Carina Papenfus gesekwestreer

Carina Papenfus - Die dryfkrag tydens protesaksies

Carina Papenfus – Die dryfveer tydens protesaksies teen wyle Mnr Burger en boere

ROBERTSON – Carina Papenfus, die ANC-aktivis en dryfveer agter die Flippie Engelbrecht-saak, was voorheen ’n miljoenêr-eiendomsontwikkelaar en prokureur voordat sy gesekwestreer is en van die prokureursrol geskrap is.

Papenfus, wat deesdae in Hermanus woon, het tot 2007 in Johannesburg as prokureur gepraktiseer. Sy en haar man, Hendrik, was ook by ’n eiendomsontwikkelings van miljoene rande in Gauteng betrokke.

In 2008, omtrent die tyd wat sy uit Johannesburg na Hermanus verhuis het, het sake lelik begin skeefloop vir die egpaar.

Stukke wat in 2008 by die hooggeregshof in Pretoria deur die kuratore van hul boedel ingedien is as deel van die sekwestrasieproses, skets ’n prentjie van bedenklike transaksies, probleme met skuldeisers wat nie hul geld uit die twee kan kry nie en bewerings van ’n skyn-egskeiding.

In die hofstukke word onder meer beweer dat:

* Die egpaar “’n groot getal bona fide-kopers van erwe in ­eiendomsontwikkelings, finan­siële instellings en oorbruggingsfinansiers met miljoene rande bedrieg het”.

* Mev. Papenfus deur die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies van die rol geskrap is nadat sy skuldig bevind is aan “onprofessionele gedrag as gevolg van klagtes voortspruitend uit die verskeie eiendomstransaksies waarby sy betrokke is”.

* Die egpaar as gevolg van hul grootskaalse eiendom­spekulasie by verskeie hofsake betrokke geraak en verskeie prokureurs en advokate wat haar verteenwoordig het nooit betaal het nie.

“Die gevolg was dat sy by die Johannesburgse Vereniging van Advokate op die wanbetalerslys geplaas is,” sê die kuratore.

Sy het ook heelwat van haar sake verloor en kostebevele teen haar gekry.

* Die kuratore beweer ook dat toe die Papenfus-egpaar se geldsake beroerd begin lyk het, die twee in Februarie 2008 geskei is in ’n poging om hul bates uit hul skuldeisers se hande te hou. Ondanks die egskeiding het hulle hul sakeverbintenis en hul huweliksverhouding voortgesit.

Mev. Papenfus het hierdie week ontken sy het ooit bedrog gepleeg en sê sy is van die prokureursrol verwyder omdat sy medies ongeskik verklaar is vir werk weens “katatoniese bipolêre depressie”. Sy en Hendrik Papenfus woon steeds saam en rekords van die departement van binnelandse sake dui hul huweliksdatum as 2 April 2001 aan.

Die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies het bevestig sy is in September 2010 van die rol geskrap.

Rapport kon nie die hofrekords opspoor om die teenstrydigheid tussen dié datum en die bewerings in vroeë hofstukke dat sy reeds in 2008 geskrap is, te verduidelik nie.

Mev. Papenfus sê die maatskappye wat aan haar en haar man geld geleen het vir ’n eiendomsontwikkeling in Midrand het geldelik in die moeilikheid geraak en toe druk op hulle geplaas om hul lening terug te betaal op ’n tyd wat die eiendomsontwikkeling nie kon voortgaan nie. Hulle is toe in September 2008 gesekwestreer.

BRON: Rapport


Namecheap

Omtrent die skrywer

MDBP - My District and Business Publications
The Independent Global News Network Organization