BRIEWE: Vir Jacob Zuma is Fifa Soos Manna

Briewe

Briewe

BRIEWE: Laat dit nie van president Jacob Zuma gesê word dat hy nooit oor korrupsie praat nie.

Daar was hy verlede week op die verhoog van die Wêreld Ekonomiese Forum se Afrika-beraad in Kaapstad besig om vir ’n uitgesoekte gehoor van plaaslike en internasionale besluitnemers te preek oor korrupsie. Die ironie kon kwalik meer skreiend wees.

Suid-Afrika se president bevind hom midde-in verskeie storms oor korrupsie en word self daarvan verdink dat hy sy hand diep in die koekieblik het. Belastingbetalers verdien nie om vir korrupsie te betaal nie, het hy vroom laat hoor!

En dan, met verwysing na die teenkorrupsie-meganismes wat Suid-Afrikaners tot hul beskikking het om korrupsie te beveg, die volgende: “Mense het die reg om hulle tot die openbare beskermer te wend.” Dít sonder ’n woord daaroor dat die einste OB ’n verdoemende beslissing oor hom gevel het en dat hy en sy regering moeite doen om die OB se gesag te ondermyn. Al ooit gehoor van die Nkandla-verslag, Meneer die President?

Zuma het nie ’n enkele keer na dié verslag of na sy regering se verdagmaking van waghond-instellings soos die OB en selfs die howe verwys nie. Ook geen woord oor hoe hy self ’n groot aandeel in die ondermyning van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het nie – alles net om te keer dat ’n hele aantal korrupsieklagte teen hom voor die hof gebring word.

​Toevallig het Zuma se mooi broodjies gekom in die week waarin die land deur Amerika se federale speurdiens (FBI) by die groot vermeende korrupsie in Fifa betrek is. Suid-Afrika word pertinent genoem in die FBI se verslag oor korrupsie by die toekenning van Wêreldbekersokkertoernooie, waaronder die 2010-toernooi, waarvan ons die gasheer was.

Zuma se regering word nie regstreeks by die omkopery betrek nie – Suid-Afrika het glo oor die R100 miljoen betaal vir sokker-ontwikkeling, wat na bewering in die sakke van vermeende korrupte Fifa-beamptes beland het. Dit het alles in die tyd van oudpres. Thabo Mbeki gebeur, en die vermoedelike omkoopgeld het inderdaad uit die staatskoffers gekom. In hierdie stadium is daar geen sprake van selfverryking in die geledere van Suid-Afrikaanse politici of sokkerbeamptes nie.

Dit moet nietemin vir Zuma en sy binnekring soos manna uit die hemel wees. Dit was mos vóór hul tyd, en (die beste van alles!) die “skoon seun” van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, moet pa staan vir wat gebeur het. Die einste Mbeki wat Zuma as adjunkpresident onthef het.

Ek lees nou weer Eight Days in September – The Removal of Thabo Mbeki deur Frank Chikane, Mbeki se direkteur-generaal. Dit gee jou nuwe waardering oor hoe soet die Fifa-oomblik vir die Zuma-kamp moet wees. Die man wat vir Zuma met hoogheilige vroomheid uitgeskop het, moet nou self antwoord oor beweerde omkopery. ’n Gesegde lui: Wraak is ’n gereg wat liefs koud voorgesit moet word. Dis dalk nie duidelik wie dit opgeskep het nie, maar wie gee om?

As Zuma na homself geluister het, is daar wel ’n paar goed wat hy kan doen om sy eie reputasie as “ ’n korrupte” te verbeter. Hy kan sy vervolging van die OB staak en hom aan haar gesag onderwerp. Hy kan partypolitieke inmenging by die NVG staak. Hy kan baie meer sigbaar korrupsie in die openbare sektor vasvat en die korruptes baie meer sigbaar aan die pen laat ry. Hy kan van sy kamerade aansê om die howe en regters met ontsag te behandel, ensovoorts.

So kan hy die skeptisisme oor hom, wanneer dit by korrupsie kom, besweer en meer respek vir homself en sy regering opbou. Om homself te oortuig behoort hy net die reaksie op die berig “Zuma: Taxpayers don’t deserve to fund corruption” op fin24.com te gaan lees. Dit sal vir hom ’n openbaring wees. Of dalk nie.

Henry Jeffreys

Namecheap