Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

deur Leon Lemmer

Dr. Gerda Odendaal, nadoktorale navorsingsgenoot van die Universiteit van Stellenbosch

Dr. Gerda Odendaal, nadoktorale navorsingsgenoot van die Universiteit van Stellenbosch

In sy eerste rede as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2012 het Wannie Carstens getoon hy is ‘n mens van die oomblik deur na uitdagings te verwys en die laertrekmentaliteit af te keur. Hy het genoem dat die Akademie die gehalte van Afrikaans wil bevorder, maar hiervan het nog absoluut niks in bv die Afrikaanse Taalraad (ATR) tereg gekom nie.

Toe hy sy voorsittersrede in 2013 gelewer het, was Carstens meer rammetjie-uitnek. Die Akademie gaan die foute en ongeregtighede van die verlede regmaak en volwaardig deel van die nuwe Suid-Afrika wees. Daarom gaan transformasie daadwerklik bevorder word. Dit sluit teenkanting teen wit mans in deur te buig voor die demografiese profiel wat betref ras, geslag en ouderdom. Die sug na diversiteit en inklusiwiteit word deur hom sonder meer aanvaar. (Die teks van hierdie twee voordragte is op die webwerf van die Akademie beskikbaar.)

Wannie Carstens

Wannie Carstens

Dit is die agtergrond vir die byeenkoms van die Akademie en die ATR wat op 17 deser in Garsfontein, Pretoria, onder die vaandel van “Afrikaans: Almal se taal!” gehou is (Beeld, Die Burger, ATR-webwerf, 18 Jan). Om die ideaal van inklusiewe Afrikaans te bevorder (en om in die proses besorgdheid oor die gehalte van Afrikaans links te laat), was dit natuurlik nodig om die vier sprekers (twee wit en twee bruin) sorgvuldig uit te soek. Suiwer demografies is die Akademie se ideaal sekerlik om vorentoe by sulke geleenthede ‘n oorwig nie-wit sprekers uitsluitsel oor die lot van Afrikaans te laat gee. Daar sal demografies/demokraties seker nie toegelaat word dat hierdie ideaal verwater word deur die veel groter en meer substansiële bydrae wat wittes/Afrikaners tot Afrikaans gelewer het nie.

Die twee bruin sprekers was die opvoedkundige Michael le Cordeur en die taalkundige Frank Hendricks. In albei voordragte is Carstens se ideale ondersteun. Die twee wit sprekers was Ernst Kotzé en Gerda Odendaal. Teen Kotzé het ek geen wesenlike beswaar nie. Hy het reeds lofwaardige taalkundige werk gedoen. Ek het gehou van sy skynbare onwilligheid om die nie-akademiese Mandela-naam te aanvaar deur voort te gaan om sy werkplek die Universiteit Port Elizabeth te noem. Die res van my skrywe handel oor Odendaal.

Dit behoort gou duidelik te wees waarom

Michael le Cordeur

Michael le Cordeur

Odendaal (afgesien daarvan dat daar uit vier sprekers demografies eintlik twee vroue móét wees) as spreker genooi is. Haar taalkundige en politieke standpunt pas die Carstens-Akademie en die ATR soos ‘n handskoen. Ek verlaat my op twee inligtingsbronne. Albei is te vinde op die Universiteit Stellenbosch (US) se SLiP (Stellenbosch Literary Project). Hierdie voorkeur vir ‘n Engelse benaming is kenmerkend van die Botman-US. Odendaal se eerste teks is in Engels.

As lesers na Nelson Mandela se dood na die US-webwerf gegaan het, sou hulle seker nie hulle oë geglo het nie. Afgesien daarvan dat ‘n mens via die Engelse webwerf by die een in Afrikaans uitkom (pleks van andersom), was die heel eerste skakel of naslaankeuse “Madiba”. Dit kon seker niks anders as ‘n Botmanistiese foefie wees nie. Hierdie skakel is intussen verwyder. In die plek daarvan heet Botman op ‘n video die nuwe Maties welkom teen die agtergrond van ‘n prominente Mandela-foto. Russel Botman, die US-rektor, het blykbaar op eie inisiatief Mandela postuum tot die US se beskermheilige verklaar.

