Brief: Booyens het ideologiese agenda

Hannelie Booyens

Hannelie Booyens

Hannelie Booyens se artikel oor Orania in MyTyd (23 Junie) laat my dink aan ’n fotograaf wat op Photoshop gespeel het en nie kon ophou om aan ’n goeie foto te torring nie.

Groot dele van die artikel is eerlik en in pragtige taal geskryf en wys tereg op talle mooi dinge en ook die leemtes in Orania se mondering, maar die ander helfte is ’n poging om deur afleidings en vooroordele haar eie ideo­logiese stempel af te druk op ’n gemeenskap wat lankal by die ou ideologiese skeidslyne verby is.

Uit die 1 000 inwoners in Orania is 300 skoolgaande in ons twee plaaslike skole. Hannelie dink egter hier is min kinders en dat Orania se ideaal saam met die klompie ou mense hier sal uitsterf. ’n Ernstige joernalis sou die aanname dat Orania net uit bejaardes bestaan, nagegaan het.

Twee helderoranje borde waarop die een besoekers verwelkom en die ander ons gemeenskap se verjaardag aankondig, word as “oranje-geskakeerde volkstaatpropaganda” afgemaak. Orania is juis gekant teen die eng propagandistiese wyse waarop gemeenskappe in Suid-Afrika vandag voorgesê word en het nog nooit so ’n strategie voorgestaan nie.

Ons poging om Kleingeluk, ’n ou woonbuurt vir bruines, te omskep in ’n plek waar Afrikaners uit alle inkomstegroepe tuis voel, word beskryf as ’n groeiende plakkerskamp. Wel, daar is geen plakkershuise in Orania en veral nie in Kleingeluk nie.

Oor die wêreld heen is daar toenemend steun vir minderhede se reg tot selfbeskikking. Minderheidsregte en die idee van vreedsame selfbeskikking (soos in Orania), word as ’n liberale beginsel beskou, maar Booyens beskryf dit as ’n “fanatiese en benouende Christelike lewensbeskouing”.

Sy het duidelik nog nie veel moeite gedoen om oor Quebec, Katalonië, Vlaandere en Suid-Tirool te lees nie. Selfbeskikking raak die in-ding en nie een of ander agterlike idee soos sy dit voorhou nie.

* Die brief het op 30 Junie in Rapport verskyn.


Hannelie Booyens is die Naspers joernalissie wat by die ombudsman gekla het oor ander se swak joernalistieke styl.

Hannelie Booyens Sondag

2011-05-21 : Hannelie Booyens oor Hannelie

Hannelie Booyens is al byna 20 jaar lank ’n joernalis en byna 10 jaar ’n skrywer by Huisgenoot. “Dit pas my temperament perfek om ’n joernalis te wees, want as dit nie vir spertye was nie, sou ek waarskynlik nooit iets klaarmaak nie. Ek het nooit aspirasies gehad om ’n groot skrywer te word nie, maar ek het ’n kunssinnige streep. As ek aftree, sal ek weer begin skilder (waarskynlik in die styl van Tretchikoff) en een van daai eksentrieke anties word wat in ’n kaftan portrette by vlooimarkte verkoop.

Wat behels jou werk by die departement van joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch?

Ek beklee vanjaar die Rykie van Reenen-sekonderingspos. Ek is nog verbonde aan Media24, maar gee vir ’n jaar joernalistiek vir ’n groep aspirant-joernaliste wat vas van plan is om die wêreld te verander. Dis heerlik om deur jong oë na die joernalistiek te kyk en te besef hoe ’n wonderlike beroep dit is.

Jy het al in baie plekke gebly (Totius sal verstaan)…

Ek het al 27 keer verhuis en as ek nie aan posttraumatiese stressindroom gely het weens al die trekkery nie, sou ek ’n blitsverkoper kon skryf oor 100 dinge om nie te doen as jy trek nie. Ek het nog altyd ’n oopdeur-beleid gehad en is op my gelukkigste in ’n huis vol geesgenote. Een van die lekkerste plekke waar ek gewoon het, was in Sunnytown in Pretoria toe ek nog by ’n streekkoerant gewerk het.

En waar wil jy nooit weer jou voete sit nie?

By daai goor Britse gesin vir wie ek ’n kinderoppasser was in 1996. Hulle was so ’n nouveau riche-gespuis wat meer omgegee het vir hul sportmotors as vir hul kinders.

Jy het 40 lewenslesse uitgedink as bestekopname toe jy 40 geword het. Deel bietjie ’n paar.

* Ek glo 15 minute op ’n trampolien is goeie terapie vir die meeste geestesversteurings. Maar niks is so heilsaam soos ’n warm bed in die winter nie.

* Vergeet van die gehalte van kos – eetplekke met fake plante en regte mense is beter as restaurante met regte plante en fake mense.

* Ondersoek die boosheid sodat jy die goeie kan verstaan. Sê jy’s jammer as jy iemand seergemaak het. Tel tot tien voor jy erken jy’s verkeerd.

* Sjampoe twee keer, gebruik liters conditioner en spoel jou hare baie deeglik af met warm water vir ’n blink kroon. As jy meer as drie haarprodukte gebruik, gaan jy nooit ware liefde vind nie.

* Moenie ’n woord glo wat jou sielkundige of dominee of haarkapper sê nie. Lees een goeie kinderboek per maand en breek ’n plastiekhanger as jy gefrustreerd is.

* Leer om nee te sê. Probeer nóg harder om nee te sê. Vra ontsettend baie geld as jy ja sê.

Wie en wat maak jou deesdae gelukkig?

Dis seker nie politiek korrek om dit te erken nie, maar die mens wat my lewe die meeste ophelder is Martha Silwane, die vrou wat een keer ’n week inkom om ons woonstel skoon te maak. Dis ’n ongelooflike vreugde om tuis te kom in ’n skoon, netjiese, welriekende huis. Dankie, dierbare Martha.

En wat maak jou ongelukkig?

Kleinsieligheid en onregverdigheid maak my boos. Mense wat ander uitbuit laat my nekhare rys. Slegte en onbeskofte motorbestuurders en selfbejammerende siele versuur ook my lewe, maar die mense wat regtig uit my pad moet bly, is boosaards wat kinders en diere mishandel.

Noem ’n paar van jou helde/ikone, en natuurlik hoekom hulle is.

My grootste heldin en inspirasie is nog altyd Pippie Langkous. Sy’s vreesloos en snaaks en sterk en het ’n onblusbare sin vir humor. En natuurlik neem sy haarself glad nie ernstig op nie.

Die joernalis Rykie van Reenen is ook ’n rolmodel. Ook omdat sy snaaks en slim en diep moreel was.

BRON: Rapport

Virtuele Bier

Omtrent die skrywer

Orania Blog

Die Orania Blog is ‘n plek waar inwoners meer oor die lewe in Orania vertel. Blog: http://www.oraniablog.co.za