Om te Stem of Nie te Stem Nie?

Deur Dan Roodt

Dr Dan Roodt

Dr Dan Roodt

Vandat ons nuwe politieke party Front Nasionaal gestig is, word ons geweldig aangeval, veral van regs en verregs. Die Vryheidsfront Plus, asook allerlei groeperinge met die prefiks “Boer-” in hul benaminge, beskou Front Nasionaal se deelname aan die komende verkiesing as ongevraag, verdelend en selfs ‘n vorm van “verraad”.

Soos ek reeds vantevore geargumenteer het, bevind die Afrikaner hom tans in ‘n ondergeskikte posisie teenoor die swartman, maar ook die Geldmag in Suid-Afrika, vanweë ‘n probleem van denke. Teenoor die opkoms van die ANC, die SAKP, maar ook Afrikanervyandige maatskappye soos Vodacom en Barclays-ABSA, verkeer die Afrikaner tans in ‘n toestand van verlamming, besluiteloosheid en onderlinge broedertwis.

Iets wat PRAAG oor die afgelope jare reggekry het, is om ‘n nuwe intellektuele basis vir die Afrikaner te verskaf, wat aansluit by die Goue Tyd van Afrikanerpolitiek, maar ook in pas is met die moderne, eietydse nasionale bewegings in Europa. Veral in Nederland en Frankryk het ‘n nuwe geslag denkers en aktiviste opgestaan wat besig is om die politiek in daardie lande grondig te verander. Daar is honderde en selfs duisende boeke téén die kommunisme en linkse hegemonie geskryf; eers daarna het politici daarin geslaag om stemme by die stembus te begin verwerf en om in die hoofstroommedia opgeneem te word. PRAAG het oor die afgelope veertien jaar daardie rol van intellektuele voorhoede vir die nuwe beweging vervul en ‘n duik in die links-liberale propaganda gemaak.

So pas gister het ‘n 16-jarige skoolseun in Nederland sewe dollar aan Front Nasionaal via PayPal geskenk. Hy sê hy sou graag meer wou bydra, maar omdat hy nog op skool is, beskik hy oor geen inkomste nie! Ek wonder hoeveel 16-jarige Afrikaners sou tagtig rand aan ‘n Nederlandse politieke party skenk? Of sou hulle selfs die name van politieke partye in Nederland ken? Dis egter tekenend van die nuwe politieke bewussyin in Nederland dat veral jongmense hulself deel voel van ‘n wêreldwye stryd om die Europese beskawing te red, ook in Suid-Afrika waar die vooruitsigte vir enige beskawing hoegenaamd besig is om daagliks te taan.

Verregse Afrikaners meen dat dit futiel is om aan nasionale verkiesings deel te neem en dat gewapende opstand die enigste manier is om van die ANC en SAKP se oorheersing ontslae te raak. Tot dusver het diegene wat hulself op gewelddadige wyse daarteen wou verset egter bedroë daarvan afgekom. Enersyds is alle Afrikaanse organisasies deur die staat ingesypel en werk informante kliphard teen betaling om mede-Afrikaners by die staat te verkla en desnoods in die howe te laat skuldig bevind. Ek meen alle volkere wat deur ander oorheers word, vertoon hierdie tendens: een deel van die mense werk saam met die vreemde heerser en die ander deel verset hom daarteen, hetsy ondergronds, hetsy op ‘n min of meer wettige manier.

Omdat verregses nie aan verkiesings deelneem nie, is dit futiel om met hulle oor partypolitiek te redeneer. Hulle is ook nie as kiesers reregistreer nie en hoewel hulle nou in verkiesingstyd oorloop van menings oor hoe en vir wie ander behoort te stem, gaan hul stemme (of dan “nie-stemme”) geen verskil aan die uitslag maak nie.

Een van die argumente wat verregses gebruik om deelname aan die politieke stelsel te ontmoedig, is die bewering dat sodandige deelname die status quo “legitimeer” of bevestig.

