Die Ebonisering van Kaaps

Deur Leon Lemmer

Ebonics

Ebonics

Wat opval in die nuwe Suid-Afrika is die ruime mate waarin Amerikaanse politiek plaaslik weerspieël word. Mense soos Desmond Tutu en Jonathan Jansen is tot in hulle kern vergiftig met amerikanismes. Hierdie toepassing van Amerikaanse politieke retoriek geskied sonder inagname van twee wesenlike verskille. Eerstens is swartes ‘n etniese minderheid en blankes die etniese meerderheid in die VSA, terwyl die omgekeerde situasie in Suid-Afrika aangetref word. Tweedens word swart politieke retoriek in Amerika deur verwyte oor slawerny oorheers, terwyl swartes in Suid-Afrika glad nie hierdie ideologiese knopkierie teen blankes kan gebruik nie. In soverre daar plaaslik slawerny was, het die inheemse Khoi-San en die inheemse swartes dit vrygespring. Die slawe is ingevoer en is dus uitheems. Plaaslik is dit net bruines wat op vergesogte wyse griewe oor die slawerny van lank gelede vertroetel.

In soverre bruines van sowel die Khoi-San as die slawe afstam, is hulle ‘n mengsel van inheems- en uitheemsheid. ‘n Mens kan dus sê dat daar etniese hibriditeit by die bruines is. Maar bruines se hibriditeit is nie net etnies of liggaamlik nie. Kulturele hibriditeit, bv wat taal betref, word by sommige bruines aangetref. Taalkundig kan die huidige plaaslike retoriek, bv oor die mengeltaal Kaaps, verstaan word na analogie van wat in Amerika plaasvind. Die propagering en bevordering van Kaaps deur bv die Afrikaanse Taalraad, by name deur Wannie Carstens en veral Michael le Cordeur, geskied na die voorbeeld van Ebonics in Amerika. Hierdie virus het nou ook die Vriende van Afrikaans aangetas, soos ek hieronder aantoon.

Wannie Carstens

Wannie Carstens

Die benaming “Ebonics” is ‘n samevoeging van die woorde “ebony” (swart, na aanleiding van tropiese swarthout) en “phonetics” (bloot in die sin van spraak; dus nie die taalkundige dissipline in sy geheel nie). Die woord is in 1973 deur Robert Williams geskep, wat in 1975 ‘n boek met hierdie titel gepubliseer het. Ebonics is ‘n sinoniem vir African American Vernacular English, oftewel Black English. Dit is na bewering ‘n mengsel van veral Standard American English en die tale van Wes-Afrika, vanwaar die slawe destyds na Amerika vervoer is. Op grond hiervan word daarop aanspraak gemaak dat Ebonics ‘n kreoolse taal is. Die meeste taalkundiges ontken egter die aanwesigheid van noemenswaardige kreoolsheid, omdat so min woorde van Afrika-oorsprong in Ebonics gevind kan word. Die soort Engels wat swartes op die Karibiese eilande praat, word soms by Ebonics ingesluit.

Omdat Ebonics sy oorsprong in slawerny het, gaan dit veral om die taal wat swartes in die suidelike Amerikaanse state gepraat het. Oor die 19de eeu, bv tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865), kan veralgemenend gesê word dat die noordelike state nywerheidsgebied en die suidelike state landbougebied was. Die oorgrote meerderheid slawe het in die suidelike state as arbeiders gewerk. Ebonics het glo ontstaan toe die slawe hulle verstaanbaar teenoor die slawe-eienaars wou of moes maak. ‘n Variëteit van Engels wat bv woordeskat, sinsbou en uitspraak betref, het op hierdie manier gestalte gekry. Soms word Ebonics ‘n dialek, sosiolek of etnolek van Engels genoem.

Michael le Cordeur

Michael le Cordeur

Ebonics het ingevolge slawerny en kolonialisme sterk politieke konnotasies. Hierby word die “euwel” van rasse-segregasie gevoeg: die swartes se Engels is anders omdat hulle apart van die blankes moes leef. Aanvanklik is die kenmerkende Engels van swartes as sub- of tweedeklas-Engels beskou, dus as taal wat nie dieselfde aansien as Standard American English gehad het nie. Hierdie onderskeid was klas- (sommige praat selfs van “kaste-”) en etnies of rasgebaseer. Sedert die suksesvolle burgerregtebeweging in die jare sestig val die klem op gelyke menseregte en het Black English aan status gewen. Kultuur- (insluitende taal-) verskille word as verrykend in ‘n samelewing voorgestel. Multikulturaliteit word as ‘n bate voorgehou.

