‘n Tata, nie ‘n Mercedes nie

Dnelson_mandela_733835eur Leon Lemmer

Uit die buiteland word ek oorval met boodskappe deur mense wat dink almal in Madibië rou. Ek wens dat almal nou van die Mandela-wa afklim en besef dat dit nie ‘n Mercedes is nie maar ‘n Tata. Tog voel ek verplig om, hopelik vir oulaas, ‘n herbesoek aan twee neo-swartes, eintlik bruines, te bring wat geen geleentheid laat verbygaan om hulle ANC-aktivisme ten toon te stel nie. Tydens die jongste Nelson Mandela-harlaboerla het sowel Michael le Cordeur as Russel Botman minstens drievoudig uitdrukking aan hulle naïewe verslaafdheid gegee.

Michael le Cordeur is ‘n dosent in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en tans ook die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Dit is in laasgenoemde hoedanigheid dat hy dit verlede jaar nodig geag het om Mandela op LitNet met sy verjaardag geluk te wens. Dít terwyl Mandela niks daadwerkliks gedoen het om Afrikaans te bevorder nie. Mandela het, heel waarskynlik op aanbeveling van Jakes Gerwel, Ingrid Jonker se gedig “Die kind” misbruik om die destydse veiligheidsmagte te diskrediteer. Dit is die soort ding wat as ‘n strooihalm aangegryp is om te beweer dat Mandela erkenning aan Afrikaans gegee het.

Die dag na Mandela se dood het Le Cordeur teks oor hierdie onderwerp gereed gehad. Heel onbeskeie het Le Cordeur die gewoonte om woordeliks dieselfde teks gelyktydig op meer as een plek te publiseer, bv in die koerant en ook op LitNet. Daarmee gee hy te kenne dat wat hy skryf nie net eenmalig gepubliseer behoort te word nie, maar dadelik in meerdere inligtingsbronne moet verskyn sodat die kanse skraler is dat iemand sy waardevolle uitinge misloop.

Le Cordeur se mymeringe oor Mandela is in Rapport, op LitNet, asook op die ATR-webwerf, gepubliseer. Ek gebruik die LitNet-teks (6 Des). Le Cordeur was in standerd 9 (graad 11) toe hy “met die grootsheid van Nelson Mandela kennis gemaak het.” Hy is as Boy Scout in Oslo, Noorweë, tydens ‘n mediakonferensie oor Mandela se welstand uitgevra. In die lig van sy politieke gesindheid wonder ‘n mens of Le Cordeur al ooit gedink het hoe bevoorreg hy was om reeds op so ‘n jong ouderdom in die buiteland te kon reis. Ek was minstens tien jaar ouer voordat ek op eie koste die eerste keer oorsee gegaan het. Daarna was ek nog drie keer oorsee, elke keer uitsluitlik op my eie koste. Le Cordeur gaan (soms) meerdere kere per jaar oorsee, terwyl die koste deur instansies pleks van homself gedra word. “In die onlangse verlede het ek dikwels oorsee gereis.” Die vraag is: Beskou Le Cordeur hom tereg as ‘n bevoordeelde, of verseg hy, om politieke redes, om homself as iets anders as ‘n (voorheen) benadeelde te beskou; dus as ‘n slagoffer wat op vergoeding kan aandring?

Terug in Suid-Afrika, na sy besoek aan Noorweë, het Le Cordeur oor Mandela begin lees. Hy is gefassineer deur Mandela se “opofferings”. Daardie gif het hom deurdrenk: “Dit sou my denke vir ewig hervorm.” “Dat daar sterk ooreenkomste tussen die lewe van Madiba en dié van Christus is, kan niemand ontken nie … Albei het ‘n onwrikbare geloof in, en liefde vir, hul mense gehad. Dermate dat albei bereid was om hul lewe te gee vir dit waarin hulle geglo het: ware vryheid.” Le Cordeur noem nie dat een van die twee so lief vir mense was dat hy bereid was om wittes te dood/vermoor nie. Ook nie dat die “opofferinge” tydens sy gevangenisskap minder sou gewees het as Mandela bereid was om geweld af te sweer nie. Le Cordeur erken ook nie dat “ware vryheid” in die nuwe Suid-Afrika ‘n illusie is nie. In baie opsigte kan ek dit deesdae nie waag om ‘n gewone, natuurlike lewe te lei nie. Die tirannie van die meerderheid doen hom orals voor.

