‘n Dik spyker gaan rieldans toe

deur Leon Lemmer

Taalmonument

Taalmonument – Paarl

RUBRIEK – Met kultuur mag nie gemors word nie, maar dit kan nogal snaaks wees as ‘n werklik belangrike persoon daaroor skryf; ‘n krummeltjie wat ‘n brood geword het, soos dit onlangs so mooi op Praag gestel is. Kort nadat Michael le Cordeur as’t ware die vloer op die hoofbladsye van Die Burger met sy forumartikel oor die klopse gevat het (2 Jan, p 13), plaas hierdie koerant as ‘n forumartikel sommer nog ‘n teks van hom oor die bruines se kultuur. Die opskrif is: “Verenig deur die riel” (Die Burger, 7 Jan, p 9). Feitlik onvermydelik (volgens Naspers se propagandamasjien) is albei artikels ook op die Afrikaanse Taalraad se webwerf gepubliseer. Die onderskrif van laasgenoemde koerantartikel lui: “‘n Aand van rieldans het Michael le Cordeur oortuig dié dans is die ideale manier om brûe tussen taalgemeenskappe te bou en alle Afrikaanssprekendes te verenig.” Sy onderwerpe is dus dans, taal en politiek.

Dié artikel verwys na die ATKV se jaarlikse rieldanskompetisie wat verlede jaar die agste keer aangebied is en wel op 7 Desember by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Op 15 Desember 2013 het ek op Praag beswaar teen die etniese eensydigheid van die aanbiedinge by die monument gemaak en onder meer die bevordering van boeremusiek voorgestel. Op 25 Desember het ‘n uitvoering van boeremusiek inderdaad daar plaasgevind. ‘n Mens is uiteraard dankbaar dat daar in hierdie opsig erkenning aan Afrikanerkultuur gegee word. Hopelik dui dit op groter ewewig by wat die monumentbestuur vorentoe oor bruin- en Afrikanerkultuur gaan doen. Die ATKV het die rieldansbyeenkoms finansieel ondersteun, maar nie die een vir boeremusiek nie. Dié boeremusiek het wél ondersteuning van kykNet gekry, sodat hierdie byeenkoms seker verfilm is en later gebeeldsend sal word.

Baie joernaliste het oor die Kerstyd vakansie gehou en die enkeles wat in die “enjinkamer” oorgebly het, het teks gesoek om die wit bladsye van die koerant vol te maak. Le Cordeur is ‘n dosent en het die vakansietyd verwyl deur “akademiese bydraes” te lewer. Wat kan meer gepas wees as dat hy put uit die bruines se kultuur en dit aan die breë publiek bekend maak? Maar hy hoef sekerlik nie in hierdie proses Afrikaners af te kraak nie.

Afrikaanse Taalmonument 640Die Burger het weer ‘n foto van die outeur by sy artikel geplaas en genoem dat Le Cordeur die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad én die ondervoorsitter van die Taalmonument is. Ons het dus hier ‘n geval van twee gewigtige poste wat op een mens se skouers rus. Daarby gaan dit om ‘n kulturele saak soos Afrikaans, wat Afrikaners na aan die hart behoort te lê. Dat Le Cordeur hierdie publisiteitskans in ruime mate misbruik om politieke houe teen die blankes in te kry, skeel Die Burger min. Die “bruin stem” moet mos gehoor word en daarom word polities korrek baie dinge oorgesien.

Maar hou deurlopend dop hoe Le Cordeur in sy relaas en heeltemal teenstrydig met sy strewe na inklusiwiteit (dus rasse- en kulturele, insluitende taal-, integrasie) by implikasie en heeltemal onbedoeld ‘n sterk saak daarvoor uitmaak dat bruin- en Afrikanerkultuur liefs apart uitgeleef moet word.

Le Cordeur begin sy artikel op ‘n lekker persoonlike loslitnoot. Hy en sy vrou is nogeens deur die ATKV na die rieldanskompetisie genooi. Hy noem dat mede-bruine Danny Titus (MRK) die kultuurbestuurder van die ATKV is. Titus “probeer ons reeds geruime tyd daar kry, maar ons program is so vol dat die geleentheid nie daar was nie. Hierdie keer sou niks ons keer nie.” In Desember het Le Cordeur heel terloops opgemerk: “In die onlangse verlede het ek dikwels oorsee gereis”. Gewone mense besef nie hoe sterk die wind is wat deur ‘n werklik hoë boom getrotseer moet word nie. Omdat hy so hoog is, laat so ‘n boom hom ook nie maklik snoei om hom ‘n bietjie aarde toe te bring nie.

