Het die Vryheidsfront nóg 20 jaar nodig om Afrikanerselfbeskikking te Bereik?

Deur Dan Roodt

Dr Dan Roodt

Dr Dan Roodt

RUBRIEKE – Ek wou eintlik vandag so ‘n bestekopname gedoen het van waar die Afrikanerbeweging tans staan. Oor die afgelope dertien tot veertien jaar het ons geskryf, betoog, hofsake gemaak en sommige het selfs planne gemaak om die ANC-bewind gewelddadig omver te werp, of is daartoe deur staatsagente verlei. Daarvoor is vele lewenslank tronk toe gestuur tydens die Boeremagverhoor.

Ná die rampspoedige oorgawe van die De Klerk-bewind in die vroeë negentigerjare – selfs “ja”-stemmers soos ek erken nou dat dit rampspoedig was – het ons eintlik geen sentimeter gevorder op die pad na ‘n herstel van Afrikanersoewereiniteit en -vryheid nie. Vandaar die behoefte aan ‘n nuwe politieke party om met hernieude ywer daardie taak aan te pak, wat ook verklaar waarom die Front Nasionaal onlangs tot stand gekom het.

Iewers in ‘n twiet het ek Afrikaners gevra om te stem soos in die 1948-verkiesing, wat steeds een van die grootste waterskeidings in dié land se geskiedenis was. Ek het ‘n teorie dat daardie verkiesingsoorwinning deur ‘n Afrikanerparty ook die dryfveer was agter die opkoms van die kommunistiese terreurbeweging van die ANC en SAKP, omdat die gesig van Afrikaners wat weereens ‘n sê in hul eie regerig gehad het vir hulle te erg was om te aanskou. Veral die naelstring met Brittanje wat tydens Republiekwording in 1961 geknip is, het vele liberale en kommuniste tot terreur laat oorgaan. Diegene wat nie tydens die Rivonia-verhoor vir gevangenisstraf Robbeneiland toe gestuur is nie, het Londen toe verhuis van waar hulle ‘n uitgerekte propaganda- en terreuroorlog teen Suid-Afrika en veral die Afrikaner gevoer het.

Die Vryheidsfront Plus verteenwoordig ‘n kwynende politieke party wat reeds soveel teenstrydighede in sy optrede ten toon stel, dat ‘n mens seker kan verstaan dat hy vrees dat hy vanjaar sy laaste ondersteuners by die stembus mag verloor.

Terwyl Front Nasionaal hom van die begin af toegespits het om sy kritiek vir die links-liberale DA uit te hou, asook die ANC met sy toenemend anti-blanke en anti-Afrikaanse beleid, sien die VF Plus lyk my net een vyand: mede-Afrikaners wat poog om uit die dwangbuis van vergange Afrikanerrusies te ontsnap.

Daarom het die party dit goed gedink om op sy Facebook-blad sy steun toe te sê aan ‘n halfgeletterde hagiografie aan die party deur ‘n sogenaamde “lid van die publiek”, maar waarin daar ook tot verdagmakery  teen Front Nasionaal oorgegaan word.

Verskeie figure het insgelyks op Facebook oorgegaan tot ‘n aanval op my omdat ek bykans dertig jaar gelede nie diensplig verrig het nie, maar oorsee was. Asof ek mnr. De Klerk se onbekookte oorgawe in die uniform van ´n dienspligtige sou kon verhoed het! Dít, komende ná die klag wat ek namens PRAAG, Front Nasionaal en verskeie dienspligtiges van destyds teen mnr. Martin Meyer van die DA gelê het vir sy bewerings in Beeld dat die vorige regering sy weermag opdrag gegee het om swartmense in die lokasies as’t ware voor die voet dood te skiet. Manfred Delport het reeds skerp hierop gereageer, waarna verskeie praaglesers my gevra het om ‘n klag by die Persombudsman teen Beeld te lê, wat ek toe ook laat Vrydagmiddag gedoen het.

Maar – of so wil dit voorkom – as jy die Afrikaner en ons vorige weermag se reputasie wil beskerm teen onjuiste aantygings, verskaf dit rede vir ondersteuners van die Vryheidsfront Plus om jou op Facebook aan te val, soos wat ene Hester Weyers, ‘n profiel sonder foto, gedoen het.