“Die vorige regering” het Mandela se “vryheidstryd tot misdaad verdoem.” Le Cordeur is blykbaar van mening dat Mandela toegelaat moes gewees het om ongesteurd met sy terreurveldtog, wat sabotasie met bomplantings ingesluit het, voort te gaan. Mandela is in 1990 vrygelaat; steeds sonder om geweld af te sweer. “Soos ‘n Jesus van ouds het hy versoening en naasteliefde gepredik; soos ‘n Jesus het hy sy vyande vergewe omdat hy wys genoeg was om te besef dat hulle slagoffers van hul tyd en omstandighede was en nie geweet het wat hulle doen nie. Mandela was bestem om sy volk te lei uit die woestyn van apartheid na die Beloofde Land van demokrasie.” Vervolgens gebruik Le Cordeur ‘n gedig van Adam Small om Mandela ‘n Moses te noem: “Hy wys vir julle die weg na Kanaan aan.”

Let op al Le Cordeur se religieuse toespelinge in die idioom van die heillose bevrydingsteoloë. Verder, Mandela het “versoening en naasteliefde gepredik” eers nadat hy seker was dat hy in sy doel geslaag het, naamlik dat swartes politieke beheer van die land oorneem. Mandela het versoening en liefde gepredik om die wittes op sy sluwe manier te paai. Dit is nie die blanke bewind wat “nie geweet het wat hulle doen nie.” Voor 1990 is die land doeltreffend bestuur, misdaad is suksesvol bekamp en beskaafde Westerse waardes is gekoester. Dit is die ANC-regering wat nie weet wat hy doen nie, of nie in staat is om reg te doen nie. Die land word hoogs ondoeltreffend bestuur. Misdaad het handuit geruk. Afrikanisering, insluitende die vertraagdheid of agterlikheid en ellende wat dit impliseer, het beskaafde Westerse waardes vervang.

“En nou het die Liewe Vader hom kom haal … Hy het sy lewe vir ons gegee … Vanaand sal Madiba in die Paradys wees, aan Jesus se sy.” Vir nie een van hierdie laaste drie sinne het Le Cordeur enige gronde nie. Hulle gee bloot uitdrukking aan Le Cordeur se eie verdorwe politieke oortuigings.

Le Cordeur beperk sy linkse propaganda nie tot Mandela nie. Hy beskou homself as ‘n kenner van Kaaps en die klopse. Pas het hy vir die hoeveelste keer hieroor ‘n artikel in Die Burger (2 Jan, p 13) gepubliseer. Hy skryf oor die klopse se “hartseer geskiedenis.” Hy begin met die stelling dat die meeste bruines van die slawe afstam. ‘n Vuil spel word hier gespeel. Wanneer bruines met die verwyt van benadeling en die aandrang op bevoordeling kom, beweer hulle dat hulle die afstammelinge van slawe en dus uitheems is. Wanneer dit gaan om wie se land dit is, dus wie eerste hier was, eintlik altyd hier gewees het, dan beweer die bruines dat hulle inheems is en van die Khoi-San afstam. Jan van Riebeeck het al hieroor ‘n kramp gehad. Hy het geskryf dat die Khoi “pretenderen” dat hulle “dit Caepse lant van allen eeuwen” besit (Christo van Rensburg, So kry ons Afrikaans, Pretoria: Lapa, 2012, p 151).

Le Cordeur skryf oor die “uiterste wreedheid van slawerny – die daaglikse slae met swepe, die marteling en teregstellings, die minagting en verontmensliking.” Hy gee klaarblyklik uitdrukking aan sy anti-blanke sentiment. Daar is geen poging tot ewewig nie. Hy sê bv nie hoeveel teregstellings daar was nie en dat hedendaagse blankes nie daarvoor verantwoordelik gehou kan word nie. Ook nie dat verskeie historici beweer dat slawe aan die Kaap beter as elders in die wêreld behandel is nie. Nog minder sal Le Cordeur die getal slawe wat teen 1834 deur wittes gedood is vergelyk met bv die getal hedendaagse plaasmoorde, waarvoor hedendaagse mense wél verantwoordelik gehou kan word.

Dan herhaal Le Cordeur sy bekende leuen: “dat die slawe een dag in die jaar af gehad het.” Ek het by ‘n vorige geleentheid by historici en argivarisse hieroor navraag gedoen en hulle het my verseker dat wat Le Cordeur as die waarheid verkondig nie algemene praktyk was nie en sekerlik nie by alle of die meeste slawe-eienaars gedurende die meeste van die tyd van slawerny gegeld het nie. Byvoorbeeld, elke liewe Sondag is daar destyds min werk gedoen en dit geld ook die slawe. Maar Le Cordeur verkies om “die onderdruktes” (bruines) te kontrasteer met “hul onderdrukkers”, bedoelende wittes, terwyl dit algemeen bekend is dat daar ook nie-wit slawe-eienaars aan die Kaap was.

