MOTORS: Volkswagen se Nuwe Caddy

Volkswagen se nuwe Caddy bied meer

Volkswagen se nuwe Caddy bied meer

MOTORS – Volkswagen se Caddy is waarskynlik loshande die gewildste ligte afleweringsvoertuig en mensekarweier in die voertuigsegment is. Wêreldwyd is immers al 1,5 miljoen Caddy’s die afgelope 11 jaar verkoop.

Die nuwe, vierde geslag Caddy spog nou met ’n varser voorkoms danksy skerper ontwerplyne. Dit bly egter steeds getrou aan Volkswagen se kenmerkende familietrekke (DNA). Maar dit is veral aan die meestal onsigbare tegniese kant waar heelwat verbeteringe gemaak is.

Drie modelle is beskikbaar, naamlik ’n paneelwa, die sogenaamde Crew Bus vir meer kommersiële gebruik terwyl die Trendline ’n mensekarweier is. Die nuwe Alltrack sal die CrossCaddy vroeg in 2016 vervang.

Die enjins van die vorige Caddy-reeks word feitlik net só na die nuwe reeks oorgedra. Die 1.6 l petrolenjin wat in die paneelwa en die Crew Bus ingespan word se drywing van 75 kW het met 81 kW nou effe meer skop. Die twee dieselenjins van 2.0 l lewer onderskeidelik drywing van 81 kW en 103 kW en is in al die modelle beskikbaar.

Die 1.6 l (petrol) èn die 2.0 l TDI wat 81 kW lewer is toegerus met ’n vyfgang-handratkas. Die 2.0 l TDI se 103 kW word deur Volkswagen se sesgang DSG-ratkas na die voorwiele oorgedra. Die nuwe reeks spog met ’n hele rits veiligheidskenmerke soos van ’n sluitweerremstelsel (ABS), ’n elektroniese stabiliteitsprogram (ESP), ’n botsvoorkomende remstelsel, lugsakke, opdraend-wegtrekhulp en selfs uitputtingmonitering.

Vir diegene wat nie tevrede is met dit wat op die vertoonlokaal se vloer staan nie, is daar heelwat bykomende opkikkeritems soos kleurgepaste stampers en truspieëls, spoggerige 16 duim-allooiwielvellings, ’n beter klankstelsel, klimaatbeheer en spoedbeheer. Die pryse strek van R229 400 tot R391 600 (BTW ingesluit) – Afrikaanse Nuus

Namecheap