Boere Geskiedenis: Louw Jacobus Wepener

Louwrens Jacobus Wepener 1BOERE GESKIEDENIS – Louwrens Jacobus Wepener, gesneuwel in die ouderdom van 53 jaar en 25 dae. Hy het geval toe hy die onmoontlike vermag het en die berg reeds oorwin was. Want die Basoeto’s was aan die vlug toe hy getref is.

In ons hele galery van oorlogshelde is daar geeneen merkwaardiger as Louw Wepener nie. Hy was ‘n fyn beskaafde mens wat deur die omstandighede van die tyd gedwing is om veldheer te word en sy lewe vir sy land te gee op die 15e dag van Augustus 1865. Dit was seshonderd man teen tweeduisend – en ‘n berg. Dit was seshonderd en ‘n Swartmaanhaar. En die seshonderd juig, maar die tweeduisend huiwer. Net die berg lê bewegingloos.

Dis die Basoeto’s wat hom eerste die Swartmaanhaar genoem het. Toe die gedurige wrywing oor die grondkwessie eindelik op oorlog tussen die Republiek Oranje-Vrystaat en Basoetoland uitloop, het Louw Wepener as waarnemende kommandant op kommando gegaan. Maar spoedig was hy aanvoerder van al die suidelike magte wat die vyandelike gebied seëvierend van onder af binnegedring het. Dis toe dat hy sy nuwe naam gekry het – hy wat vroeg voordag op sy prooi spring nog voor die grysbok haar lam laat drink.  Die Basoeto’s is egter nog glad nie verslaan nie. Koning Mosjwesjwe het sy hoofstat op Thaba Bosigo, die Nagberg, gemaak – daar op die gelykte bo met genoeg ruimte vir mense en beeste ook, en selfs ‘n fontein, met rondom ‘n kraag van feitlik ondeurdringbare kranse. ‘n Besoek aan die bergkruin is op sy beste ‘n beproewing: steiltes, rotslyste, weer steiltes, loodregte afgronde. En nou het die Basoeto’s vier van die vyf poorte heeltemal met klippe toegepak en ‘n reeks skanse in die vyfde gebou. Dis hier voor die Nagberg waar die Vrystaters laer opgeslaan het.

Van die begin af loop sake verkeerd met die Vrystaatse aanval. Reeds van kort ná middernag af word al gesukkel om ‘n strydmag gereed te kry. Daar heers ‘n ongelooflike verwarring. Die krygsraad onder voorsitterskap van generaal Fick, die hoofkommandant, het besluit dat kommandant Wepener die aanslag met duisend van die drieduisend beskikbare manne moet lei. ‘n Skrale seshonderd bied hulle vrywillig aan. Die orige vierhonderd moet gekommandeer word. Hulle is ontevrede. Toe die son in die ooste uitkruip, skud Louw Wepener sy kop. Dis nou te laat. Die Swartmaanhaar se tyd het verbygegaan. Eers teen nege-uur die oggend bereik die Boeremag die punt voor die berg van waar hulle moet optree. Maar die hoofleiding bly besluiteloos. Kommandant Wepener gaan sit eenkant en stop sy pyp. Nou moet maar kom wat wil.

Generaal Fick weet nie presies wat om te doen nie. Haastig hou hy kajuitraad met ‘n paar van sy bes bevriende offisiere. Dan kry Wepener die boodskap dat die aanval vir die dag afgelas word. Hy moet net die duisend man en twee kanonne vat vir ‘n opmars rondom die berg. “Dink generaal Fick dan miskien hierdie berg is Jerigo – of lyk ons vir hom soos Israeliete?” mor die burgers toe hulle dit hoor. Die optog begin, kruip stadig voort tot naby ‘n graskoppie, en daar kom dit heeltemal tot stilstand, want een van die kanonne het in ‘n sloot vasgeval. Orals steek die burgers vuurtjies aan om koffiewater te kook en haal padkos uit. Baie ry sommer sonder verlof terug laer toe. Dit lyk meer na ‘n piekniek as ‘n veldtog.

Lank kan kommandant Wepener egter nie so ledig bly nie. Hy klim op sy perd en ry nader om weer te gaan verken. Hoeveel maal het hy die vesting nie al betrag en die moontlikhede oorweeg nie? Maar mens kan nooit te veel van die vyand te wete kom nie. Die Nagberg lê los in ‘n vallei, ‘n hoogvlakte met riviere voor hom, en agter die streng spitse van die Maluti-reeks. Soos ‘n reusagtige dier wat pas uit sy slaap ontwaak het, lyk hy: die kop effens opgelig,die een agterpoot lui uitgestrek, rustig, seker van sy krag. En voor die berg staan die man: stewig gebou, regop, swartbruin hare wat soos ‘n leeu se mane onder die hoed uitkrul, ‘n welige volbaard. Maar dis sy oë wat die mense vasvat en hulle nie weer kan vergeet as hulle eenmaal daarin gekyk het nie – donker oë soos die nag, met sterre in.