Vervolgens skryf Le Cordeur, die huidige voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), oor Afrikaans. “Die Moesliems [het] ‘n groot rol gespeel om die Afrikaanse en Nederlandse liedere in Kaapstad lewend te hou in ‘n tyd toe talle Afrikaners in Kaapstad verengels het. Tog het hierdie kultuurbydrae weinig erkenning gekry van die Afrikaanse organisasies.” Dit gaan dus vir Le Cordeur hier om die oorbekende verwyt van die nie-erkenning deur wittes van bruines se bydrae tot Afrikaans. Maar selfs as ATR-voorsitter het Le Cordeur hom nog nooit (sover bekend) verwerdig om erkenning te gee aan die leeue-aandeel wat Afrikaners in die daarstelling van Standaardafrikaans gehad het nie.

Op versoek van die ATR het Christo van Rensburg sy bogenoemde boek geskryf, nogal met ‘n voorwoord deur Le Cordeur. Daarin noem Van Rensburg dat nadat die Kaap ‘n Engelse kolonie geword het, die sprekers van Kaaps, dus die bruines, verengels het. “Kaaps het nou ook ‘n duidelike invloed getoon van die Engels wat die hooftaal van Kaapstad geword het” (p 88). “Engelse invloed [was] al van vroeg af deel van Kaaps” (p 115-116). Op ‘n moedswillige manier draai Le Cordeur die feite om. Ons weet dat seker die meeste Afrikaners die Engelse verpes het, maar Le Cordeur maak asof dit eerder die Afrikaners is wat verengels het en dat die bruines aan Afrikaans getrou gebly het.

Maar pleks van te stry oor die verlede, kom ons besin liewer oor die hede. Vir wie is die behoud van Afrikaans erns, die wittes of die bruines? Net meer as ‘n jaar gelede was Le Cordeur saam met Henry Jeffreys in Nederland om Afrikaans se saak aan die plaaslike politici te stel. Jeffreys het toe in minstens een opsig die waarheid gepraat: “Bruin Afrikaanssprekendes [het] nie dieselfde emosie en verknogtheid aan die taal as die wit Afrikaners nie” (Die Burger, 5.12.2012, p 9; ook Praag 18.12.2012). Le Cordeur maak hom klaarblyklik skuldig aan doelbewuste misleiding.

Voorheen het Le Cordeur hoog opgegee oor hoe lief die klopse vir Afrikaans is. Ek het toe gevra, “Hoeveel klopsegroepe het Afrikaanse name?” en geen antwoord gekry nie, want (feitlik) almal het Engelse name. Kom ons gooi die net wyer: Watter kinders het eerder Engelse as Afrikaanse name, die bruines of Afrikaners? Wie plaas dikwels Engelse doodsberigte in Die Burger, die bruines of die wittes? Wie probeer in woord en daad die hardste om Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch te vernietig, die bruines of die wittes? Elke keer blyk dit dat wit Afrikaanssprekendes meer Afrikaans-getrou as bruines is. Veral die stedelike en ontwikkelde bruines munt uit in hulle dislojaliteit teenoor Afrikaans.

Le Cordeur: “Die lirieke van die klopse-liedjies in die eg Kaapse Afrikaanse idioom is vanuit ‘n sosiaal-kulturele perspektief ‘n klassieke voorbeeld van hoe kulturele warmte deur taal uitgestraal word … ‘n effektiewe taal teen politieke onreg, ‘n taal waarin Moeslien én Christen aanbid.” Teen vindingryke, eiesoortige Bo-Kaapse Afrikaanse taalgebruik behoort daar nie beswaar te wees nie. Dit is die Engels-besoedelde soort Kaaps wat moontlik “kulturele warmte” kan hê, maar glad nie die voortbestaan van Afrikaans bevorder nie. In werklikheid hou hierdie soort Kaaps ‘n wesenlike bedreiging vir Afrikaans in. As pleitsbesorger vir Kaaps en ook weens sy anti-Afrikaner-gesindheid en die misleidende inligting wat hy versprei, is Le Cordeur myns insiens uitnemend ongeskik om as ATR-voorsitter te funksioneer.

