David Christie: Kampsmarte

Konsentrasiekamp Smart

Konsentrasiekamp Smart

KONSENTRASIEKAMP – Die maanverligte omgewing sien spookagtig daaruit terwyl ek met die pad tussen die rye tente afstap. Die stof plof met elke tree en trap rondom my velskoene, en warrel dan kophoogte op om rondom my lyf se trekwind, my vir n wyle te agtervolg.

Ek hoor die kinkhoeskugte wat uit sekere tente opklink, die gesnik van n moeder wat drooggehuil is vir die afsterwe van haar kind.

Ek hoor die prewelbid van n oue van dae wat aanhou vrae aan God stel en dan om Hom eensklaps te smeek, ek hoor die laaste asem van n Boerkind lank en aaneen uitblaas, gevolg deur die gesug van iemand daar, daar is nie meer huil oor nie net die gesug.

My hart klop woedend in my bors en ek proe die smaak van yster in my mond en besef dat ek my tong moes raakgebyt het uit woede. Ek stap die tente-laan verby en draai my kop na die Oostekant van die kamp, daar in die maanlig staan n seun met albei sy hande aan die draad heining vasgegryp ,hy wieg vorentoe en agtertoe en sy asem kom in horte en stote .

Ek stap nader, raak saggies aan die seun se skouer en hy kyk stadig moeisaam op na my – sy gesig is vervalle, sy oë groot en teruggetrek in hul kaste, donker ringe van wanvoeding en swaarkry is om sy oë , blou oë wat die lewensglans van kindwees lankal verloor het. Sy stem kom bewend en skor “…..oom ek kan nie meer nie, ek het my laaste kos vir my ma en suster gegee – ‘n week terug, my suster is eergisternag dood oom, my ma……..my ma is in stukke, ek probeer oom, maar ek is op oom, pa is nie hier nie, hy is in die veld, my ma”…….. sy stem dryf weg en hy staar die verte in dan sê hy “Oom, ek sien ‘n Arend……. Ek sien hom kom, oom “ met daardie woorde knak die kind se knieë en hy sak neer teen die heining. Sy vingers raak slap los uit die greep teen die draadheining….

Ek draai hom om en lê hom saggies neer in die stof, op sy uitgeteerde gesig is n glimlag en ek besef dat hy nou werklik vry is. Uit my bors bars n kreet van pyn en wanhoop terwyl ek my kop opruk. My lyf ruk en met n snak van asem is ek wakker terwyl my vrou besorgd aan my vra wat fout is, ”…ek het n visioen uit die verlede gehad” is my antwoord. “is jy ok?” vra sy.

Ek kyk lank na haar en antwoord “…eers was ek nie, maar nou is ek..“ en terwyl ek oorlê en die boek en papier nader trek om neer te skryf, hoor ek die roep van die Visarend buite, en ek weet die rewolusie het begin!

David Christie 20/01/2014

Boerevolk Erfenisbewaring

Omtrent die skrywer

David Christie

Ek doen navorsing oor die Boervolk se geskiedenis en erfenis.
Besoek gerus ook Boervolk Erfenisbewaring.