Die Rieldans

Die Rieldans

Die goeie nuus is dat hierdie dik spyker uiteindelik tyd gevind het om die rieldanskompetisie by te woon. Wie word in Michael se motor gelaai? “Vroulief” Sonia en “my broer Clarence en sy vrou, Jowenen”; dus nie ‘n groepie Afrikaners met flou Afrikaanse name soos Piet en Koos en Anna en Sarie nie. Le Cordeur bely: “Ek slurp die name op soos moerkoffie.”

By die monument loop Le Cordeur, naas Titus, die volgende swaargewigte raak: Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV, Ria Olivier, die projekkoördineerder van die Afrikaanse Taalraad, en Danie van Wyk, die uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Afgesien van Gouws is hulle almal bruin. Le Cordeur noem hierdie uitgelese groepie, waarby hy homself insluit, “die ‘Wie is Wie’ van Afrikaans”. Dalk eerder die “krummeltjies”? Pleks van Standaardafrikaans te bevorder, word dit as ‘n witmanstaal geëtiketteer en steun aan ‘n getransformeerde Afrikaans verleen. Le Cordeur verwys ook na die twee bruin aanbieders van die verrigtinge: Lynette Francis en Elias Nel.

Dan begin Le Cordeur met sy stekies na Afrikaners.

“Daar is ‘n lekker vibe in die gehoor. Niemand is te styf of te bang om te glimlag en te gesels nie. Jy ervaar ‘n heerlike inklusiewe gevoel; anders as by ander Afrikaanse feeste waar die gehore – ongelukkig – dikwels eksklusief wit is. Selfs die direksies – met die uitsondering van die Suidoosterfees – gaan mank aan verteenwoordiging uit die bruin en swart gemeenskappe.”

Wat Cordeur sê, is dat wanneer daar hoofsaaklik bruines teenwoordig is, hy tuis by so ‘n “inklusiewe” samekoms voel. Afrikaners word deur hom negatief, as “styf” en “bang”, gestereotipeer. Hulle word gekontrasteer met wat Jakes Gerwel in sy doktorale proefskrif (1983) die “jolly Hotnots” genoem het. Le Cordeur: “Jy voel dit aan die kielie op jou rug en die loslitgeit in jou tekkies [nie veldskoene nie]: Hier kom ‘n ding!”

Die Suidoosterfees is ‘n Naspers-uitvindsel ten bate van die uitlewing van veral bruin kultuur. Daar is geen Naspers-teenhangerfees vir wittes nie. Die soort “inklusiwiteit” wat vir Le Cordeur by die jaarlikse Suidoosterfeeste sal aanstaan, is die mengsel van Afrikaans en (al hoe meer) Engels in die aanbiedinge. Volgens die webtuiste is dié feesbestuur nie in Roggebaai of op die Kaapstadse strandgebied gesetel nie, maar op die “Foreshore”.

Sonia, Michael Le Cordeur, Adam Smal en Sylvia le Cordeur

Sonia, Michael Le Cordeur, Adam Smal en Sylvia le Cordeur

Ons word vervolgens ingelig dat die Le Cordeurs, soos dit seker hoort, hulle in die voorste gestoeltes bevind. Met verwysing na die stof wat letterlik deur die rieldansers opgeskop word, skryf Le Cordeur: “Om heel voor te sit het ook sy nadele.” Uit die name van die rieldansgroepe blyk dit dat hulle, synde van die platteland, Afrikaanse name het; dus anders as die klopse wat uit die stedelike of halfstedelike gebiede van die Wes-Kaap kom en Engelse name verkies. Vanweë sy etnies gedrewe geesdrif oorskat Le Cordeur waarskynlik die verdienste van die rieldansgroepe: “Dit sal my min verbaas as een van hierdie name eendag gehore in die Kunstekaap vermaak.” Die Kunstekaap was vooheen die Nico Malan-teater, maar Afrikanername word mos deesdae uitgevee.

“Dis die mooi van dié fees. Afrikaanse woorde en Afrikaans as taal herleef soos selde tevore.” Maar dit is blykbaar nie vir Le Cordeur moontlik om sy opmerkings tot taal en dans te beperk nie. Hy móét eenvoudig sy anti-Afrikaner-sentiment lug:

“En anders as in 1975, toe die Taalmonument ingewy is en bruin en swart mense uitgesluit was, het die knap leierspan van die ATKV en die inspirende bestuurspan van die Taalmonument gewys dat Afrikaans in sy nuwe inklusiewe gedaante die basis vir nasiebou en versoening kan vorm.”

Le Cordeur noem dit nie hier nie, maar die “nasiebou en versoening” waarna hy verwys, het onder meer ingesluit dat hierdie byeenkoms aan sy held Nelson Mandela opgedra is; nogal deur die ATKV se Japie Gouws. Hoe ver kan verloopte Afrikaners agteroor buig? En dit het gebeur by die Afrikaanse Taalmonument, ‘n plek wat vir tradisionele Afrikaners heilige grond is. Anders as die verloopte Afrikaners is dit die tradisionele Afrikaners wat (in die woorde van NP van Wyk Louw) “nie kon gebuig word soos húl [die ANC se] geweld dit wou.”

