Nasionale Melktertdag, Jou Lekker Ding

MelktertBRIEWE – Melktert is die soet simbool van ons kultuurskat. Ons eet melktert as ons gelukkig is en as ons treur. Groot mans huil in hul harde baarde as die troostende geure hul terugvat na die duimvashou as kind dat daar genoeg vlapap in die kastrol sal oorbly om uit te eet.

By teepartytjies troon die melktert uit tussen koeksisters, konfyttertjies en haar ander soet gesante, en by kerkbasaars skouer gemeentelede mekaar om eerste by die melkterttafel uit te kom. Melktert is ’n monument vir die selfbemagtiging van die tannies nommer sewe wat met die inkomste van hul tuisnywerheidmelkterte hul kinders geleer kry. So ’n tert verdien ’n nasionale dag.

Melktert se stamboomwortels strek terug tot by die Romeine, pioniers van die eiervla. In die Middeleeue moes vindingryke kokke maniere bekook om die streng kerkreëls wat suiwelprodukte op vasdae verbied het, te omseil. Só het amandelpap, van amandelmelk, met gemmer en kaneel gegeur, ontwikkel. Met die verslapping van die vasreëls het eiervla weer sy buiging gemaak, dié keer in ’n triomfantelike skilfer- of broskors. Selfs die tradisie om kaneel of kaneelsuiker oor te strooi, kom uit dié era.

Niggies en nefies van ons melktert kan steeds geproe word in Portugese vlatertjies, pastéis de nata, die Griekse galaktoboureko filo-vlatert, Frans-Baskiese amandel- en vlatert, Britse vlaterte, Filippynse vlagebak en Amiese vlapasteie in Noord-Amerika. Die Spanjaarde met hul flans, crema catalane en leche frita (gebraaide vla) is ook vlameesters, en die Italianers is verlief op torta di nonna met dennepit-vla en pasta ciotti – amandelgegeurde hand-vlatertjies.

Hoekom Nasionale Melktertdag? Die idee vir ’n dag gewy aan melktert is op 27 Februarie in die Weg! se kantoor gebore. Dié tydskrif se joernaliste het besef net melktert is ’n teenvoeter vir die laatmiddag-tamheid wat op ’n mens toesak, inderdaad, melktert is die perfekte namiddaghappie.

Op Weg se webwerf verduidelik hulle dit wat gevolg het só: “Dié nuus was te goed om nie te verkondig nie, en die daaropvolgende jaar was vriende, lesers, radiostasies, Facebook-kennisse, koffiewinkelbase en sjefs oorgehaal om ook op 27 Februarie melktert te bak, te sny en saam met geliefdes te geniet. Omtrent oornag het iets wat as ’n hunkering na ’n soetigheidjie begin het, gegroei tot Nasionale Melktertdag.

Nasionale Melktertdag het nou sy eie Facebook-bladsy met meer as 3200 likes – hier word onder meer die lof besing van tannies van oor die hele land wat ware melktert-koninginne is en Weg! deel foto’s van melkterte wat jou sal laat smag na ’n snytjie.

Vanjaar het Ladismith-botter ook deel van die vieringe geword as ’n borg van die groot dag. Gaan kyk na die feestelikheid by facebook.com/pages/Nasionale-Melktertdag, bak môre jou eie melktert en gaan spog met jou skepping!

Outydse melktert

As deel van my melktert-dissipelskap het ek ’n resep van Kokkedoor se Theresa de Vries as basis gebruik. Dis die toewyding dubbel en dwars werd. Solank jy vinnig werk en sorg dat die botter yskoud is, liefs gevries, flop dit nie. Dis ook heerlike ontvlugtingsterapie om die deeg 100 keer te gooi! (Lewer twee melkterte.)

Vir die skilferkorsdeeg:

500g botter

500g (4k) meel

5ml (1t) sout

2 eiergele

300ml yswater

20ml (4t) suurlemoensap of brandewyn

ekstra eierwit, vir oorverf

Vir die vulsel:

750ml (3k) volroom-melk

sowat 6 perskeblare of 2,5ml (½ t) amandelgeursel

75ml (5e) suiker

2 stukke pypkaneel

37,5ml (2½e) meel

37,5ml (2½ e) mielieblom

5ml (1t) sout

3 eiers, geskei

Só maak ’n mens

Begin met die skilferkorsdeeg:

  • Deel die botter in drie gelyke dele en hou dit in die vrieskas.
  • Sif die meel en sout saam in ’n mengbak.
  • Klits die eiergele, yswater en suurlemoensap of brandewyn saam. Voeg dit by die meel en meng totdat ’n stywe deeg vorm.
  • Knie die deeg tot glad en elasties – sowat 5 minute lank. Laat val die deeg 100 keer op ’n meelbestrooide werkoppervlak.
  • Rol die deeg in ’n vierkant van 35cm x 35cm en rasper ’n derde van die yskoue botter oor die deeg. Vou die deeg na die middel, sye bo-oor en koppe oormekaar. (Soos ’n mens ’n laken opvou.)
  • Rol weer uit, rasper nog ’n derde van die botter oor die deeg en vou weer soos beskryf. Herhaal nog een keer om die laaste botter te gebruik. Plaas die deeg oornag in ’n plastieksakkie in die yskas.
  • Rol die deeg uit en voer twee blikborde met die deeg uit. Verf bodem liggies met eierwit.

Nou is jy gereed om die vulsel te maak:

  • Voorverhit die oond tot 200°C.
  • Verhit die melk, die perskeblare of amandelgeursel, die helfte van die suiker en pypkaneel in ’n kastrol oor matige hitte. Verhit tot kookpunt.
  • Meng die res van die bestanddele, behalwe die eierwitte, saam met nog ’n bietjie melk en roer vinnig by die melkmengsel sodra dit begin kook. Kook totdat die mengsel dik is. Roer aanhoudend. Verwyder van die hitte.
  • Klits die eierwitte tot styf en vou dit by die melkpap in. Skep in die voorbereide deegkors. Bak 30 minute lank totdat bruin vlekke bo-op begin vorm. Eet louwarm.
Melktertwenke
  • Gebruik perskeblare, pypkaneel, nartjieskil, vanielje of kardemom as geurmiddel.
  • Wees spaarsamig met die amandelgeursel en gebruik ’n bietjie vanielje daarmee saam. Volgens Peter Veldsman kan drie of vier appelkoospitte saam met die melk gekook word vir ’n amandelgeur.
  • Die koskenner Lochner de Kock sprinkel gemmer oor die deegkors voordat die melktertpap ingegooi word.
  • As die eiers bleek is, gebruik ’n mespunt borrie om die vlapap se kleur te verdiep
  • Gebruik ’n plat bord met ’n oorhangrand, soos ’n blikbord, wat die hitte goed versprei. As die blikbord baie dun is, gebruik twee borde opmekaar.
  • Rol deeg altyd net in een rigting–weg van jou af. Moenie die deeg rek nie,anders krimp dit met mening terug.
  • Vir selfs swieriger pof, plaas ’n ekstra strook deeg, sowat 4cm breed, om die rand van die tertbord (direk op die bord, of bo-oor die deegvoering). Verf yswater op sodat die deeglae kan kleef.
  • Moet liefs nie die uitgerolde deeg in borde in die yskas sit nie, want dit kan die kors aan die onderkant laat taai bak.
  • Gooi die vulsel kokend op die uitgerolde deeg om te keer dat die kors taai word.

Afrikaanse Nuus

Boerevolk Erfenisbewaring