Die Engels van swartes het sy eintlike hupstoot in 1996 gekry toe die skoolraad van Oakland, Kalifornië, Ebonics as ‘n skoolonderrigtaal goedgekeur het. Dit is as ‘n moeder-, huis- of omgangstaal erken waarin skoolonderrig in die aanvangsjare aangebied kon word. Op hierdie manier sou begrip by die leerders bevorder word en sou daar nie by hulle ‘n gevoel van minderwaardigheid gewek word nie. Ingevolge menseregte is aangevoer dat die skool by die kind moet aanpas en nie andersom nie. Die kulturele erfenis van alle leerlinge moet erken word. Diversiteit het toenemend ‘n wagwoord geword. Die historiese dominansie/”onderdrukking” deur die wit meerderheid, dikwels “rassisme” genoem, is opgehef en die swart minderheid se eiesoortige kultuur is erken.

Sedert die jare sestig is die bevoordeling van Amerikaanse swartes (en in ‘n mindere mate ander nie-wittes) in mooi-klinkende woorde gehul, wat ook by ons oorbekend geword het, bv regstellende aksie, politieke korrektheid en bemagtiging. Ebonics is deur Claude Brown “spoken soul” genoem. John Russell Rickford en sy broer, Russell John, het in 2000 ‘n boek met hierdie titel oor Ebonics gepubliseer. Aan Amerikaanse universiteite word Black Studies toenemend as byvak, hoofvak en selfs as nagraadse dissipline tot by die doktorsgraad aangebied. Ook hier het Ebonics ‘n tuiste gevind.

Ebonics 640x427Maar nie almal, selfs nie alle swartes, is met Ebonics gediend nie. Die skool en universiteit is nie daar om bloot ‘n bevestigende erfenisrol te speel nie. Onderrig is immers ook, seker veral, daar om enersyds as ‘n korrektief te dien vir wat die leerling of student verkeerd beet het en andersyds om inligting waarvan hy nog nie kennis dra nie en vaardighede wat hy nog nie het nie, tuis te bring. As ek nie kan swem nie, moet ek leer hoe om te swem. As ek nie Standard American English magtig is nie, moet ek dit aanleer om optimaal in die Amerikaanse samelewing te funksioneer. Dit baat weinig om agter menseregte, kulturele erfenis en goedvoel oor my Ebonics te skuil as my moedertaal ‘n las pleks van ‘n bate, dus teenproduktief, in die praktyk blyk te wees. Ebonics breek juis die veelgeroemde inklusiwiteit af en moedig verdeeldheid aan. Daarom word Ebonics meesal slegs in die aanvangskooljare benut en wel as ‘n middel om Standard American English baas te raak.

Van die ander probleme met Ebonics is dat dit eintlik ‘n gesproke eerder as ‘n geskrewe taal is. Soos dit hom in die praktyk voordoen, is dit nie gestandaardiseer nie. Daar kan kwalik van “ebonically correct” gepraat word. Die skepping van handboeke in Ebonics is dus problematies. Van die teenargumente, wat uit die geledere van militante aktiviste opklink, is dat Standard American English ook nie bestaan nie; dus dat dit ‘n mite is. Daar is ook die verskynsel dat sommige swartes, soms in die naam van Ebonics, uit hulle pad gaan om met Engels te mors; om wittes met besoedelde taalgebruik uit te tart.

Voordat wat hierbo oor Standard American English en Ebonics geskryf is sinvol op onderskeidelik Afrikaans en Kaaps toegepas kan word, is dit nodig om met aanhalings uit HAT duidelikheid oor vier terme of verskynsels te verkry.