Ek het haar soos volg geantwoord:

Hester Weyers, wil jy my gaan aankla? Op ‘n manier het ek destyds van die Weermag se rekenaar afgeval en intussen is ek Frankryk toe. Met my terugkeer in 92, het FW de Klerk al die generaals afgedank en besluit Mandela, Slovo en die ANC moet die land regeer. Dink jy ek sou dit as dienspligtige kon keer? Intussen het ek veel meer “diens gedoen” as wat jy of enigeen sou kon vermoed. Ek het twee keer persoonlik met PW Botha ure lank gesels – die destydse staatshoof – en vir hom was dit geen probleem nie. Ook nie vir genl. Constand Viljoen, genl. Chris Thirion en vele ander nie. Al waarmee jy besig is, is om vlieë af te vang. As jy enige politieke vrae of argumente het, luister ek vraag. Maar hou op om ou koeie uit die sloot te grawe en vlieë af te vang wat ons vandag – 30 jaar later – niks in die sak bring nie.

Aanstons het dr. Corné Mulder, broer van Pieter Mulder en sy regterhand in die party – daar is nie minder as drie Mulders op die VF Plus se uitvoerende dagbestuur nie – tot die relletjie op Facebook toegevoeg:

Hierdie post is geplaas onder die naam Front Nasionaal, maar dit klink dan vir my soos Dan. Dit is soos die gedeelte in Genesis 27 vers 22 waar Isak vir Jakob onwetend se: “Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.” Kan ek dus ook aanvaar dat hierdie skrywer namens Front Nasionaal ook die een is wat die bewering gemaak het dat die VF Plus selfbeskikking uit sy grondwet verwyder het? Laasgenoemde is natuurlik ‘n blatante leuen.

Waarop ek gereageer het deur te sê:

Beste Corne Mulder, dit was wel ek (Dan Roodt) wat hier bo geskryf het oor die dienspligkwessie. Hier is wel verskeie mense wat soms op die blad namens Front Nasionaal skryf en partykeer noem hulle hul name en ander kere nie. Dit was beslis nie ek wat beweer het dat die VF+ “selfbeskikking uit sy grondwet verwyder het” nie.

Wel meen ek dat die selfbeskikkingsbegrip afgewater is, veral toe die begrip “volk” uit die missie van die VF gehaal is en met “gemeenskap” vervang is, want daarmee verval ‘n groot deel van die Afrikaner se volkeregtelike aansprake op selfbeskikking. Daar is in SA duisende “gemeenskappe” van allerlei aard en elkeen kan sekerlik nie aanspraak op selfbeskikking maak nie. Verder is Pieter Mulder op rekord dat hy al verskeie kere gesê het dat sy party “steeds selfbeskikking ondersteun, maar nie vir nóú nie”. Só ontstaan die vraag: Maar vir wanneer is dit dan?

Demografies gaan ons jaar na jaar agteruit en dit sou onvoorstelbaar wees dat ons byvoorbeeld in 2025 (oor slegs 11 jaar!) selfbeskikking sou kon verkry indien ons teen daardie tyd tot ‘n skamele een of twee persent van die SA bevolking gekrimp het. As mense dus vir my vra wat die verskil tussen die VF+ en die FN is, dan sê ek: eersgenoemde wil oor 20 jaar selfbeskikking hê en ons oor 20 maande! Trouens, mnr. Jaco Mulder (provinsiale leier van die VF+ in Gauteng) het eenkeer op ‘n baie pessimistiese noot verkondig dat daar oor een geslag net een miljoen Afrikaners in die land gaan oorbly. Indien die SA bevolking teen daardie tyd weereens verdubbel het tot 100 miljoen, sou dit beteken dat ons slegs een persent van die totale bevolking sou uitmaak! Soos dit vir my lyk, bied die VF+ sterwensbegeleiding vir die Afrikaner deur hom met ‘n droom van “Eendag…” te sus, terwyl ons in die hier en nou vryheid wil sien.

Mulder het weer teruggekap met die volgende:

Beste Dan Roodt, dankie vir jou erkenning dat dit nie jy was wat die onwaar stelling oor die VF Plus en selfbeskikking gemaak het nie. Wees asb so vriendelik en bring die korrekte feite onder die mede skrywers van Front Nasionaal se aandag. As daar met so n belangrike saak so n blatante fout gemaak word, kan dit net sowel met verskeie ander standpuntstellings ook gebeur. Ek is jammer Dan maar jou stelling dat Pieter Mulder op rekord is dat hy al verskeie kere gesê het dat sy party “steeds selfbeskikking ondersteun, maar nie vir nóú nie”, is ongelukkig ook onwaar. Dit was en is nog nooit sy of die VF Plus se standpunt nie. Daar is nog altyd gese dat dit ‘n proses verg om by volle selfbeskikking uit te kom. Vryheid is nie iewers op die rak en dan haal jy dit net gou daar af nie. Ons kan lang debatte voer oor hoe ons selfbeskikking gaan verkry en bereik, maar dis nie waar dat die VF Plus of Pieter Mulder ooit gese het, ons wil selfbeskikking he, maar nie nou nie.