‘n Ander neo-swarte wat ‘n onblusbare entoesiasme vir Mandela het, is Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US). Heeltemal teen die grein in van die tradisionele US van weleer, het hierdie universiteit in 1996 ‘n eredoktorsgraad aan Mandela toegeken, al het Mandela self erken dat hy ‘n vrot student was; bv: “My performance as a law student was dismal” (Long walk to freedom, p 104).

Asof dit nie erg genoeg is nie, is ‘n US-eredoktorsgraad in 2008 ook aan Graça Machel, Mandela se derde vrou, toegeken. Die Portugese het destyds aan haar die geleentheid gebied om in Lissabon te studeer. Sy het hierdie welwillendheid misbruik deur daar op die Portugese regering te spioeneer.

Hoe erg die voorkeur vir die ANC en die akademiese verrotting in hierdie land is, blyk uit die feit dat die Universiteit van Port Elizabeth hernoem is sodat dit deesdae die Mandela-naam dra. Die Universiteit van Transkei is hernoem na ‘n ander ANC-kameraad, Walter Sisulu, wat akademies ‘n ronde nul was. Sisulu het nooit verder as standerd 6 (graad 8) gevorder nie (Long walk to freedom, p 80).

Soos Le Cordeur het Botman minstens drieledig op Mandela se dood gereageer. Hy het eerstens gesorg dat ‘n huldigingsbyeenkoms op die US-kampus gehou is, tweedens ‘n artikel in Die Burger gepubliseer en derdens ‘n ander artikel op die US se Bonfiire-webwerf laat plaas. Oor eersgenoemde twee het ek reeds geskryf (Praag 22 Des). Die Bonfiire-artikel is op 6 Desember gepubliseer. Soos Le Cordeur het Botman na die 5de dadelik geroepe gevoel om met ‘n ophemeling van Mandela voor ‘n dag te kom. Soos verwag kon word, is Botman se artikel in Engels, sy taal van voorkeur vir die US, gepubliseer: “Tribute to Madiba.”

Vir Botman het dit egter in die eerste week van die Mandela-harlaboerla om baie meer as net sy pas genoemde drie reaksies gegaan. Die huldigingsbyeenkoms op die US-kampus is feitlik onvermydelik deur sowel Botman as Nico Koopman (Praag 1 Des) toegespreek. Dit is op die 11de opgevolg met ‘n openbare vertoon van pro-Mandela-solidariteit deur Botman en die DA-burgemeester, Conrad Sidego. Enkele jare gelede het hierdie ANC-DA-samewerking ‘n “slawefees” op Stellenbosch tot gevolg gehad. Hierdie keer het Botman en Sidego ‘n krans by die Mandela-standbeeld in die middedorp gelê. Hierdie standbeeld is deur hierdie einste DA-munisipaliteit opgerig. Botman het ook met vertoon die Mandela-huldigingsboek in die stadsaal geteken (Eikestadnuus, 12 Des, p 2).

Maar ook dít was nog nie genoeg nie. Op die 13de is ‘n tussenkerklike Mandela-byeenkoms deur die plaaslike munisipaliteit in die Kruiskerk, voorheen die Studentekerk, op Stellenbosch gehou. Sedigo en Koopman het die kerkgangers toegespreek. Die kersie op die koek was Alan Boesak wat met sy tweede vrou, Elna, uit Amerika daar opgedaag het. Boesak het, soos verwag kon word, ‘n opruiende rede gelewer en uiteraard uitsluitlik pro-Mandela-propaganda versprei (Eikestadnuus, 19 Des, p 2, en Riviernuus, 23 Des, p 11).

In die res van my skrywe bepaal ek die aandag by Botman se Bonfiire-artikel.”The victory over apartheid belongs to all who helped to end that system, but the greatest, most inspiring figure of the anti-apartheid struggle undoubtedly was former president Nelson Mandela. His example and the deprivations he endured gave people courage in the darkest hours. He stood for democracy and justice, even when it was to his own detriment. His life was characterised by respect and tolerance for the viewpoints, language, culture and religion of others.”

Dit is duidelik dat ‘n bedrewe ANC-aktivis hier aan die woord is. Botman beskou homself as een van diegene wat teen apartheid gestry het. Sy opruiende, opsluitbare gedrag op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en elders het hom egter nie, soos dit hoort, gediskwalifiseer vir die amp van rektor aan ‘n ander (en eens akademies beter) universiteit nie.