  • Kreools: “Mengeltaal ontstaan tussen ‘n Europese taal en ‘n taal in ‘n ander wêrelddeel … in breër opvatting, enige taal wat die vermenging van meer as een taal is.” Aangesien geen taal op absolute suiwerheid aanspraak kan maak nie, behoort geringe vermenging nie kreolisering genoem te word nie, want dan sou alle tale kreools wees. Hierdie vermenging moet substansiële afmetings aanneem voordat ‘n taal kreools genoem word. Ebonics is in die swartbewussynbeweging kreools genoem. Afrikaans is weens die sug na politieke korrektheid en “regstelling” al kreools genoem. In nie een van hierdie twee gevalle is die etiket egter regverdigbaar nie.
  • Mengeltaal: “Taal wat ontstaan het uit die vermenging van verskillende tale, soms tale van heeltemal verskillende herkoms.” Bv Fanagalô: “Mengeltaal, grammaties basies Engels en Afrikaans, maar met ‘n hoofsaaklik Nguni- [Xhosa-, Zoeloe-] woordeskat, wat as omgangstaal op die myne en in stedelike gebiede gebruik word.” Kaaps neig om eerder ‘n mengeltaal, bestaande uit Afrikaans en Engels, as bloot ‘n variëteit van Afrikaans te wees; m.a.w. die besmetting met Engels neem ernstige afmetings aan.
  • Pidgin: “Baie vereenvoudigde taalvorm met o.a. woorde uit twee of meer tale, gebruik tussen taalgemeenskappe wat mekaar se tale nie verstaan nie.” Elementêre Fanagalô kan goedskiks pidgin genoem word en Ebonics was dit (ten minste) aanvanklik ook.
  • Sleng/slang: “Opsetlik gemeensame, ondeftige, ietwat platte (stands- of beroeps-) taal; groep(s)taal,” bv van studente. Sowel Ebonics as Kaaps is, soms weens politiek-gedrewe moedswilligheid/uittarting, nie van sleng vry te pleit nie.

Wat ek interessant vind, is dat die dubbel-nie, wat so kenmerkend van Afrikaans is, eintlik ook in Ebonics aangetref word, bv “You ain’t no never say that” en “I didn’t go nowhere.” Verder word ‘n woord soos “gangsta” in sowel Ebonics as Kaaps aangetref.

Wat in die nuwe Suid-Afrika baie duidelik geword het, is dat Ebonics as voorbeeld dien vir diegene wat aan Kaaps status wil gee. Ebonics se oorsprong word na slawerny teruggevoer. Op ‘n soortgelyke manier word die oorsprong van Afrikaans (eerder as Kaaps) met die kombuistaalhipotese teruggevoer na die skewe pogings wat slawe aangewend het om Nederlands met slawe-eienaars en ander wittes te praat. Omdat die ontstaan van Afrikaans op hierdie manier aan die slawe toegeskryf word, maak sommige hedendaagse bruines aanspraak op eienaarskap van Afrikaans. Vandaar RSG se Magdaleen Kruger se versugting dat sy Afrikaans aan die bruines wil “teruggee”. Die standaardiserings- en ander ontwikkelingswerk wat feitlik deurgaans deur slegs blankes tot voordeel van Afrikaans gedoen is, word daarmee (minagtend) onder die mat gevee.

Deesdae word graag beweer dat etniese en kulturele verskeidenheid in ‘n bevolking verrykend is. Al die probleme wat dit veroorsaak, word gerieflikheidshalwe misgekyk. Sodanige verskeidenheid verongeluk bv nasiebou en dikwels ook vreedsame naasbestaan. In die naam van multikulturaliteit word allerhande afwykings van die norm geloof. Byvoorbeeld, oor taalvariëteite word beweer dat sodanige verskeidenheid die taal verryk. Dus, Kaaps verryk Afrikaans. Wat doelbewus misgekyk word, is dat die toenemende Engels-besoedeling van Kaaps daarvan veel eerder ‘n mengeltaal as ‘n variasie van Afrikaans maak.

Op sy beurt beteken dit dat Kaaps nie die voortbestaan van Afrikaans help verseker nie. Presies die teenoorgestelde is waar. As die meeste sprekers van Afrikaans bruin is en as baie van hulle Kaaps praat en selfs skryf (of dit bo Standaardafrikaans verkies) en Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans gereken word, is die toenemende verswelging van Afrikaans deur Engels ons voorland. Die uiteinde kan wees dat Afrikaans as ‘n taal wat onderskeibaar van Engels is, verdwyn. Die voorstanders van Kaaps, soos Michael le Cordeur, is met ‘n gevaarlike spel ten koste van Afrikaans besig. Hierdie politiek-gedrewe veldtog kan inderdaad noodlottige gevolge vir Afrikaans inhou. Veral verloopte Afrikaners, wat hulle oënskynlik met die heil van Afrikaans besig hou (“voltyds” in die geval van Wannie Carstens), moet hiervan kennis neem.

