BRIEWE: Wat Behels Lasterlike Woorde op Sosiale Media

Argief foto

Argief foto

BRIEWE – Daar is elke dag tallose mense wat stellings op sosiale media maak wat as rassisties geïnterpreteer kan word, hetsy in kommentaar op nuus, gespreksgroepe of in ander internet-forums, sonder om te besef dat hulle met vuur speel en dat hulle op verskillende maniere aanspreeklik gehou kan word.

Rassistiese stellings wat teen blankes gemaak word, is in baie gevalle vreeslik aggressief. Blankes word soms met die dood gedreig, maar rassisme en doodsdreigemente teen blankes word oor die algemeen oorgesien en geen regstappe word teen swart rassiste geneem nie. Dit is egter ‘n perd van ‘n ander kleur indien ‘n blanke persoon dieselfde sou doen in reaksie daarop.

Crimen injuria: As jy rassistiese skeldwoorde aan iemand toesnou, kan jy in ’n strafhof van “crimen injuria” aangekla word. Dit is ’n strafregtelike oortreding en as jy daaraan skuldig bevind word, het jy ’n misdaadrekord. Crimen injuria beteken om iemand se eer en waardigheid aan te tas, om die mens sleg te laat voel oor wie en wat hy is. ’n Verweer teen crimen injuria is dat die stelling waar en in die openbare belang is, maar ’n rassistiese stelling kan nooit waar of in die openbare belang wees nie. Die vonnis vir crimen injuria is gewoonlik ’n boete, dit kan enigiets wees van R500 tot R5 000 of meer, want daar is nie ’n perk of ’n minimum boete nie. Dit is nie die tipe misdryf waarvoor iemand tronk toe sal gaan nie. ’n Landdros kan ook gelas dat jy gemeenskapsdiens gaan doen in ’n omgewing waar jy werk met mense van ander rasse. Een van die oogmerke van vonnis is om die persoon te rehabiliteer.

Die wet maak voorsiening vir sowel strafregtelike as sivielregtelike laster. As jy dus rassistiese aanmerkings oor iemand maak waar iemand anders dit hoor of waar dit op enige manier gepubliseer word, bring jy daardie mens se goeie naam in die gedrang en kan jy strafregtelik van laster aangekla word of siviel vir laster gedagvaar word.

Haatspraak: Volgens die Grondwet se definisie van haatspraak kwalifiseer ’n rassistiese stelling slegs as haatspraak as dit ook geweld aanhits. Streng gesproke kan jy dus volgens die Grondwet sê jy haat ’n sekere groep mense, solank jy nie geweld of skade teen daardie groep aanhits of bevorder nie. Die gelykheidswet gee egter ’n breër definisie van haat­spraak. Die gelykheidswet onderskei tussen regmatige en onregmatige spraak en volgens die wet is rassistiese stellings onregmatig. Daar is nog onsekerheid oor die grondwetlikheid van die haatspraak-definisie in gelykheidswetgewing, want dit beperk ’n baie breër klas van spraak.

Mense besef nie hoe permanent die gevolge is van uitsprake op die internet nie. Mense wat rassistiese uitlatings maak, kan dus voor die gelykheidshof gedaag word. Die hof kan ook boetes aan mense oplê en gelas dat mense kursusse in byvoorbeeld kulturele diversiteit bywoon. Die boetes kan aansienlik wees. In een geval is ’n man met R80 000 beboet omdat hy rassistiese kwetswoorde aan sy huishulp toegesnou het. Die gelykheidshof kan in ernstige gevalle ook ’n saak na die direkteur van openbare vervolging verwys vir strafregtelike vervolging.
Namecheap