Hierop het ek soos volg geantwoord:

Jy weet so goed soos ek jou broer Pieter het dit by verskeie vergaderings van die VF+ al gesê. Maar jul rekord spreek vanself: Ná 20 jaar is daar nog geen sentimeter gevorder nie. Dis soos die grappie oor Mugabe: Hy doen uitstekende werk betreffende Zimbabwe se ekonomie; hy het net nog meer tyd nodig. Die VF+ is eintlik ‘n paradoks: ‘n party met ‘n taamlik radikale beleid (separatisme) maar met ‘n kultuur van versigtigheid en om tog nie aanstoot aan die regerende ANC te gee nie. Wat was nou weer die term wat die party daarvoor uitgedink het? “Samewerkende opposisie”?

‘n Ander gesiene Afrikanerintellektueel het my eenslag daarop attent gemaak hoe hierdie kultuur van versigtigheid ook neerslag vind in feitlik elke onderhoud of toespraak van die party, met taalgebruik soos: “dié kant toe en daai kant toe” of “versigtig tussen die klippers deur”. Hoe op aarde gaan ‘n groepie taamlik bejaarde mans wat elke kritiese stem in die party met ‘n vinnige skorsing stilmaak en verder net oor hul eie posisies begaan is, ooit daarin slaag om vir die Afrikaner vryheid te bewerkstellig?

Indien ek die tyd gehad het om so te verspil, sou ek ‘n boek kon skryf oor die kultuur van risikovermyding in die VF+. Deur geen risiko’s te neem nie, het die party gestagneer tot op hierdie punt waar slegs ‘n aantal lojale ondersteuners uit die tyd van die KP dit nog blindelings volg. Eintlik teer die VF+ steeds op die KP en verteenwoordig dit ‘n splintergroep uit die verlede wat geen vernuwing ondergaan het of selfs wíl ondergaan nie. Nóg wat idees, nóg wat sy leierskap betref.

Dit herinner my aan ‘n beeld wat die skrywer V.S. Naipaul in sy roman “A bend in the river gebruik”: die VF is soos ‘n ster – honderde ligjare ver – wat reeds dood is, maar waarvan die lig ons nou eers bereik en die indruk wek dat daar nog iets doer ver is wat skyn! Die Afrikaner het sy rug teen die muur en verloor al hoe vinniger veld op elke moontlike gebied: taal, kultuur, onderwys, in die ekonomie deur regstellende aksie, demografies deur emigrasie. Intussen speel die VF+ politiek-politiek… veral klein politiek, dié van agteraf koukus en baantjies vir boeties, asof ons nog in die geil tyd van Afrikanermag en -oorvloed verkeer.

Die ongelooflike is dat Corné Mulder nou ontken dat Pieter Mulder ooit so iets gesê het, dat “selfbeskikking nie vir nou is nie”. Hy skryf op Facebook:

Beste Dan jy het ‘n stelling nogals in aanhalingstekens gemaak dat Pieter Mulder ten gunste van selfbeskikking is “maar nie nou nie”. Ek was by alle relevante VF Plus vergaderings. Ek stel dit kategories aan jou dat wat jy hier sê dood eenvoudig onwaar is. Dit is nog nooit gese nie en dit was en is nog nooit nie die VF Plus se standpunt nie. Dit bekommer my werklik dat jy so n onwaarheid kan kwytraak en dan daarna jou argument daarop probeer bou. Nie goed genoeg nie…jammer.

Hier het ek weereens die punt herbevestig, want tensy my en ander se ore in die vertrek ons bedrieg het, het Pieter Mulder dit wel gesê:

Ek gaan nie nou deur al die ou notules blaai om dit op te spoor nie, maar ek is seker ander mense sal dit ook onthou. Maar bewys dan die teendeel van my stelling dat daar in 20 jaar nog niks gevorder is wat Afrikanerselfbeskikking betref nie? En dis nie net ek wat dit sê nie: dis die publiek daarbuite wat dit aanmekaar vir my sê! Of het julle nóg 20 jaar nodig?