Wat Le Cordeur in sy hoedanigheid as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad doen, is om te pleit dat Kaaps, soos Ebonics, as ‘n skoolonderrigtaal erken word, al is Kaaps, soos Ebonics, ongestandaardiseer. Maar Le Cordeur se standpunt is meer radikaal. Volgens hom moet Kaaps nie, soos Ebonics, bloot as hulpmiddel vir die aanleer van die standaardtaal gebruik word nie. Kaaps word deur Le Cordeur as net so goed (indien nie beter nie) as Standaardafrikaans beskou. Die wenslikheid van onderrig in Kaaps word oor die boeg gegooi van die voordele wat onderrig in hulle moedertaal vir leerders inhou. Le Cordeur gee onderrig in Standaardafrikaans openlik die skuld vir die akademiese nie-prestasie van bruines. Hy kom egter nie met dieselfde verwyt teen Engels nie.

Omdat Kaaps sekerlik nie sy sprekers se aanvaarding en optimale funksionering in die breë samelewing sal verseker nie, huldig Le Cordeur klaarblyklik die standpunt dat dit met Engels bewerkstellig moet word. Plaaslik sal Kaaps dus nie as voedingsbron vir Standaardafrikaans dien nie, maar eerder vir Engels. In die mate wat Kaaps toenemend eerder ‘n mengeltaal as ‘n variëteit van Afrikaans word, funksioneer dit al hoe meer as ‘n trapklip na Engels. Hierdie strategie word gevolg omdat Standaardafrikaans as ‘n witmenstaal geëtiketteer en daarom om politieke redes verwerp (indien nie verafsku nie) word. In sy voorwoord tot Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (2012), skryf Le Cordeur dat “die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem [ge]smoor” moet word (p 10).

Weens hierdie politieke druk wat op Standaardafrikaans uitgeoefen word, is ‘n tweeledige reaksie by verloopte Afrikaners waarneembaar. Enersyds word die werklike bestaan van Standaardafrikaans ontken. Gerda Odendaal verwys na hierdie moontlikheid. Andersyds ontgin Odendaal ‘n alternatief, naamlik die herstandaardisering van Afrikaans, wat ‘n verbruining en ontwitting van Afrikaans tot gevolg sal hê. Hierdie herstandaardisering sal in die naam van inklusiwiteit gedoen word, maar sal sekerlik daarin slaag om van die lojaalste en suiwerste sprekers van Afrikaans te vervreem.

Die Afrikaanse Taalraad het pas ondersteuning vir sy brouwerk van die Vriende van Afrikaans (VVA), wat in Stellenbosch gesetel is, ontvang. Amanda de Stadler is die uitvoerende hoof van die VVA. Sy is die eggenote van die Afrikaanse taalkundige Leon de Stadler, wat dit onnodig vind om Russel Botman se verengelsingsbeleid aan die Universiteit Stelenbosch teen te staan. Op ‘n loslitmanier veroorloof hy homself ook heelwat onnodige Engelse woorde in sy geradbraakte Afrikaans.

‘n Berig in Die Burger (8 deser, p 11) het vandeesweek as aanleiding vir my skrywe gedien. Op 6 deser is die elfde gedenklesing ter ere van die gerekende Afrikaanse taalkundige Johan Combrink onder die vaandel van die VVA, wat sy 20ste bestaansjaar vier, gehou. Die tema van die byeenkoms was: “Afrikaans se ander baadjie”. Dit herinner aan die Afrikaanse Taalmonument se versoek dat ons anders na Afrikaans moet kyk, wat op groter “inklusiwiteit” neerkom, en waaraan uitdrukking gegee word met bewerings van gekreoliseerde Afrikaans.