Le Cordeur verkies ‘n ander Van Wyk Louw-aanhaling:

“Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ón-helder Afrika; wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek”

Dit is moeilik om vas te stel in hoe ‘n mate hierdie woorde ter ondersteuning van Le Cordeur se standpunt vertolk kan word. Die kern van wat Van Wyk Louw sê, is dat Afrikaans wesenlik ‘n Europese taal is wat in Suid-Afrika ontwikkel het. Dit is onwaarskynlik dat daar veel ruimte vir groot nie-blanke (bv Khoi- en slawe-) invloed op Standaardafrikaans gelaat word, maar Wannie Carstens is fanatiek begeesterd om juis dit te boekstaaf.

“Die rieldans is die ideale geleentheid om brûe tussen taalgemeenskappe te bou en alle Afrikaanssprekendes te verenig.” Dit kom neer op die bekende voorskrif dat wittes, veral Afrikaners, moet verander en ander se kultuur, bv rieldans, moet omarm, maar dat bv bruines nie hoef te verander en entoesiasties oor bv boeremusiek hoef te raak nie. Le Cordeur verwys na “alle Afrikaansprekendes”, maar voorts dink hy (veral) aan bruines:

“Diegene in die suide op die Kaapse Vlakte en diegene in die noorde van Namakwaland en Boesmanland. En dalk, wie weet, kan ons begin om die magiese krag van die enigste taal wat die naam van ons vasteland dra te herontdek.”

Hoekom herontdek? Le Cordeur dink seker aan die talle bruines wat vanweë apartheid hulle rug op Afrikaans gekeer het. Tradisionele, dus nie-verloopte, Afrikaners hoef nie op so ‘n herontdekkingsreis te gaan nie. Afrikaans was en is wesenlik deel van regte of ware Afrikaners. Dit is in hulle geledere dat die “Wie is Wie” van Afrikaans in 1875, in 1975 en ook op 7 Desember 2013 gevind kan word; nie by diegene wat met ‘n mengsel van lojaliteit en dislojaliteit vorendag kom nie. Lees bv Danny Titus se rubriek oor “ons taaltjie” (Beeld/ATR 23 Desember 2013).

Le Cordeur borduur soos volg voort:

“In daardie opsig [nasiebou en versoening] is die Rieldanskompetisie dus ‘n fees wat die ware vryheid van Afrikaans vier. Maar dan Afrikaans met al sy variëteite, kleure en geure. En anders as in 1975 het die Taalmonument nou, bykans 40 jaar later, eers waarlik die doel bereik waarvoor dit aanvanklik opgerig is.”

Waarom die politieke term “vryheid” hier insleep? Daar is nie groter of “ware” vryheid vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika nie. Afrikaans is die enigste van die elf amptelike tale wat in die nuwe Suid-Afrika baie aan status ingeboet het en wat deur die ANC-regering waar en wanneer enigsins moontlik benadeel word.

Dit is ‘n wanindruk by Le Cordeur dat daar na die “bevrydingstryd” vryheid in die nuwe Suid-Afrika is. Gedwonge etniese segregasie het plek vir gewonge etniese integrasie gemaak. Le Cordeur se voorliefde vir inklusiwiteit en hibriditeit is deel hiervan. Mede-bruine Jonathan Jansen vereis van studente aan die Universiteit Vrystaat dat hulle ten gunste van gedwonge integrasie (bv van al die koshuise) moet wees en ook homoseksualiteit moet omarm (Die Burger, 20 Desember 2013, p 3). Is dit “ware vryheid”? Wat sou Jansen en Le Cordeur se reaksie gewees het as die “apartheidsregime” ideologiese vereistes aan studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestel het toe hulle daar studeer het?

“Afrikaans met al sy variëteite” is die frase wat Le Cordeur keer op keer in sy geskrifte ophaal. Dit is deel van die inklusiwiteit wat hy voorstaan. Maar hy is selektief oor waar hy die klem lê. Hy is ‘n geswore apologeet vir Kaaps en het op LitNet neerbuigend na Standaardafrikaans as “maar een van die variëteite van Afrikaans” verwys. Hierdie dik spyker oor Afrikaans ag Standaardafrikaans dus nie hoër of belangriker as Kaaps nie. Daarby doen Le Cordeur nie eens die moeite om te onderskei tussen idiomatiese, eiesoortige, vindingryke Kaaps soos Bo-Kaaps (en bv Griekwa-Afrikaans) en die morsige mengeltaal Kaaps wat met Engelse woorde besoedel is en die voortbestaan van Afrikaans bedreig nie. Klaarblyklik veroorsaak etniese hibriditeit dat bruines maklik ten prooi van taalhibriditeit val. Die onderliggende probleem is ook dat Le Cordeur se etniese verknogtheid meebring dat hy alle taalvariëteite wat bruines voortbring onkrities aanprys en propageer.