Elders op Facebook het ‘n ander Vryheidsfront-ondersteuner, ene Marietjie Schoeman Blignaut, kommentaar gelewer op die volgende foto van Front Nasionaal-kandidate wat ek op my muur geplaas het.
Bestuur van Front Nasionaal

Bestuur van Front Nasionaal, tesame met enkele kandidate

Nêrens was daar enige verwysing na die Vryheidsfront Plus nie. Nietemin het sy my daarvan beskuldig dat ek die VF Plus “aanval”. Ek dink nie enigiemand hoef die VF Plus aan te val nie, want hy vernietig homself deur soveel logiese teenstrydighede in sy beleid en optrede op te stapel dat min mense dit nog ernstig opneem. Hoe kan ‘n mens byvoorbeeld op twee stoele sit en tegelykertyd saam met Kortbroek in die ANC-regering dien, maar ook saam met die liberale DA-opposisie die ANC probeer kritiseer? Om nie te praat van die jongste groepering waarin die VF Plus hom bevind nie, wat selfs die radikale swart nasionalistiese PAC met sy geskiedenis van terreur teen blankes insluit nie!

Soos ek dit verder aan haar gestel het:

Marietjie Schoeman Blignaut, ek val jul nie aan nie. Dis julle wat skakels na halfgeletterde hagiografieë aan die VF Plus op my Facebook-muur kom plak waarin daar boonop vuige aanvalle op die Front Nasionaal geloods word wat niks met politiek of enige meningsverskil te make het nie, maar bloot bedoel is om ons verdag te maak!

Vertel jy my egter wat Pieter Mulder vir die Afrikaner bereik het ná twintig jaar in die parlement en vyf jaar in die ANC-regering? Die man sit op twee of meer stoele! Ek was by toe hy met smaak vertel het hoe hy in die toilet gaan wegkruip as hulle foto’s van die ANC-kabinet neem, want hy is bang sy eie ondersteuners kom agter waar hy hom in werklikheid bevind. In die party verwys almal mos na hom as “Die Leier” – wat in Duits as “Der Führer” vertaal… Watse soort Führer is dit wat wil “kamerverlaat” as hy bietjie sy gesig moet wys en sy poliieke kaarte op die tafel moet sit deur te erken dat hy adjunkminister van landbou is?

Nog iets: nou onlangs het der Führer se onmiddellike hoof, Tina Joemat-Pieterson, die landbouminister, uitgevaar teen blankes in die Wes-Kaap wat nog oor visvangpermitte beskik. Dermate dat ‘n Indiër, ene Shaheen Moolla, haar van “rassisme” beskuldig het. Maar der Führer, Pieter Mulder, sprak g’n sprook… Miskien het hy eers bietjie gaan kamerverlaat?

Volgens Marietjie het hy “alles feil vir ons blankes”. Dis ‘n taamlike verspreking, want ‘n feil is juis ‘n fout soos in die woord “feilloos” wat “sonder fout” beteken. Om “jou lewe veil te hê” vir ‘n saak, beteken egter om gereed te wees om alles op te offer. Wat het Pieter Mulder al opgeoffer? Sy adjunkministersalaris? Selfs ‘n Indiër spreek hom uit teen Joemat-Peterson se anti-wit rassisme, maar nie Mulder nie, want dit sou te veel van ‘n risiko vir sy eie belange behels. Dus eerder feil as veil!

Dit wil my voorkom asof die Vryheidsfront Plus dit veel makliker vind om mede-Afrikaners aan te val wat hy meen sy krimpende steunbasis bedreig as om in die Engelstalige wêreld van die DA en ANC daardie partye op hul denkfoute en vergissings, asook vedrukking van die Afrikaner se taal, kultuur en vryheid, te wys. Dit is hierin waarin verskeie PRAAG-aktiviste nog altyd uitgemunt het, met ons deelname op sosiale media aan nasionale debatte waar ons die Afrikanersaak, waaronder die noodsaak vir selfbeskikking, onverskrokke stel.

Front Nasionaal se bestuur

Front Nasionaal se bestuur

Ook Front Nasionaal wil waarlik op nasionale en internasionale vlak die magdom argumente ten gunste van Afrikanerselfbeskikking stel. Indien ons daarin kan slaag om ‘n paar honderdduisend stemme te kry, kan ons binnekort kulturele selfbeskikking verwesenlik. Daarna kan ons, moontlik tydens die munisipale verkiesings van 2016, selfbeskikking op plaaslike vlak verkry en ons ou dorpe en stede terugkry deur artikel 235 van die Grondwet en die volkereg te gebruik. Al die werk wat ons die afgelope twee jaar gedoen het rondom kantons, tesame met mnr. Jaap Kelder se Nasionale Belstingbetalersunie en die Strategiese Komitee van Afrikaanse organisasies, kan dan vrugte afwerp en ons kan die juk van ANC-munisipaliteite van ons afwerp.

As ons kultuur eers vry is en ons regeer onsself op plaaslike vlak, kan ‘n uiteindelike onafhanklike volkstaat of republiek ver uitbly?

Die tyd is nóú, nie oor 20 jaar nie!

Virtuele Bier

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za