Ek het onlangs aangetoon hoe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad sorgvuldig vier sprekers uitgesoek het om volgens politiek-korrekte voorkeur by ‘n byeenkoms oor Afrikaans te praat. Die VVA het op ‘n soortgelyke manier te werk gegaan en drie sprekers (blykbaar een wit, twee bruin; een vrou, twee mans) genooi om “oor die waarde van Kaaps-Afrikaans teenoor Standaardafrikaans in hul daaglikse lewe … [te] praat … Twee redaksielede van Die Son, Christa Prinsloo en Eldridge Jason, en ‘n vryskutskrywer van dié koerant, Willem Fransman jr, het gepraat oor hoe soms neergekyk word op mense wat Kaaps-Afrikaans praat.”

Khoisan Braai Sprinkane 640x480

Die Khoisan

Jason het gesê: “As jong laaitie het ek kennis gemaak met die hoorbare en geskrewe vorm van Kaaps. Ek het besef daar is niks onwettigs aan die manier hoe ek Afrikaans praat nie … Afrikaans is ‘n taal van ‘n verskeidenheid kleure en geure. En Afrikaaps, soos baie mense na dié variëteit verwys, speel ‘n belangrike rol in die inkleur van die taal.” Alles wat wettig is, is natuurlik nie noodwendig gewens nie. By inkleur kan ‘n mens tussen ligte of donker kleure kies. Die ligte kleure kan meer bevorderlik vir die eerbare voortbestaan van Afrikaans wees. Wit vanielje kan taalkundig ‘n geseënde plaasvervanger vir al die kleure en geure van Desmond Tutu se reënboog wees.

Jason is die outeur van die boek Gerook (2013), wat oor dwelmverslawing handel. Op LitNet (15 Okt) is ‘n onderhoud met Jason gevoer. Daar lyk dit asof hy tot Standaardafrikaans in staat is. Sy kort VVA-toespraak is ook op LitNet (11 deser) gepubliseer. Die teks kan maklik op ‘n enkele A4-bladsy uitgedruk word. Daarin benut hy opsetlik “ons Kaapse way van Afrikaans praat.” Hy gebruik die volgende woorde: “variant”, “change”, “eyeblind”, “sad”, “somehow” en “stupidgeit”, asook die frase “way van living”. Hy kon gerus die eerbare weg gevolg en liewer die moeite gedoen het om die Afrikaans vir daardie woorde in ‘n woordeboek na te slaan.

Fransman het in sy VVA-toespraak verwys na die taal waarop hy verlief geraak het en wat net in die “townships” gepraat is. Op hierdie Kaaps-eksklusiewe manier voel hy blykbaar geen aangetrokkenheid tot Standaardafrikaans nie, terwyl blankes telkens tot inklusiwiteit vermaan word. “Ek het in boeke gelees oor ‘n taal wat ons nie in die klaskamer praat nie. Dit is die ander baadjie van Afrikaans wat ek wil aantrek. Dis hoe ek wil skryf … Kaaps en in geen ander taal.”

Maar Fransman se toespraak (LitNet 11 deser) bestaan, afgesien van aanhalings uit Kaapse teks, uit goeie Standaardafrikaans. Sowel hy as Jason kan Standaardafrikaans skryf, maar albei verkies Kaaps. Waarom sou hulle anders handel as mense soos die De Stadlers hulle in hierdie kwaad sterk? Elders op die internet het Fransman met die gebalanseerde uitspraak gekom dat Afrikaans aan sowel die wittes as die bruines behoort, dus dat dit bog is om (soos Magdaleen Kruger) te beweer dat Afrikaans aan die bruines teruggegee moet word.

Die berig in Die Burger is deur Raymond Willemse, waarskynlik ‘n bruin joernalis, geskryf. Geen melding word gemaak van wat Christa Prinsloo, waarskynlik die enigste wit spreker, te sê gehad het nie. Jason en Fransman se toesprake is, met ‘n foto van elk, op LitNet gepubliseer, maar nie Prinsloo se foto nie. Die Burger het net ‘n foto van Jason gepubliseer. Dit toon hoe wittes deesdae deur bruines, dikwels met die hartlike samewerking van wittes, gemarginaliseer word, selfs wanneer dit om ‘n kern-Afrikanersaak soos Afrikaans gaan. Wittes het die neo-gemarginaliseerdes geword.

Hieruit volg nie dat Prinsloo, die inhoudsredakteur van Son, ‘n geskikte persoon is om die koers vir Afrikaans aan te dui nie. Let op hoe word in Son gevra vir inligting wat na Prinsloo gestuur kan word: “Ken jy iemand wat against all odds bo uitgekom het? Weet jy van mense wat goeie werk doen om die gemeenskap te uplift?” (11 deser, p 9).