Die struktuur van die monument toon ‘n realistiese bewustheid van die bydrae wat nie-wittes tot Afrikaans gelewer het, maar nie ‘n oordrewe entoesiasme daarvoor nie. Dit is te betwyfel of Le Cordeur die doel waarvoor die monument aanvanklik opgerig is, korrek vertolk. Dit is onwaarskynlik dat in 1975 voorsien is dat rieldanskompetisies daar aangebied sou word. Die verband tussen Afrikaans en rieldans is immers nie danig direk nie. Taal en dans verskil.

Wannie Carstens (ATR)

Wannie Carstens (ATR)

Maar daar word ‘n politiek gemotiveerde poging aangewend om die bron van sowel rieldans as Afrikaans op dieselfde plek en by dieselfde mense te soek, naamlik aan die Kaap by die Khoi-San. Eerstens word veronderstel dat die Khoi-San altyd hier sou gewees het. Tweedens dat rieldans by die Khoi-San ontstaan het. Derdens dat Afrikaans ingevolge die kombuistaalhipotese simbioties-osmoties by die Koi-San en die slawe ‘n aanvang geneem het. Daar is min historiese getuienis hiervoor, maar dié soort redenasie munt uit in politieke korrektheid. Dit word dus deesdae graag in linkse geledere as die waarheid aanvaar. Waarom hierdie beweerde vindingrykheid van bruines nie ook op ander terreine weerklank gevind het nie, kan sulke apologete nie verklaar nie; of die wittes word soos gebruiklik verwyt dat hierdie bruines se inisiatiewe deur wittes weens rassediskriminasie (segregasie, apartheid) gesmoor is.

Kom ons veronderstel dat rieldans as ‘n kulturele uitdrukking van sommige Afrikaanssprekendes indirek ook Afrikaans kan dien, onder meer omdat die invloed van Afrikaanse lirieke en boeremusiek in sommige gevalle by rieldans waarneembaar is, waarmee rieldans dan inklusiewe oftewel hibriditeitstatus verwerf. Boeremusiek se verband met Afrikaans is meer direk as dié van rieldans, want daar is eksplisiete Afrikaanse lirieke wat daarmee saamgaan en Afrikaners is meer ingebed in Afrikaans as bruines; dus, Afrikaners is meer Afrikaansgetrou. Die Afrikaanse Taalmonument is myns insiens dus ‘n meer natuurlike tuiste vir boeremusiek as vir rieldans. Tog word veel eerder rieldans as boeremusiek daar aangebied. Dit dui op ‘n etnies gedrewe voorkeur by die “inspirende bestuurspan” van die Taalmonument.

Maar Le Cordeur sleep politiek by. Hy wil Afrikaans en die monument vir bv nasiebou en versoening benut; ideale waaraan die ANC lippediens betuig. Dit was sekerlik nie die doel waarvoor die monument aanvanklik opgerig is nie. Die monument het veral in die vorige eeu Afrikanernasiebou onderskraag. Die bedoeling was sekerlik nie dat hierdie monument van 1994 af ‘n bydrae moes lewer tot die bou van ‘n (fiktiewe) nasie wat deur swartes oorheers word nie. Voorheen en tans kon die monument moontlik wél ‘n bydrae lewer deur alle Afrikaanssprekendes saam te snoer.

Rieldans is volgens Le Cordeur ‘n bruikbare instrument vir sowel nasiebou as versoening. Ek dink nie boeremusiek leen hom tot sodanige politieke gebruik in die nuwe Suid-Afrika nie. Dit is waarom Le Cordeur die monument se rieldans- en ek die boeremusiekbyeenkomste bywoon. Ten spyte van al die propaganda oor inklusiwiteit, nasiebou en versoening, is daar wesenlike verskille tussen mense, insluitende etniese en kulturele (dus ook taal-) verskille. Ons moet realisties genoeg wees om dit te erken.


Wiel djy nog wonner hukom Tannie toe Auntie geworre het en djakkalas nou die koning van die diere is? – Red

icon-car.pngKML-LogoFullscreen-LogoQR-code-logoGeoRSS-Logo
Afrikaanse Taalmonument

loading map - please wait...

Afrikaanse Taalmonument -33.766094, 18.943316 Afrikaanse Taalmonument Taalmonument in die Nuus Wikipedia - Taalmonument (Afr) Wikipedia - Afrikaans Language Monument (Eng)

Boerevolk Erfenisbewaring

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za