Burger het kwaadwillige smeerveldtog teen hom veroordeel

flippie-300x192

Carina Papenfus in gesprek met Flippie Engelbrecht

ROBERTSON – Dit wil voorkom asof die volgehoue veldtog teen Burger deur die plaaswerker se regsverteenwoordiger Carina Papenfus, tot die tragiese dood van Burger gelei het. Burger het voor sy dood gesê hy is die “slagoffer van ‘n smeerveldtog deur ‘n kwaadsteker met ‘n politieke agenda”.

Die polisie kon nie bevestig of Burger sy eie lewe geneem het nie. Rapport het egter reeds op sy webtuiste verklaar dat Burger selfmoord gepleeg het.

Jaco Krauwkam, Burger se prokureur, het veral die wyse waarop “doelgerigte” sosiale media-veldtogte gevoer is om Burger in die media te stigmatiseer en te verhoor asook om Rietvallei-wynlandgoed ekonomies te knak, uitgewys.

Krauwkam het vroeër gesê dit dui op ’n doelbewuste “beswadderingspoging” deur Engelbrecht se regsverteenwoordiger, Papenfus.

Papenfus het tydens Burger se onlangse hofverskyning die publiek aangehits met uitroepe wat die spanning en woede van die gemeenskap verder verhoog het terwyl hulle moes wag vir die twee mans om te verskyn.

Meer as 100 plaaswerkers en lede van die gemeenskap wat uit Oudtshoorn, Swellendam, Barrydale en Piketberg ingebus is, het vanaf 9:00 buite die hof saamgedrom om die Engelbrecht-gesin te ondersteun.

carinaflip

Flippie Engelbrecht in die omhelsing van Carina Papenfus

Burger en sy voorman Treurnicht het eers ná 11:00 opgedaag, weens ‘n ongesteldheid. Dit het daartoe aanleiding gegee dat woede-uitbarstings vanuit die gallery gehoor is.

Uitroepe van “Hoekom is jy so spesiaal? Wie dink jy is jy?” het weerklink toe die twee die hofsaal binnegekom het.

“Jy sê dat jy nie goed voel nie. Hoe dink jy voel hierdie kind en al die ander kinders wat jy aanrand,” het Carina Papenfus, sekretaris van die Freedom Trust, geskree.

Na ‘n kort verskyning, het landdros Francois van Deventer die saak uitgestel tot 13 September.

Toe die twee die beskuldigdebank verlaat, het ‘n lid van die gemeenskap geskree: “Druk hom vas!” Daar was ‘n stormloop vir die deur, en die polisie moes ‘n bontstaan om die twee te beskerm toe die skare skielik op hulle toesak.

Die manne het hul bakkie veilig bereik, maar die oproeriges het begin om die voertuig van kant tot kant te skud, terwyl hulle teen die vensters en enjinkap gehamer het.

Krete van “Brand hom!” is gehoor en die skare het begin klippe gooi toe die bakkie wegtrek. Die polisie moes van ‘n skokgranaat gebruikmaak om die woedende skare uiteen te jaag.

Krouwkam het in ’n aparte verklaring gesê dat Engelbrecht na die beste van sy kliënt se wete in goeie gesondheid was toe hy die plaas in 2008 verlaat het.

Hy was beslis nie blind nie en het albei sy hande gehad. Hy het bygevoeg dat die Engelbrecht-egpaar ernstige drankprobleme gehad het en dat dit die rede was waarom hulle gevra is om Rietvallei te verlaat.

Burger het toe gesê hy sal enige vervolging ten sterkste teenstaan en die “kwaadstokers” wat dié valse aantygings maak aan die kaak stel en “tot verantwoording bring”.

Engelbrecht beweer die twee mans het op 25 Januarie 2008 sy kop só hard teen ’n wyntenk gestamp dat hy daarna gereelde epileptiese aanvalle gekry het. Nadat ’n operasie om die drukking op sy brein te verlig skeefgeloop het, het hy blind geword. In September 2009 het hy sy hande so erg verbrand nadat hy ’n epileptiese aanval langs ’n vuur gehad het dat sy hande geamputeer moes word.

Engelbrecht eis vergoeding, asook sy hande en sig terug. “Daai boer het my hart baie seer gemaak.”

Papenfus, van die Freedom Trust, het intussen ’n Amerikaanse ontwerper, Ivan Owen, ingespan om duur prostetiese hande vir Engelbrecht te maak met die hulp van Richard van As.

Solomzi Ntlalombi, een van die betogers, het gesê dat hoewel hy nie vir Flippie ken nie, het hy gekom om hom te ondersteun .

“‘n Besering aan een is ‘n besering aan almal. Ons ondersteun hom as gevolg van die pyn wat hy gehad het.”

Engelbrecht het aanvanklik die bewerings van sy aanranding in die teenwoordigheid van Papenfus en twee senior lede van die Wes-Kaapse ANC, Pat Maran en Sanette Smit asook Shirley Davids van die “Mawabuye-grondregtebeweging” gedoen. Die foutiewe spelling verwys waarskynlik na die Mazibuye-grondregtebeweging.

Die omstrede Mazibuye-grondregtebeweging weier om ag te slaan op die toenemende kritiek uit linkse kringe oor sy anti-Indiese retoriek.

Die groep pleit ondermeer dat ook Indiese grond in KwaZulu-Natal herverdeel moet word onder swartes en dat Indiërs hul SEB-status moet verloor.

VERWANT: Wat is die feite oor Flippie?

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za