Botman loof die grondwet (waarin almal gelyk verklaar word), demokrasie, die “free South Africa” en menseregte. Hy wil hê dat meer ivm bv “housing, employment and food” gedoen word (wat in die praktyk grootliks op toe-eiening sonder teenprestasie neerkom) “to restore our broken humanity in South Africa”. Onder die blanke bewind was daar myns insiens sekerlik die uitlewing van baie menslikheid. Die gewelddadige politiek van die ANC, met Mandela as die hoofinisieerder, het daardie menslikheid groot skade berokken. Maar ek dink Botman probeer sy lesers wysmaak dat dit apartheid (dus die wittes, veral die Afrikaners) is wat menslikheid afgetakel het. Volgens Botman is dit Mandela wat die waardes “that make for a just and human society” gerespekteer het.

Dan kom Botman met dieselfde twak wat hy al vele kere opgedis het: Mandela se “commitment to education makes him a role model for all lecturers and students, teachers and learners. It is this conviction that made him say on occasion, ‘Education is the most powerful weapon which you can use to change the world.’” Dit is egter heeltemal strydig met wat die UDF/ANC, insluitende Botman en sy meelopers op die UWK-kampus, gepredik het: “Liberation before education.”

“In times when young people are searching for good leadership, they only have to look at his example for inspiration and an inclusive vision of the future, which our country needs so desperately. In this time of mourning our message to the youth must be to pursue the values, approach and leadership stature that Mandela has shown. In this way, we shall make a valuable investment in a future of peaceful coexistence in a just society.”

Mandela se leierskap was eenogig gerig op die verkryging van swart mag via geweld, maar hy word desnieteenstaande akademies en andersins deur Botman, in sy hoedanigheid as rektor, as ‘n rolmodel aanbeveel. Maar hoedanig is Botman se leierskap op die US-kampus? In verskeie opsigte soos dié van Mandela, bv met ‘n duidelike voorkeur vir nie-wittes en vir Engels pleks van Afrikaans. Botman se beleid is soos dié van Mandela en die ANC ras- en geslagsgebaseer. ANC-politiek geniet die hoogste voorkeur bo akademiese oorwegings. Daarom word die akademies beste studente nie kleurblind tot leergange toegelaat en studiebeurse kleurblind op grond van akademiese prestasie en finansiële omstandighede toegeken nie. Die ANC se beleid van rasse- en geslagsdiskriminasie word ook so stiptelik moontlik by die aanstelling en bevordering van dosente en ander personeel gevolg.

Aan die US word indiwiduele akademiese meriete deesdae op die agtergrond geskuif. Groepsverwantskap, dus wat jy toevallig (dus moeiteloos) is, hetsy etnies of geslagtelik, is aan die Botman-US die hoofoorweging by bevoordeling of benadeling. Sodanige blatante anti-akademiese gedrag word deurlopend onder verskeie vaandels deur Botman gepropageer: transformasie, inklusiwiteit, diversiteit, multikulturaliteit, ens. Daar is nooit sprake dat hy hom uitspreek teen die rassediskriminasie wat ooglopend teen blankes gepleeg word nie; ook nie teen die geslagsdiskriminasie wat teen blanke mans gepleeg word nie; ook nie teen die agteruitgang van Afrikaans as onderrigtaal en akademiese standaarde wat sienderoë plaasvind nie. Die teenoorgestelde gebeur wél. Byvoorbeeld, Botman het dit openlik betreur dat die US verplig was om twee blanke mans as vise-rektore aan te stel.

‘n Mens kan tereg vra: Hoeveel tyd het Botman in die eerste week of meer na Mandela se dood aan akademiese sake bestee? Is dit volgens die US-raad in orde as sy rektor so ooglopend en blykbaar by voorkeur steeds ‘n ANC-aktivis is? Vir ‘n objektiewe waarnemer, bv ‘n Marsmens wat nie met die verdorwenheid van die nuwe Suid-Afrika se waardes, insluitend die verwording van die akademie, bekend is nie, sou dit veral die afgelope tyd gelyk het asof Botman voltyds in diens van die ANC pleks van die US is.

Is daar al ooit iets gedoen om Botman kort te vat en sy aandag te vestig op wat ‘n rektor veronderstel is om te doen? Dit kan kwalik beweer word dat Botman met sy gedrag die akademiese beeld van die US bevorder. Wat die afgelope tyd op Stellenbosch waargeneem is, dus die eensydige manier waarop Mandela opgehemel is, is heeltemal onversoenbaar met ‘n objektiewe beeld van Mandela, soos gevind word in bv Pieter Möller se publikasie (in Afrikaans en Engels, met foto’s) oor die Mandela-legende (verkrygbaar by pieterwillemmoller[by]gmail.com). Red nou ‘n universiteit as akademiese inrigting met ‘n mens soos Botman aan die stuur van sake.

Namecheap

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za