Vele marxiste gebruik ook dié argument. Toe ek in my eerste jaar by Wits was, het ons in die staatsleerklas ‘n voorgeskrewe boek van die Britse marxis, Ralph Miliband, gehad met die titel The State in Capitalist Society. Daarin argumenteer hy juis dat deelname aan die politieke stelsel beperkend is, ten minste vir “revolusionêre partye”:

“Merely by taking part in the work of the legislature, [opposition parties] help the government’s business. This is one of the main problems of revolutionary parties. As they enter existing parliamentary bodies, so are they also compelled, however, reluctantly, to take a share in their work which cannot be purely obstructive.” (bl. 50)

Terloops, destyds as eerstejaartjie kon ek dit nie vermoed nie, maar Ralph Miliband was ‘n goeie vriend van Joe Slovo en hulle het gereeld in Londen saamgekuier. Dit was seker nie toevallig dat Miliband se boek destyds by Wits voorgeskryf is nie. Merkwaardig is egter die feit dat albei die marxistiese Miliband se seuns, David en Ed, in die onlangse verlede ‘n prominente rol in die Britse politiek sou speel. David was die Britse Minister van Buitelandse sake en Ed Miliband is tans die leier van die Arbeidersparty. David Miliband het tydens sy ampstermyn ANC-terreur teen apartheid-Suid-Afrika in die openbaar verdedig.

Die politiek is ‘n klein wêreld! En kennelik het die Miliband-seuns nie hul linkse vader se raad te letterlik opgeneem nie.

Onder aanvoering van Joe Slovo en ander prominente kommuniste vanuit Londen, het Suid-Afrika ‘n linkse revolusie ondergaan en is die De Klerk-bewind soos ‘n nat waslap uit die pad gesmyt. Intussen word Afrikaners via die media – ook natuurlik die Nasperskoerante! – blootgestel aan linkse denke, maar dan gaan dit merendeels daaroor om die ideologie van politieke korrektheid en witskuld te vestig, asook om Afrikaneronmag en gebrek aan getalle te beklemtoon.

Gister na afloop van ons Front Nasionaal-vergadering, het ons insgelyks gepraat oor die swak vertoning van konserwatiewe Afrikaners teenoor die linkse revolusionêre in Suid-Afrika. Onder andere spruit dit uit Afrikaners se onkunde oor die marxisme, feminisme, afrosentrisme en ander denkrigtings wat die linkses in hul aanslag rig. Ons mense is ook oningelig oor die geskiedenis van kommunisme in die twintigste eeu, waaronder die 100 miljoen mense wat in die Groot Gelykmaak gesterf het. Vanaf 1978 toe die SA Kommunistiese Party amptelik die doktrine van ‘n massa-oorlog (people’s war) omhels het, het honderdduisende mense reeds tydens Suid-Afrika se Groot Gelykmaak gesterf. In ons tyd verhewig die gewelddadige aanslag teen die blanke middelklas, waaronder natuurlik plaasboere. Tensy die linkse revolusie by ons gestuit word, gaan hy nog baie slagoffers eis.

‘n Verdere punt wat Miliband in sy boek maak, is dat die staatsmasjinerie ook nie eintlik vatbaar vir verandering is nie, selfs al kom ‘n ander party aan bewind. In die geval van Suid-Afrika, is ons hele staatsadministrasie natuurlik deur die ANC en Kommunistiese Party oorgeneem, sogenaamd “getransformeer”, dus sal selfs die DA geen hond haaraf kan maak indien hy ooit die verkiesing sou wen nie. Iets wat onder huidige omstandighede hoogs onwaarskynlik is.

Waarom dus nog hoegenaamd stem, indien ons weens ons getalle nie eintlik veel invloed by die stembus kan uitoefen nie? Is die HNP-slagspreuk, “Stem reg, bly weg” nie maar die regte nie? Ironies poog die leier van die HNP en verkose president van die Boere-Afrikanervolksraad, mnr. Andries Breytenbach, juis tans om ‘n afspraak met president Jacob Zuma te bekom. Alternatiewelik loods die Volksraad aansoeke in Suid-Afrikaanse howe en korrespondeer met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, ‘n liggaam wat deur die 1996-grondwet in die lewe geroep is.

