Carina Papenfus – Wat is die feite oor Flippie?

Carina Papenfus (regs) en Flippie Engelbrecht vroeër tydens ’n hofverskyning in Kaapstad. Foto: Nasief Manie

KAAPSTAD – Wie is Carina Papenfus? Papenfus, sekretaris van The Freedom Trust, ’n organisasie wat na die belange van vroue, kinders en gestremdes omsien, het ses maande gelede by die trust aangesluit. Sy dien ook in ’n reeks soortgelyke instellings en organisasies, het sy gister gesê.

Sy werk vrywillig en is nie ’n trustee nie. “Ek is ’n vrywilliger, nie ’n ampsbekleër nie,” het Papenfus gister in ’n onderhoud met Die Burger gesê.

Papenfus het voorheen as prokureur gewerk en het ’n praktyk in Johannesburg bedryf. “Ek het die praktyk verlaat om om te sien na my kind wat outisties is,” het sy gesê.

Die gesin het ’n strandhuis in die Wes-Kaap waarheen hulle in 2008 om hul seun se onthalwe getrek het. Papenfus en haar man het ’n ruk lank nog tussen Gauteng en die Wes-Kaap gereis om hul ondernemings in Gauteng aan die gang te hou.

“Dit was chaoties,” het sy die ervaring gister beskryf. Volgens haar het ’n eiendomsontwikkeling wat sy en haar man in Johannesburg bedryf het agteruit begin gaan en dinge het vir hulle begin “skeefloop”. Die egpaar is in 2008 gesekwestreer en insolvent verklaar. “Dit het baie druk op ons geplaas,” het sy gesê.

Papenfus is in dieselfde jaar in die Lentegeur- psigiatriese hospitaal opgeneem waar bipolêre gemoedsversteuring en obsessiewe kompulsiewe stoornis by haar gediagnoseer is.

“Dit was ’n sameloop van dinge wat daartoe gelei het,” het sy die oorsaak van haar toestand beskryf. “Al daai, en die omgewing, het tot die siekte gelei . . . Dít, sowel as die kind wat gesukkel het om in ’n hoofstroomskool aan te pas.”

Haar dokters het haar meegedeel dat sy nie weer sal kan praktiseer nie. “Glo omdat ek nie die druk van die werk sal kan hanteer nie.” Papenfus is medies ongeskik verklaar om as prokureur te praktiseer en is in 2010 van die prokureursrol geskrap.

“Ek was lank vir behandeling,” het sy gesê. Die rol as huisvrou was ook in ’n stadium baie frustrerend vir haar. “Soos ek meer tyd gekry het, het ek by organisasies soos The Freedom Trust betrokke geraak.” Die siektes het egter ’n positiewe eienskap van haar ontlok. “Die kreatiwiteit wat dit bring, is ’n verligting.”

Volgens die trust se webblad, gebruik Papenfus deesdae haar kennis en agtergrond as regsgeleerde om die organisasie te help. Volgens die webblad is sy op Christiana in Noordwes gebore en het sy van 1997 tot 2008 as prokureur gepraktiseer.

Adv. Jan Heunis SC het by navraag gesê ingevolge die wet kan individue wat gesekwestreer en insolvent verklaar is nie as trustees dien nie.

BRON: Die Burger


Onsekerheid oor Engelbrecht se ouderdom toe hy na bewering aangerand is

STELLENBOSCH – Intussen is daar onsekerheid oor die presiese ouderdom waarop Flippie Engelbrecht na bewering deur twee boere van Robertson aangerand is.

Engelbrecht, wat op 28 Desember 1994 gebore is, is volgens The Freedom Trust, ’n organisasie wat hom vir plaaswerkers se regte beywer, op 15-jarige ouderdom in Januarie 2008 na bewering aangerand. Engelbrecht was egter in daardie stadium net dertien jaar oud.

Carina Papenfus van dié organisasie het vandeesweek aan Die Burger gesê Engelbrecht het op 15-jarige ouderdom vir die dorpspan De Hoop Rangers rugby gespeel en tóé al rugbypotensiaal getoon. Sy is gister gevra oor Engelbrecht se presiese ouderdom en het dié geboortedatum bevestig.