Leopold Scholtz

Leopold Scholtz

Botman klou naïef vas aan die valse ná-1989-beeld van Mandela as “die wyse, versoeningsgesinde, vriendelike oupa van die nasie”. Leopold Scholtz vestig uiteindelik ook die aandag op die vroeëre militante marxistiese Mandela (Die Burger, 31 Jan, p 14). Scholtz kon gerus anti-blank by sy karakterisering van Mandela gevoeg het. As ANC-aktivis sal Botman voortgaan om sy akademiese posisie tot voordeel van sy politiek te misbruik, tensy die US-raad hom, verkieslik met ‘n ultimatum, tot orde roep. Uit sy eie sal Botman nie hoor nie. Hy het die spreekwoordelike haas in sy oor. Sy legkaart bestaan uit net een stuk en dit is die ANC. Die komitee van universiteitshoofde behoort ook sodanige politieke vrypostigheid en absolute gebrek aan ideologiese neutraliteit te verbied, maar dit is ‘n ydele hoop.

Ek het die Madiba-skakel op die US-webwerf gebruik om te lees oor wat Mandela te sê gehad het oor die etniese samestelling van die US (klaarblyklik studente en personeel), naamlik dat dit die demografie moet weerspieël. Ook dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaal moet word: “Die belangrikste uitdaging vir die US is om weg te beweeg van die bevoordeling en bemagtiging van die Afrikaner-minderheid.” Daar kan myns insiens geen twyfel wees nie dat Botman alles in sy vermoë doen om aan Mandela se wens te voldoen.

Gaan gerus ook die huidige personeelsamestelling van die departement Afrikaans en Nederlands op die US-webwerf na. Dit is die departement waarin hoogleraars soos Willem Kempen en Meyer de Villiers in taalkunde en WJ du P Erlank (Eitemal), WEG Louw en Dirk Opperman in letterkunde eens dosente was. In die afdeling Afrikaans van die fakulteit opvoedkunde was daar dosente soos Ernst van Heerden en Hennie Aucamp. Besin oor hoeveel akademiese skade aangerig word as dosente aan die Botman-US in groot mate ingevolge nie-akademiese oorwegings (etnisiteit en geslag) aangestel word. Op die vlak van professor het daar net een wit man as voltydse professor in die departement Afrikaans oorgebly en hy tree eersdaags af. Dit is wat gebeur as geswig word voor die ANC-dogma dat almal wesenlik gelyk of eenders is; dus dat mans en vroue, asook wittes en nie-wittes, sonder skade uitruilbaar is.

In hierdie milieu was Odendaal ‘n student. Die ATKV het in 2010 ‘n studiebeurs van R20 000 aan haar toegeken. In 2012 het sy ‘n doktorale proefskrif voltooi: Die herstandaardisering van Afrikaans: ‘n Praktiese benadering met die AWS [Afrikaanse Woordelys en Spelreëls] as gevallestudie. Odendaal se standpunt stem ooreen met dié van Magdaleen Kruger, die hoof van RSG. Kruger beywer haar vir transformasie, sodat RSG nie ‘n “ou, wit stasie” moet wees nie. Standaardafrikaans is een van die dinge wat volgens Kruger moet verander. Afrikaans moet glo geherstandaardiseer word; “teruggegee” word aan die eerste praters van hierdie taal, naamlik die bruines.

By sowel Odendaal as Kruger is daar ‘n groot skeut linkse (spesifiek ANC-) politiek. Oor Kruger se politiek het ek voorheen geskryf. Hierdie keer beperk ek my teks tot Odendaal s’n. Sy is blykbaar nou ‘n dosent in die US se departement Afrikaans. Soos haar kollegas sal sy sekerlik ook polities korrek in gebreke bly om Botman se beleid van verengelsing openlik teen te staan. Odendaal se politiek blyk duidelik uit haar huldeblyk aan Neville Alexander en ook uit haar pleidooi vir die herstandaardisering van Afrikaans.

In die nuwe Suid-Afrika het dit mode geword om gewig aan ‘n Afrikaans-argument te gee deur na Alexander se verwys. Sy cv word as onbesproke geag omdat hy ‘n dekade lank op Robbeneiland aangehou is. Niks negatiefs word deur Odendaal oor hom geuiter nie. Dat hy oor Afrikaans in Engels gepraat en geskryf het (soos Jakes Gerwel wat sy intreerede as hoogleraar in Afrikaans in Engels gelewer het), word nie genoem of teen hom gehou nie. Dit is vir Odendaal voldoende dat Alexander pleks van ‘n werklike pleitsbesorger vir Afrikaans veel eerder ‘n voorstander van moedertaalonderrig en meertaligheid was. Wat Alexander betref was Afrikaans maar net een van die tale wat in Suid-Afrika aangetref word en sekerlik nie sy taal van voorkeur nie.

