MOTORS: Toyota se RAV4 Opgedollie

Toyota se RAV4.

Toyota se RAV4.

MOTORS – In 1995 was die eerste RAV4 al ’n bekwame sand- en stoftrappers wat nogal lekker hoog op sy wiele geloop het.

Volgens Toyota is dit hy wat die sportnutsvoertuigsektor (SNV) in 1995 met sy RAV4 begin het. En nou het dié maatskappy sy gewilde RAV4 vir die nuwe jaar opgedollie sonder om aan die enjins te karring. Die maatskappy roem hom daarop dat hy die baanbreker was wat die sportnutsvoertuigsektor 20 jaar gelede gevestig het.

Die jongtse weergawe van hierdie kompakte SNV spog met ’n nuwe bakontwerp en ’n magdom verbeteringe, asook nuwe toerusting. Aan die voorkant is daar ’n nuwe dubbelvlak-sierrooster met ligdiode-kopligte, ’n nuwe buffer en nuwe modderklappe (vir die GX-model). Die nuwe voorkoms volg die Toyota se familietrekke wat ook reeds die nuwe Auris èn Yaris kenmerk.

Die agterstewe het nou (ook) ligdiode-lighulsels, ‘onsigbare’ truligte èn ’n herontwerpte bagasiedeur. Die nuwe bakwerkontwerp word met vars 17“- en 18“-allooivellings afgerond. Wat die binneruim betref, is op ’n gehaltegevoel gefokus. Die beligting, materiale en uitleg van die ratkierie-omgewing en bekerhouers is alles hersien en verbeter. Daar is nou ook ’n bêreplek vir ’n sonbril bokant die windskerm gemaak.

Die tekstuur van die afwerking is meer onderskeidend, terwyl die instrumente verbeter is met die toevoeging van ’n inligting-kleurskerm waarop onder meer inligting oor die energieverbruik vertoon word. Dit word met ’n 7”-raakskerm-multimediastelsel (net in die VX-model) gekombineer.

Dan is daar Bluetooth-werking vir handvrye selfoonoproepe, ’n trurat-kamera, voertuig-inligting soos ritdata en klimaatbeheer, asook die beheer van verstellings om die deure te sluit en ligte te beheer. Verbinding met toestelle soos ’n iPod en MP3-speler is moontlik en verstellings vir die klankstelsel (radio en CD) word deur die skerm beheer.

Aktiewe veiligheidstelsels sluit in sluitwerende remme (ABS) met remkragverdeling (EBD), noodremhulp (BA), voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) en vastrapbeheer (TRC), terwyl die modelle met aandrywing deur al vier wiele (AWD) ook VSC+ het wat VSC en die voertuig se elektriese kragstuur (EPS) inkorporeer.

Die enjins bly dieselfde, naamlik die 2.0 liter Valvematic-petrolenjin (107 kW) met die keuse van ’n sesgang-handratkas of die gevorderde outomatiese Multidrive S-ratkas wat ook met ’n sportiewe sekwensiële sewegang-skakeling spog. Die 110kW-D-4D-dieselenjin van 2,2 liter is aan ’n sesgang-handratkas of ’n sesgang outomatiese ratkas èn aandrywing deur al vier wiele gekoppel. Daar is ook ’n weergawe beskikbaar met die 132 kW VVT-i-petrolenjin van 2,5 liter wat al vier wiele deur ’n outomatiese sesgang-ratkas aandryf.

Die pryse strek vanaf R327 700 vir die intreevlak-2.0 GX tot R487 400 vir die vlagskip-2.2 D-4D VX outomatiese model (BTW ingesluit) – Afrikaanse Nuus

Boerevolk Erfenisbewaring