening deur die lid Brian Bunting in sy boek The Rise of the South African Reich.

Wat De Vos onder “kritiese denke” verstaan, is juis om binne stamverband te konformeer en die vooroordele van sy groep klakkeloos te herhaal en op Afrikanerstudente te projekteer. Waarskynlik beskik vele van daardie meisies wat hul koshuislied sing en hul arms in die lug swaai oor meer kritiese denke as ‘n paar departemente aan die UK saam. In elk geval sal hy nie weet nie, want hy het met geen van hulle gepraat nie; nie eens Beeld het hulle menings gevra nie. Soos onder Stalin, word daar aan hulle vertel: Ons wéét julle dink sus, en van nou af aan sal julle só dink.

Gesien vanuit ‘n (kultuur)-marxistiese oogpunt, is ‘n “goed funksionerende universiteit” soos De Vos dit noem een waar studente die “kritiese teorie” van Horkheimer of Marcuse of Adorno of wie ook al bemeester, tesame natuurlik met Das Kapital, en daarna die wêreld om hulle “krities” begin ontleed. Die postmoderne filosowe – en verder terug natuurlik Nietzsche – het reeds jare gelede aangetoon tot welke mate die marxisme dieselfde struktuur as dié van ‘n godsdiens vertoon.

Dus, om “krities te dink” beteken binne sy raamwerk – of dié van sy stammetjie Boerehaters aan die UK, wat een en dieselfde raamwerk is – om “sonde” by ander raak te sien. Dit gaan om die afdwing van die polities korrekte kode en daar word fundamentalisties genoeg van ons almal verwag om ons daarby neer te lê. Ook die koshuisstudente op Potch.

Nes onder kommunisme en NS, gryp die staat in elke aspek van ons lewens in: in die ekonomie, in die opvoeding, in die verhouding tussen ouers en kinders, in ons openbare en privaatlewens. Die staat, asook akademici wat blykbaar nie meer “navorsing” doen nie, maar hulle voltyds met heksejagte op “sondaars” besig hou, bedreig op ‘n wesentlike manier ons vryheid.

Hierdie staatlike “morele leer” wat met fanatisme op ons afgedwing word en waar selfs ons taal en onskuldige gebare deur die linkse dwepers – amper het ek die woord “ajatollas” gebruik, maar ek dink dit sou ‘n belediging vir Moslems wees – gepolisieer word, staan in jukstaposisie met die bandelose wreedheid, verkragting en sadisme wat ons jaar na jaar in Suid-Afrika ervaar. Soos alle vorme van fanatisme, is politieke korrektheid wêreldvreemd en glad nie van toepassing op die “wrede paradys” waarin ons woon nie.

Die haas totalitêre en fanatiese denkbeelde van politieke korrektheid is so ver verwyder van die Afrikanerkultuur en -lewensbeskouing, wat in die Joods-Christelike godsdiens en die Europese Verligting gewortel is, dat ons nie meer dieselfde land kan deel nie. Net soos Indië en Pakistan na godsdiens in twee state uiteengeval het, sal Suid-Afrika in ten minste twee state verdeel moet word.

Boerevolk Informasie

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za