Odendaal noem Alexander ‘n “idol”; as iemand wat die wêreld ‘n bietjie beter agtergelaat het. Hoe het hy dit reggekry? Deur hom met “political activism” via die bevordering van “guerrilla warfare” vir “South Africa’s democratic revolution” te beywer. Alexander was ‘n marxis en ‘n “revolutionary activist” en lid van Steve Biko se radikale Black Consciousness Movement. Met so ‘n getuigskrif het hy ‘n buitengewone professor in die US se departement Afrikaans en Nederlands geword. Dit moet ‘n mens wees wat nie die onbeskaafdheid van die “bevrydingstryd” se bomme en landmyne, van mense wat lewendig verbrand is, ens, beleef het nie, wat vir so ‘n stryder net bewondering kan hê. As Odendaal naasbestaandes weens hierdie misdadigers se optrede verloor het, sou sy ‘n ander deuntjie gesing het. Gelukkig erken sy haar onkunde: “Being part of the ignorant youth …” Hierdie mense word gevoer op ‘n dieet waarvolgens apartheid ongoddelik sleg was en Mandela en sy kamerade nooit ‘n vlieg skade aangedoen het nie. Ek verpes dit ook as iemand van ‘n “so-called Coloured” praat of skryf. Daar is werklik ‘n gekleurde of bruin etniese groep.

Oor taal skryf Odendaal dat Alexander dit teen die “racialisation of Afrikaans as belonging to any group of speakers” gehad het. Soos dat Afrikaans aan die bruines “teruggegee” moet word, soos Magdaleen Kruger wil doen? Alexander wou al die Suid-Afrikaanse swart tale harmonieer (seker tot een taal konsolideer) en Afrikaans omvorm tot “a language of reconciliation, restitution [teruggee?] and nation building”. Lees gerus die teks van Alexander se voordrag wat heel gepas op die webwerf marxists.org te vinde is. Oor Standaardafrikaans skryf hy: Nasionalistiese Afrikaners “fabricated it as a deliberately racially exclusive way of speaking, writing, feeling, thinking and communicating.” Daarteenoor het die aktivis Alexander die gebruik/misbruik van taal vir sy en die ANC se politieke oogmerke bepleit.

Ek kom nou by die kern van Odendaal se taalkundige standpunt, naamlik die herstandaardisering van Afrikaans, soos gevoed deur haar linkse politiek. Ek gebruik Pieter Odendaal se opsomming van Gerda Odendaal se lesing, want dit is heeltemal onprakties om die hele proefskrif hier te bespreek. Die begrip “standaardtaal” word glo deesdae bevraagteken. Taalstandaardisering word na bewering “altyd” deur ideologiese oorwegings gedryf. Die elite verhef glo dikwels hulle taalvariëteit tot die standaardtaal om daarmee ten koste van die res hulle eie belange te dien. Sy erken vervolgens dat ‘n standaardtaal voordele het: “Dit dien as ‘n medium vir bo-dialektiese en geskrewe kommunikasie, hoërvlak-beroepsbeoefening en algemene sowel as tweedetaal onderrig. Dit is ook die taal van die media en besit ook ‘n ideologiseringsfunksie wat help om groepsolidariteit onder ‘n spraakgemeenskap te bewerkstellig.”

Odendaal bepleit ‘n herstandaardisering van Afrikaans en gryp daarvoor terug na Alexander se taalharmonisering om eenheid tussen die variëteite van Afrikaans te bewerkstellig. “Dit gaan gepaard met die demokratisering van ‘n taal, ‘n respek vir taaldiversiteit en die erkenning van die fundamentele gelykheid wat elke taalvariëteit behoort te geniet.” Hier is sy dik in die politiek in. Sy maak gewag van die “demokratiese samelewing … waar die grondwet gelyke mense- en taalregte aan almal waarborg.” Sy noem natuurlik nie dat wittes mindere menseregte as nie-wittes in die nuwe Suid-Afrika het nie, bv dat daar suiwer etnies/rassisties teen wittes (en net wittes) gediskrimineer word. Sy verswyg ook om te meld dat Afrikaanssprekendes in die praktyk nie naasteby gelyke/dieselfde taalregte as Engelssprekendes het nie.

