Boerehelde, Hulde aan Kommandant JJS Theron

Kommandant Daniël (Danie) Johannes Stephanus Theron (1872 – 1900).

Kommandant Daniël (Danie) Johannes Stephanus Theron (1872 – 1900).

BOERE GESKIEDENIS –  Boerehelde, ons bring hulde aan Kommandant Daniël (Danie) Johannes Stephanus Theron (1872 – 1900). Hy was ‘n baasverkenner in die Tweede Vryheidsoorlog.

Gebore op 9 Mei 1872 in Tulbagh, Wes-Kaap. Verhuis hy later na die Transvaal waar hy hom bekwaam as prokureur en praktiseer op Krugersdorp in Sentraal-Transvaal. Vroeg-vroeg wys hy sy durf en daad en liefde vir die Boerevolk. Die redakteur van die Johannesburgse koerant, The Star, W.F. Moneypenny, was ‘n Boerehater en het ‘n neerhalende en ‘n smerige berig oor Boerevrouens geskryf. Boere was daaroor onstoke. Moneypenny het geweier om ‘n regstelling te plaas. Prokureur Danie Theron het na Moneypenny se kantoor in Johannesburg gegaan en Moneypenny ‘n pak slae gegee. Daarvoor is hy aangekla en skuldig bevind. Volksgenote het geld ingesamel en sy boete betaal.

Met die uitbreek van die Engelse Oorlog in 1899, sluit Danie as 27 jarige jongman by genl De Wet se magte aan as verkenner en na verskeie gevegte word hy as Kaptein van die Theron Verkennerkorps (TVK) aangestel. Dit was egter nadat hy by Perdeberg kilometers op sy hande en knieë deur die Engelse omsingeling van genl. Cronje, gekruip het met voorstelle aan Cronje van genl De Wet, om uit die omsingeling deur te breek. Cronje wou nie luister nie. Uiteindelik het Cronje op 27 Februarie 1900, 19 jaar na die Slag van Majuba in die Eerste Vryheidsoorlog, aan Lord Roberts oorgegee. Dit het baie Boere se moed gebreek.

Danie Theron moes weer vir kilometers terugkruip verby ‘n aansienlike aantal Engelse wagte. Alles in die nag. Sy hande en voete was bloedblase en die knieë deurgeskaaf. Daar is ook ‘n oorlewing dat Theron en sy manne by Bethlehem ‘n onthaal van Engelse offisiere vir hulle plaaslike gaste geïnfiltreer het en heerlik aan die voedsel en drank gesmul het voordat die Engelse onraad bemerk het! Kommandant Danie Theron is op 5 September 1900 deur ‘n Engelse kolonne by Gatsrand te Elandsfontein vasgekeer en man alleen het hy die Engelse aangevat. Hy is gedood deur ‘n stuk Engelse skrapnel. Hy was 28 jaar oud.

Volgens Engelse bronne was dit ‘n jong oorloggie en het dit geklink of daar nog mense by Theron was. Eers 50 jaar na sy dood is ‘n momnument vir hom opgerig waar hy gesneuwel het. Hierdie Boereheld lê begrawe by Eikenhof op die plaas van sy verloofde, Hannie Neethling, se ouers. Verskeie militêre instellings was na hom vernoem. Op 6 Maart 2002 het die eerste president van die Nuwe Suid-Afrika, meneer Nelson Mandela in Pretoria ‘n monument vir Danie Theron onthul en mooi dinge van hom gesê. Op die besondere dag het die president hoofsaaklik Afrikaans gepraat.

Op 5 September 2015 was dit 115 jaar na hierdie gevierde Boereheld se afsterwe. Ons bring hulde aan ‘n vreeslose Boerekryger Soet is die stryd vir die stryder – Opgestel en uitgegee deur Piet Rudolph namens Vrye Boere-Republikeine

Namecheap