Daarmee wil ek nie polemiseer nie en dis elkeen se goeie reg om die benadering te volg wat hy wil om Afrikanervryheid te herwin. Maar wat is nou eintlik die verskil daartussen om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse regstelsel, voor regters wat deur die ANC aangestel word, en aan verkiesings deel te neem? Op ‘n manier het ek meer vertroue in die onpartydigheid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie as in die onafhanklikheid van die regbank! Hoe dit ook al sy, daar bestaan ‘n klomp redes waarom ons aan verkiesings behoort deel te neem:

  • ons mag nie ‘n situasie skep waar bestaande partye soos die DA en selfs die Vryheidsfront Plus, wat samewerkende opposisie met die ANC bepleit, as “woordvoerders van die Afrikaner” optree nie;
  • daarmee saam, moet ‘n groepering soos Front Nasionaal in die SA parlement bestaan wat onverskrokke die herstel van Afrikanersoewereiniteit bepleit en nie net ‘n soort volkstaat wat behels dat ons almal na ‘n uithoek van die land moet wegtrek nie;
  • buitelandse politieke partye wat die Afrikanersaak goegesind is, verkies om met ‘n politieke party te skakel, eerder as buite-parlementêre organisasies;
  • die ANC, DA, EFF, Cope, ens., gebruik die politieke stelsel en belastingbetalersfondse om hul doelwitte te bevorder en ons sou ons benadeel indien ons nie dieselfde doen nie;
  • die parlementêre stelsel, asook verkiesings, bied aan ons die geleentheid om ons standpunte in die massamedia te stel en sodoende die heersende linkse ideologie teen te werk;
  • wêreldwyd verkies mense om aan verkiesings deel te neem tensy hulle met geweld van die stembus weggehou word, daarom gaan ‘n groot klomp Afrikaners in elk geval stem, ongeag wat boikotters te sê het;
  • as verkose politieke verteenwoordigers kan ons bande met buitelandse ambassades en moondhede smee, wat ons kan help om weer vryheid te verwerf;
  • die buiteland sal slegs na ‘n politieke party luister, nie na ‘n guerillagroep sonder verkose woordvoerders nie;
  • pleks van vrugtelose appèlle op die ANC te loods vir afsprake met ministers, kan eise vir eie skole, universiteite, hospitale, veiligheid en ander instellings regstreeks in die parlement gemaak word.

Die groot gevaar wat egter bestaan vir enige politieke party met verteenwoordigers in die Kaapse parlementsgebou, is dat hy “deur die ANC gebreinspoel word”, iets waarvan die ontleder RW Johnson die DA onlangs beskuldig het.

This is the real disaster, that the DA has been so brain-washed by the ANC that not only has it lost its way but it is no longer offering South Africans a real choice.

Ook die Vryheidsfront Plus het aspekte van ANC-denke verinnerlik en, soos Hannes Engelbrecht dit onlangs gestel het, het “Pieter Mulder die eenheidstaat met gemak omhels”.

Sulke “breinspoeling” en beïnvloeding deur die regerende party vind egter plaas weens ‘n gebrek aan ‘n intellektuele kultuur en ondeurdagte standpunte. Nóg die DA, nóg die VF Plus beskik oor ‘n alternatiewe visie vir die land en vir die Afrikaner en word daarom intellektueel deur die SA Kommunisteparty oorheers wie se propaganda hulle dikwels onbewustelik of klakkeloos napraat.

As Afrikaners en blankes nie bereid is om die Front Nasionaal in te stem nie, gaan ons huidige rampspoedige agteruitgang net versnel.

Tensy ons wakkerskrik, is die huidige Zimbabwe ons voorland binne tien tot twintig jaar, selfs gouer indien die EFF se skouspelagtige groei voortgesit word!


Die bogenoemde opinie is Dr Dan Roodt se siening oor die aangeleentheid. Dr Dan Roodt is tans aangestel as media woordvoerder en is ‘n aktiewe lid van die nuut gestigte Front Nasionaal politieke party. – Red.

Namecheap

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za