By sowel mense as tale en taalvariëteite is gelykheid myns insiens ‘n gevaarlike mite. Daar is geen noemenswaardige “eenheid tussen die variëteite van Afrikaans” moontlik nie. Daar is ook nie “fundamentele gelykheid” by taalvariëteite nie. Hulle is bloot gelyk in die sin dat hulle almal in die werklikheid aangetref word. Hulle verskil en is fundamenteel ongelyk in die sin dat party net gepraat en ander sowel gepraat as geskryf word. Sommige variëteite is net (of hoofsaaklik) vir laer funksies geskik, terwyl ander ook hoër funksies (bv in die akademie, wetenskap, ens) kan vervul. Hierdie “laer” en “hoër” dui op klipharde feite al is sodanige onderskeid heiligskennis in ons “jong demokrasie”. Nog ‘n duidelike geval van ongelykheid is dat sommige variëteite van Afrikaans (bv Standaardafrikaans) as verskansing teen die ondergang van die taal kan dien, terwyl ander variëteite (soos die mengeltaal Kaaps) die oorheersing van Engels en die ondergang van Afrikaans sienderoë bevorder.

Na Odendaal se beoogde herstandaardisering sal mense steeds verskillende Afrikaanse taalvariëteite praat. Daardie hergestandaardiseerde Afrikaans kan in die praktyk minder geslaagd as die huidige Standaardafrikaans wees om verskille in die variëteite mettertyd af te skaal. Herstandaardisering kan ook onnodige verwarring skep oor wat amptelik aanvaarbaar is en gevolglik sommige Afrikaanssprekendes vervreem. Waarmee Odendaal besig is, is om (soos Alexander in die politiek gedoen het) teen evolusionêre taalverandering te wees en die revolusionêre verandering van Standaardafrikaans te bepleit. Dit geskied met dieselfde destruktiewe en anti-wit- (veral anti-Afrikaner-) gesindheid as bv die verandering van plekname in die nuwe Suid-Afrika.

Dat Odendaal se pleidooi polities gemotiveerd is, is duidelik. Tog beweer sy dat dit nie so is nie; dus dat haar herstandaardisering ‘n “fokusverskuiwing van ideologiese na normatiewe taalbeplanning” is. Hierdie beplanning gaan glo van bo na onder én van onder na bo plaasvind: “taalinstansies en die spraakgemeenskap op voetsoolvlak moet by die herstandaardisering van ‘n taal betrokke wees”. Wat waarskynlik in die praktyk sal gebeur, is dat ‘n paneel van “kenners” saamgestel sal word. Hierdie paneellede sal nie soseer taalkundig opgewasse vir die taak wees nie, maar hulle sal polities korrek (dus volgens die demografie en gevolglik met ‘n “demokratiese” oorwig van nie-wittes) uitgesoek word. Hulle sal dan poog om Standaardafrikaans sover moontlik te ontwit, veral te ont-Afrikaner. Die gepeupel sal, soos in die politiek, hulle deur hierdie “kenners” laat voorsê en manipuleer sonder om ‘n sinvolle voetsoolbydrae te lewer.

“Herstandaardisering is die doelbewuste hersiening van die vorm, funksie en status van ‘n standaardtaal in ‘n poging om ‘n bo-dialektiese taalvorm daar te stel wat verteenwoordigend is van die hele spraakgemeenskap. Die behels gewoonlik dat een of ander ongeregtigheid in die taalgemeenskap reggestel word, deurdat die standaardtaal meer inklusief gemaak word om daardeur diegene wat voorheen benadeel of onderdruk is, te bemagtig.”

Hier is Odendaal se “fokusverskuiwing van ideologiese na normatiewe taalbeplanning” heeltemal afwesig. Dit is ‘n mite dat haar herstandaardisering verteenwoordigend van “die hele spraakgemeenskap” gaan wees, verkeerde dinge gaan regstel, werklik “inklusief” gaan wees en sommer ook gaan “bemagtig”. Dit gaan net so min waar van ‘n nuwe Standaardafrikaans wees as van die huidige grondwet en die nuwe volkslied en landsvlag. Die essensie van die ANC se beleid en van Odendaal se pleidooi is transformasie, dus eerder verandering as verbetering.

