Henrico van Rooyen: Seun se Versoek

Henrico van Rooyen

Henrico van Rooyen (5)

SEUN SE VERSOEK – Henrico van Rooyen is die enigste kind van Monica en Hennie van Rooyen. Dokters beskryf sy geboorte as ‘n wonderwerk aangesien Monica kanker gehad het. Henrico was skynbaar ‘n fris en gesonde seuntjie by geboorte van 4.2 kg en was ‘n allemintige 53cm lank. Op 19 September 2014 gaan sien Hennie en Monica vir Dr Engela Honey, wat bevestig dat Henrico Neurofibromatose Tipe 1 (NF 1) het.

Die genetiese defek vir NF 1 is op Chromosoom 17 ontdek, en verdere toetse moet gedoen word wat nie in Suid Afrika beskikbaar is nie, maar wel in die VSA. Daar is onder andere reeds ‘n MRI van Henrico se spinale koord gedoen, wat skoliose bevestig en verdwyning van die spinale kanaal toon. Die MRI van die spinale koord sal jaarliks opgevolg moet word, met ‘n verdere aanbeveling van medici dat ‘n MRI van Henrico se brein so gou moontlik gedoen moet word, maar veral indien hy hoofpyne sou ontwikkel. ‘n Spesiale oogtoets is ook aanbeveel om te bepaal of vergroeisels dalk in sy oë voorkom.

Daar is onlangs bevind dat Henrico se siekte vinniger versprei het as wat verwag is. Henrico se rug, wat weens skoliose 20 grade uit was, het versleg na 30 grade. Daarom het sy linker skouertjie begin hang terwyl sy handjies se spiere onder-ontwikkel is. Hy sal nou bedags ‘n rugstut moet dra. Indien sy ruggie nie reg trek nie en versleg, sal hy ‘n operasie moet ondergaan om te verhoed dat sy longe plat druk, en hy kan ook verlam raak.

Die mediese fonds erken ongelukkig nie hierdie seldsame siekte nie, en derhalwe moet Henrico se mediese behandelings in kontant betaal word. Tans benodig Henrico ongeveer R60 000 vir onmiddellike mediese uitgawes, uitgesluit die toetse wat in die VSA gedoen moet word en die jaarlikse mediese uitgawes vir opvolg behandelings en toetse.

Met die regte mediese behandeling, sal Henrico egter ‘n redelik normale lewe kan lei tensy iets drasties skeef loop. Die Henrico van Rooyen Trust is in die lewe geroep om hom by te staan met sy lewenslange mediese uitgawes. Die trust se bankbesonderhede volg hierna indien daar persone is wat hom graag finansieel wil ondersteun. Selfs R10 kan ‘n reuse verskil maak indien daar genoeg persone is wat hierdie trust ondersteun.

BANKBESONDERHEDE
Henrico van Rooyen Trust
Nedbank
Drie Riviere
Rek no: 17833700
Tipe Rek: N-5000-Rek

Dankie vir almal se gebede, julle liefde en ondersteuning. Dit beteken die wêreld vir ons. Kom loer gerus in op Henrico van Rooyen Trust se Facebook blad waar ons gereeld terugvoer aan die publiek verskaf.

Baie liefde
Monica, Hennie, Henrico en sy familie

Omtrent die skrywer

Redakteur

Afrikaanse Nuus is jou aanlyn koerant !! Sluit by ons aan en skryf oor die verwikkelinge binne jou plaaslike gemeenskap.