Gevra oor hoe hy dan op 15-jarige ouderdom nog rugby kon gespeel het as hy toe al na bewering blind was, het sy gesê: “Nee, dan was hy nog jonger, wat alles net meer hartseer maak. Hy was baie jonk toe hy so goed rugby gespeel het.”


Talle strydige verklarings is reeds deur Carina Papenfus uitgereik, wat daarop dui dat sy nie haar feite agtermekaar het nie. Carina Papenfus is ook daarvoor bekend dat sy voorheen ‘n veldtog teen Sunette Bridges aangevoer het – Red

VOLGORDE VAN GEBEURE LUIDENS VERKLARINGS

  • 28 Desember 1994 – Flippie Engelbrecht word gebore (Volgens The Freedom Trust/Carina Papenfus).
  • 2006 – Mariette Addelaar van die Saratoga plaas se kind weier om met Flippie Engelbrecht te speel weens Flippie se epileptiese aanvalle (Volgens Mariette Addelaar in Cape Argus).
  • 25 Januarie 2008 – Flippie Engelbrecht (13) word na bewering aangerand (Volgens The Freedom Trust/Carina Papenfus).
  • 28 Januarie 2008 – Flippie Engelbrecht (13) word na bewering na Tygerberg afgevoer vir ‘n noodoperasie wat hom blind laat (Volgens The Freedom Trust/Carina Papenfus).
  • 2008 – Die Engelbrecht gesin word van Rietvallei landgoed weggejaag weens beweerde dronkenskap (Volgens wyle Mnr. Burger aldus 2 Oceans Vibe).
  • 2009 – Flippie Engelbrecht (15) is ‘n belowende rugbyspeler (Volgens Carina Papenfus).
  • 15 Augustus 2009 – Flippie Engelbrecht (15) sien ‘n dokter in Robertson weens ‘n swelling aan sy gesig (Volgens Hospitaal rekords aldus Cape Argus).
  • 19 Augustus 2009 – Flippie Engelbrecht (15) word van Robertson na Worcester Hospitaal verwys weens ‘n “moontlike brein abses” (Volgens Hospitaal rekords aldus Cape Argus).
  • 20 Augustus 2009 – Flippie Engelbrecht (15) word na Tygerberg oorgeplaas vir ‘n brein skandering (Volgens Hospitaal rekords aldus Cape Argus).
  • September 2009 – Flippie Engelbrecht (15) val in ‘n vuur wat tot ernstige brandwonde bydra en daartoe lei dat sy hande afgesit word (Volgens The Freedom Trust/Carina Papenfus)
  • Oktober 2009 – Flippie Engelbrecht (15) word deur die Pionier skool vir visueel-gestremde kinders in Worcester geëvalueer nadat hy “blind geword het tydens ‘n ses weke behandeling in Tygerberg (Volgens die Pionier skool aldus Cape Argus).
  • 19 Augustus 2012 – Flippie Engelbrecht (18) ontvang behandeling vir brandwonde aan sy hande. Tien dae later word sy hande in die Worcester Hospitaal geamputeer (Volgens Hospitaal rekords aldus Cape Argus).
  • 2013 – Carina Papenfus dien ‘n klag teen die boer in vir die beweerde aanranding gedurende 2008 by die Seepunt polisie namens Flippie Engelbrecht (volgens Cape Argus).
  • 03 September 2013 – Mnr. Johnny Burger pleeg na bewering selfmoord.
  • 06 September 2013 – Mnr. Marius Fransman van die ANC rig ernstige waarskuwings en dreigemente aan die media en persone wat dit durf waag om Carina Papenfus se “verklarings” in twyfel te trek.

VERWYSINGS:

13 Okt 2013 – Carte Blanche: Flippie Engelbrecht Leuens (Engels)

Namecheap

Omtrent die skrywer

MDBP - My District and Business Publications
The Independent Global News Network Organization