Odendaal bevestig dat dit (veral) bruines is wat op die herstandaardisering van Afrikaans aandring; dus dat Afrikaans nog ‘n terrein is waar hulle benadeel is. In hierdie konteks gebruik Odendaal die term “diglossie”. Die betekenis van hierdie woord word soos volg in die HAT verduidelik: “Vorm van tweetaligheid wat daarin bestaan dat daar ‘n hoër en laer vorm van dieselfde taal voorkom, een vir formele en een vir informele gebruik.” Standaardafrikaans is kennelik ‘n hoër en Kaaps ‘n laer vorm van Afrikaans. Maar dit is hierdie onomstootlike werklikheid wat Odendaal wil verander, want alle taalvariëteite word deur haar gelyk geag en hulle moet, indien nodig, gelyk geploeg word.

Sy kom met die argument dat by diglossie die standaardtaal van die omgangstaal vervreemd is; dat die standaardtaal nie meer deur die omgangstaal gevoed word nie. Taaldestandaardisering en taalsterfte kan hierop volg. Die punt is egter dat daar ‘n enkele Standaardafrikaans en verskeie gesproke variëteite is. Daar is altyd gapings tussen ‘n standaardtaal en minstens sommige van sy variëteite. Deesdae hoor ‘n mens die argument dat niemand Standaardafrikaans praat nie. Dit is ‘n uiting van dislojaliteit teenoor Standaardafrikaans. Dit is ook ‘n onjuiste stelling, want ek (en sekerlik ander) poog om altyd Standaardafrikaans te benut. Daar moet ook in gedagte gehou word dat die term “standaardtaal” in die plek van die polities inkorrekte “algemeen beskaafde taal” gekom het. Dit is ‘n feit dat mense individueel en groepgewys in hulle graad van beskaafdheid verskil. In die nuwe Suid-Afrika, anders as in die oue, word die woord “beskawing” egter selde gebruik.

Standaardafrikaans is nader aan sommige van sy gesproke variëteite as ander en word steeds deur hulle gevoed. Maar Standaardafrikaans is ver verwyderd van die mengeltaal Kaaps, wat net deels Afrikaans is. Uit die nie-Afrikaanse deel van Kaaps moet die standaardtaal liefs nie gevoed word nie. Maar Odendaal se teenargument is dat mense wat hierdie mengeltaal praat verwyderd van Afrikaans voel en hulle dan tot Engels wend. Hierop kan ‘n mens antwoord dat hulle hulle ook met vrug tot Afrikaans kon wend, wat uit die moedertaaloogpunt ‘n makliker weg sou wees.

“Odendaal het drie redes vir die diglossiese situasie in Afrikaans geïdentifiseer: die vernederlandsing van Afrikaans tydens die ontwikkeling van Standaardafrikaans in die laat negentiende eeu; die miskenning van die invloed van Engels op Afrikaans; en die miskenning van ander Afrikaanse variëteite.” Ek dink nie die invloed van Engels word misken nie. Dit word erken, maar daar is ook die gesonde besef dat Afrikaans deur Engels oordonder kan word en gevolglik op die lange duur kan uitsterf. Wat nodig is, is dat die gevaar wat Engels (en die mengeltaal Kaaps) vir Afrikaans inhou, ruiterlik erken moet word. Enigeen wat die belang van Afrikaans op die hart dra, sal dit doen. As iemand egter, soos Odendaal, sterk politiek-gedrewe is, sal daar nie wesenlike besware teen die toenemende verengelsing van Afrikaans (en die US) wees nie. Dit is immers in ooreenstemming met wat die ANC begeer.

Dat my karakterisering van Odendaal en haar idees nie onbillik of vergesog is nie, blyk uit haar betoog teen taalsuiwerheid: “Volgens hierdie konsepsie word sekere taalvorme as ‘suiwerder’ of ‘beter’ as ander beskou. ‘n Natuurlike uitvloeisel hiervan is die Stammbaum-teorie (Duits vir stamboom) waarvolgens een taal gebruik word om ‘n sekere ‘suiwerheidstatus’ aan ‘n ander taal te verleen. In die geval van Afrikaans is Nederlands natuurlik gebruik om hierdie funksie te vervul, met die gevolg dat die kreoolse aard van Afrikaans heeltemal misken is.” Ek verskaf ‘n viervoudige teenspraak. Eerstens kan geen taal op absolute suiwerheid aanspraak maak nie. Terselfdertyd is dit gesonde taalkundige praktyk as gepoog word om Engelse invloed op Afrikaans te beperk. Die voortbestaan van Afrikaans hang hiervan af. Tweedens moet gelet word op hoe Odendaal haar opponente met die Nazi’s se eugenetika (rassuiwerheids- en -verbeteringsleer) probeer assosieer. Derdens het Afrikaans ongetwyfeld uit Nederlands ontstaan. Dit volg dat dit sinvol is om by die uitbouing van Afrikaans by voorkeur eerder aan Nederlands en sy verwante taal Duits as aan Engels te ontleen.

