Minister Moet Besluit oor Eugene de Kock

Eugene de Kock

Eugene de Kock

PRETORIA – Die Noord Gautengse Hooggeregshof het beslis dat die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Michael Masutha moet besluit of die voormalige bevelvoerder van die polisie se Vlakplaas-eenheid, op parool vrygelaat sal word.

Regter Thokozile Masipa het beslis dat die minister die besluit moet neem of Eugene de Kok na twee dekades in die tronk op parool vrygelaat sal word.

Die nuwe minister moet binne dertig dae besluit oor die kwessie.

De Kock, wat in die Britsgesinde pers as Prime Evil bekend staan, is in 1996 skuldig bevind en tot twee-honderd-en-twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Verskeie vorige pogings om hom op parool te laat vrylaat, is reeds van die hand gewys.

Die Nasionale Raad vir Korrektiewe Dienste het glo ‘n aanbeveling oor De Kock se parool in November verlede jaar ontvang.

Die aanbeveling is gestuur na die destydse minister van Korrektiewe Dienste S’bu Ndebele, maar dié het versuim om ‘n tydige besluit te neem.

Ndebele se regsadviseurs het onderneem dat die minister ‘n besluit sal neem teen 12 Mei deser.

Geen besluit is gemaak voor die sperdatum nie en toe Ndebele sy kabinetspos na die Mei 7 algemene verkiesings verloor, het De Kock weer die hof genader vir ‘n beslissing.

Die voormalige polisiekolonel, wat in beheer was van ‘n eenheid by Vlakplaas buite Pretoria, is in 1994 in hegtenis geneem.

Baie van sy voormalige kollegas wat moord gepleeg het onder sy bevel het getuig in ruil vir vrywaring van vervolging.

De Kock het self in detail voor die Waarheids-en-versoeningskommissie getuig, maar is amnestie geweier omdat die moorde glo nie ”polities gemotiveer” was nie.

Die woordvoerder van die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste, Manelisi Wolela, sê hulle wag nog vir die hofbevel.

Namecheap

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za