In dieselfde uitgawe van Son skryf Jason oor bruin kinders se “struggle” om toelating tot die Laerskool Hermanus te kry. Sy teks is onder die opskrif, “Skool se hoof die problem,” gepubliseer. Ander opskrifte in dieselfde koerant is: “Cops se attitude is sondebok,” “Bloues slaan weer op verskeie druggies toe,” “Jong man sterf toe hy girl red,” “Lolly-saak moet wag oor lawyer,” “Raadswerkers kla oor raise van R9,” “Fight ná cops wardens skud,” “Gratis krag het locals bly,” “Couple leef in vrees oor cop,” “Pa kry life ná hy sy eie 3 kids rape,” “Toekoms verander: van druggie na ‘social worker,’” “Talle issues kan sorg dat vroue struggle,” “Lamar belowe fans hy gaan weer kom,” “RiRi en Drake dalk hot nuwe paartjie,” “Soul-sanger lewer ‘n Madiba-tribute,” “Fikru is ook nou easy”. Dit lyk asof die nuwe baadjie vir Afrikaans deur die VVA in ‘n taalriool gesoek is. Die baadjie blyk veel eerder ‘n luier te wees.

Maar dit het by hierdie VVA-byeenkoms blykbaar van kwaad tot erger gegaan. Basil Kivedo was in die jare sewentig ‘n dosent in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Daarna het hy ‘n opgeleide MK-soldaat geword. Na ons “bevryding” is Kivedo as die DA-burgemeester van die munisipaliteit Breederivier (Worcester) herontplooi. Dit is ‘n instansie wat deesdae Engelse advertensies in ‘n Afrikaanse koerant plaas. Die bruin Kivedo het as ‘n nie-taalkundige huldigingswoorde oor JohanCombrink gespreek en hom geprys vir “sy bydrae en sy rol” om Afrikaans te bevorder: “Dit is ‘n eer om deel te wees van die gebeurtenis.” Die vraag is of Combrink, wat ‘n stoere ondersteuner as ordentlike Afrikaans was, geëerd met hierdie byeenkoms sou gevoel het. Ek dink nie Combrink sou die handevat-opsie met ‘n oud-ANC-terroris en met die bedenklike Son-Afrikaans gekies het nie. Standaardafrikaans was vir hom erns.

Nog was dit nie die einde nie. Die Burger-berig sluit soos volg af: Amanda de Stadler “het ná die geleentheid gesê Afrikaans het ‘n ander baadjie aangetrek en dit het gewerk.” Dus, Afrikaans kan maar ver-Son? Myns insiens was dit heeltemal onvanpas om drie sprekers by die koerant Son te gaan soek as die doel was om Afrikaans te bevorder. Daardie uitlatings kon wel ‘n positiewe doel gedien het as die idee was om kennis te neem van wat vermy moet word; dus as dit ‘n verkenningstog was om die euwel van mengeltaal beter te leer ken. De Stadler se slotopmerking toon dat sy bereid is om net so ver soos Wannie Carstens en Michael le Cordeur agteroor te buig ten koste van eerbare Afrikaans.

Om Son-Afrikaans as rigsnoer vir algemeen beskaafde oftewel Standaardafrikaans te gebruik, is net so onvanpas soos om Nelson Mandela tot beskermheilige van ‘n anti-terreurveldtog te verklaar. Wanneer vriende vir Afrikaans gesoek word, is dit wenslik om volgens ‘n kwantitatiewe maatstaf voor die voet soveel moontlik mense bymekaar te maak? Of moet ons eerder kwalitatiewe norme toepas en volstaan met ‘n gideonsbende, in die wete dat ‘n mens aan jou vriende geken word?

Pleks van al hierdie politiek-korrekte geheul met bv Kaaps sou die eerlike erkenning dat blankes en veral Afrikaners, waarvan Johan Combrink een was, uitsonderlik in Suid-Afrika gepresteer het, veel meer gepas gewees het. Standaardafrikaans is een van die Afrikaner se grootse prestasies. Pleks van destruktief met so ‘n waardevolle erfenisproduk om te gaan, behoort ons Standaardafrikaans liewer met oorgawe en kompromisloos te koester.

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za