Vierdens verkondig Odendaal doelbewus die valsheid dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is en dat hierdie kreoolsheid “heeltemal” misken is. “Odendaal meen dat dit vir vroeë taalkundiges om ideologiese oorwegings belangrik was om die kreoolse aard van Afrikaans te versteek deur die Nederlandse wortels van Afrikaans te oorbeklemtoon … hierdie ‘kunsmatige’ worteling van Afrikaans in Nederlands het veroorsaak dat die standaard nog altyd vêr verwyder van die daaglikse gebruik van Afrikaans was.” In die HAT word “kreools” gedefinieer as: “Mengeltaal ontstaan tussen ‘n Europese taal en ‘n taal in ‘n ander wêrelddeel.” Afrikaans het uit Nederlands ontstaan met die tale van die Khoi-San en dié van veral Asiatiese slawe wat saam ‘n geringe invloed op bv die woordeskat gehad het; só gering dat Afrikaans nie sonder buitensporige oordrywing ‘n kreoolse of mengeltaal genoem kan word nie. Die beperkte invloed wat nie-wittes op Afrikaans gehad het, word nie in verantwoordelike taalkundige geledere ontken of misken nie. Byvoorbeeld, die Afrikaanse Taalmonument is in 1975 tydens die hoogbloei van apartheid opgerig en in die struktuur daarvan word objektiewe, sigbare erkenning aan die bydrae van nie-wittes gegee.

Die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902) word deur Odendaal die skuld gegee vir die voorliefde om in Afrikaans eerder Germaanse (bv Nederlandse en Duitse) as Engelse en Romaanse (bv Franse) woorde te gebruik, “al was die [Engelse en] Romaanse vorm in sommige gevalle die algemener beter vorm”. (Engels is ‘n Germaanse taal, maar Odendaal hanteer Engels asof dit ‘n Romaanse taal is.) Maar is een van Odendaal se dogmas dan nie dat die etiket “beter” nie gebruik mag word nie? Omdat daar met reg omsigtig met Engelse invloed te werk gegaan word, beweer Odendaal dat Afrikaans as gevolg daarvan verarm is of (onnodig) kwyn.

Odendaal se linkse politiek word al hoe meer sigbaar: “Omdat die standaardisering van Afrikaans ‘n eksplisiete ideologiese affêre [!] was, is die taal van sy ‘slawe’ … -elemente gereinig [!] … Die skepping van Standaardafrikaans het daarom direk bygedra tot die stigmatisering [!] van die ander variëteite en die vervreemding van die meerderheid van die taalgemeenskap.” Odendaal boer hier met halwe waarhede. Dit is algemeen bekend dat baie bruines na die Britse besetting van die Kaap Nederlands/proto-Afrikaans toenemend oorboord gegooi en verengels het. Dit het nie met die standaardisering van Afrikaans te make nie. Verder is ander variëteite as Standaardafrikaans nie in die vorm van ‘n doelbewuste, langdurige veldtog gestigmatiseer nie. Dit is egter presies wat met Standaardafrikaans gedoen is onder die vaandel van anti-apartheidsveldtogte. Hierdie veldtogte teen Standaardafrikaans word tot op hede voortgesit. Pleidooie vir herstandaardisering deur Odendaal en Magdaleen Kruger is deel hiervan. Let ook op na Odendaal se verwysing na “die meerheid” in die ANC/demokrasie-idioom. By Odendaal kry kwantitatiewe oorwegings voorkeur omdat kwalitatiewe verskille (goed en sleg, reg en verkeerd, hoër en laer, ens), wanneer dit haar pas, geïgnoreer word.

Dat Afrikaans op so ‘n wyse geherstandaardiseer kan word dat “alle sprekers ‘n tuiste in hulle eie taal [Jaap Steyn se frase] sal hê”, is ‘n hersenskim.

Virtuele Bier

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za