BRIEWE: Jacob Zuma se Verskuilde Agenda Gaan Hom nog Duur te Staan kom

Argief foto

Argief foto

BRIEWE – Jacob Zuma, Suid-Afrika se president is inderdaad bekend daarvoor dat die moeilikheid hom vasklou met sy korrupte aksies en skelm streke.

Die Nhlanhla Nene-Des van Rooyen-debakel het egter skade aangerig aan die onwrikbare lojaliteit. Daar hang ‘n donker wolk oor Zuma in die opkomende jaar 2016, in Februarie en Maart sal Zuma se regsadviseurs die skild op verskeie fronte moet vashou.

  • Spioenasiebande-saak: Na ses jaar van litigasie hoor die hooggeregshof in Pretoria, Sentraal-Transvaal in Maart die saak van die geheime spioenasiebande aan, die saak wat uiteindelik daartoe kan lei dat 783 klagte van korrupsie teen Zuma heringestel word. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die 783 aanklagte in 2009 teruggetrek nadat opnames van telefoongesprekke en SMS’e, wat later as die spioenasiebande bekend geword het, aan die lig gekom het.

    Die gesprekke tussen die destydse Skerpioenbaas Leonard McCarthy, die voormalige NVG-hoof Bulelani Ngcuka en die voormalige minister van justisie Brigitte Mabandla dui glo op ’n gekonkel oor die Zuma-vervolging. Die NVG is veronderstel om objektief en onafhanklik te wees en geen buitefaktore hoort ’n rol in vervolging te speel nie. In Maart sal die DA in die spioenasiebande-saak aanvoer Mokotedi Mpshe (destydse waarnemende NVG-hoof) se besluit in 2009 om die klagte teen Zuma terug te trek, is onwettig en moet omgekeer word. ’n Volbank van drie regters sal die saak aanhoor.

  • Die geval van adv. Nomgcobo Jiba: Een van Zuma se luitenante tel onder die magtigste amptenare by die NVG. En dit is juis oor Zuma en die spioenasiebande dat advokaat Nomgcobo Jiba, NVG-adjunkhoof, kniediep in die moeilikheid is. Sy is in drie sake voor die hof (twee in die appèlhof en een in die hooggeregshof in Durban, Natal heftig deur verskillende regters gekritiseer vir gedrag wat nie die “amp van NVG-hoof waardig” is nie.

    In elkeen van die sake is daar ’n raakpunt met Zuma: Sy het genl.maj. Johan Booysen, Natalse Valkehoof in hegtenis laat neem en aankla op grond van rampokkery sonder enige bewyse; Jiba het klei getrap oor waarom strafregklagte teen lt.genl. Richard Mdluli – omstrede geskorste misdaadintelligensiebaas – teruggetrek is; asook waarom die NVG klagte in Zuma se spioenasiebande-saak teruggetrek het.

    In al drie sake het Jiba op haar baadjie gekry. Met rente, want die regters was nie beïndruk nie. Daarom het die NVG (toe nog onder leiding van Mxolisi Nxasana) die balieraad gevra om ’n aansoek voor die hooggeregshof te bring om haar van die advokaterol te skrap. Die grondwetwaghond FUL en die DA het ook elk ’n saak by die hooggeregshof aanhangig gemaak om Zuma te dwing om Jiba te skors en tugstappe teen haar in te stel. Die DA se saak word in Februarie in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor.

  • Nkandla: Die EFF en DA wil Zuma deur die land se hoogste hof dwing om ’n gedeelte van die veiligheidopknappingswerk se koste by sy Nkandla-landgoed in KwaZulu-Natal terug te betaal. Dít nadat Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), in haar verslag bevind het dat die beeskraal, amfiteater en swembad (of vuurpoel, hang af na wie jy luister) nié onder die veiligheidsopknappings tel nie.

    Nathi Nhleko het, op versoek van Zuma, sy eie verslag opgestel om te bepaal hoeveel geld Zuma moet terugbetaal – nie ’n sent nie. Toe steek die DA weer ’n stokkie daarvoor. In die saak tussen die SAUK en DA in die appèlhof is uiteindelik bevind dat geen parallelle-proses die OB-verslae mag omseil of kortwiek nie. Inteendeel, net ’n hof kan die OB se verslae hersien en omkeer. Dit beteken Nhleko se verslag het waarskynlik geen wetlike status nie. Dié uitspraak van die appèlhof sal noodgedwonge ’n groot deel van die EFF en DA se argumente uitmaak wanneer hulle in Februarie die 11 konstitusionele hofregters vra om Zuma te dwing om vir Nkandla te betaal.

Boerevolk Erfenisbewaring