Gedig: Lappop

LappopDEUR DRIES KRIEL

Sy is van Boere afkoms
Net vier kort jaartjies oud
Haar oë is soos die hemel
En vlegseltjies van goud

Op hul plaas daar in die Vrystaat
Waar hul klipsteen woning staan
Neem sy haar tuisgemaakte lappop
Oral waar sy gaan

Die diere het sy almal
By die naam geken
So weet sy altyd eerste
Waar broei die weglê hen

Boere op kommando

Boere op kommando

Maar toe kom daar ‘n oorlog
En haar pappie gaan vêr weg
Dit was so sê haar mammie
Om vir die Republiek te veg

Die oorlog duur toe langer
As wat almal eers wou wis
En die traantjies vloei gedurig
Soos sy haar pappa mis

Die uitlanders kom later
En laai hul op ‘n wa
So sit sy met haar lappop
Verwese langs haar ma.

Sy sien hoedat die Kakies
Haar diereryk vermoor
En toe hul huis in vlamme opgaan
Wis sy hul het als verloor

Verskroeide Aard

Boere burgerlikes kyk toe terwyl Britse soldate hul huise afbrand en met dinamiet opblaas. Die Boere het 10 minute gehad om hul besittings bymekaar te maak.

Haar rokkies was altyd
Vir haar alte fraai
Nou dra sy ‘n meelsak rokkie
Dit vertoon vir haar so saai

Haar lyfie raak al dunner
En haar armpies word krom
Want in die moordkamp heers daar honger
En haar mamma sit daar stom

Die mondjie wat eers kon skater
Het nou ‘n bitter trek
En hartverskeurend is die fronsie
Wat oor haar gesiggie strek

Sy sit daar in die kamptent
Haar lappop knel sy vas
Want haar mammie is reeds gister
Verlos van aardse las

So kry hul haar ook later
Daar by haar lappop lê
En laat haal ‘n ou seepkissie
Om haar en haar ou lappop
In die aarde weg te lê

Sy was van Boere afkoms
Net vier kort jaartjies oud
Haar oë was soos die hemel
En vlegseltjies van goud