Kommandant Wepener maak ‘n paar aantekeninge in sy sakboek. “Nie sleg nie,” mompel hy. Hier bokant hom is die poort met die skanse. Miskien sal dit tog die beste plek vir ‘n aanval wees – môre, oormôre, of wanneer dit ookal gaan plaasvind. Net toe jaag ‘n boodskapper van generaal Fick af nader. Wepener frons toe hy die briefie lees: “Die krygsraad het ná rype oorleg besluit dat die berg wel vandag bestorm moet word. Trek dadelik terug na die aanvalspunt toe.” Hy kyk na die boodskapper. “Sê vir generaal Fick as ons dit dan móét doen, lyk hierdie plek vir my beter,” beveel hy die burger. Die hoofkommandant kom self kyk. “Dan moet jy maar hier aanval,” sê generaal Fick. Skielik praat hy heftig: “Ons kan nie ‘n hele strydmag uit die laer laat opruk en niks doen nie. Die burgers sal sommer eie reg gebruik en huistoe gaan.”

Louwrens Jacobus Wepener 3“Dit het ons tog van die begin af geweet,” antwoord Louw Wepener kalm, maar generaal Fick neem die woorde verkeerd op. “Nou ja kommandant Wepener, ek beveel jou: Gaan! Storm die Nagberg en neem hom in besit!” sê hy kwaai; sy stem bewe. Kommandant Wepener steur hom nie daaraan nie. “Die vrywilligers van vanoggend sal my seker volg. Maar dit sal dalk nie genoeg wees nie.” Generaal Fick se woede gaan net so skielik lê as wat dit opgevlam het. “Tog net nie weer kommandeer nie,” sê hy byna pleitend. “Ek weet nie wat Generaal gaan maak nie, maar as ek hulp nodig het, moet die versterkings gereed wees,” antwoord Louw Wepener. “Goed, ek sal daarvoor sorg. Vir die kanonne ook. Begin nou net.” Louw Wepener ry na sy adjudant toe. “Kry die burgers bymekaar,” sê hy.

Die fluitjie blaas. “Ons gaan die berg aanval, net hier bokant deur die poort,” sê kommandant Wepener toe almal luister. “Dié wat bereid is om saam te gaan, kom hier na my toe.” Dis ‘n mooi Augustus-dag, stil en oop, soos dit in die nawinter kom wanneer die wind gaan lê en dit byna voel of dit al lente kan wees. Die Vrystaters dring om hul leier saam. Die meeste is van die suide wat die veldtog onder hom meegemaak het. “Burgers”, sê Louw Wepener kalm, “ek moet julle dit op die hart druk dat ons kans op welslae afhang van die spoed waarmee ons die aanval uitvoer. Ons sal in drie groepe gaan: kommandant Bester op die linkerflank, kommandant Venter op die regterflank, terwyl ons ander in die middel slaan. Maar as ons die eerste skans bereik het, moet julle van die kant af met geweld inkom na ons toe sodat ons in één golf daaroor kan spoel. As ons eers vinnig een of twee gevat het sal die Basoeto’s skrik, sodat ons die laaste twee kan oorrompel. En wanneer ons deur die poort van die berg is, sal niemand ons meer stuit nie.”

“Hoera!” juig die burgers om hul gevoelens te lug. Kommandant Wepener lig sy arm. Die burgers word stil. “God sy met julle,” sê hy. Dan swaai hy sy hand af sodat sy vinger na die Nagberg wys. “Kom burgers!” beveel hy. Hulle jaag met die perde in tot onder die kranse. Van hier af moet hulle te voet verder. Toe die voorste Vrystaters bokant die rotslys uitkom, begin die Basoeto’s skiet. Hulle is goed gewapen. Van die hoogvlakte af antwoord die Boere-kanone, maar die meeste koeëls klap onskadelik teen die hoë kransmuur vas, of vlieg los bo-oor. Honderd man sien nie verder kans nie en bly by die perde agter. Daar is nog vyfhonderd oor. Stadig, te stadig ontplooi die Boeremag, kruip die twee voelers na weerskante toe uit van die middelste wig af. Die kloof links is vol Basoeto’s wat onophoudelik vuur. Bo uit die kranse stort rotsblokke op die Vrystaters neer. Die Basoeto’s in die kloof bied kwaai weerstand, en die linkervoeler bly agter.

Op die regterflank word kommandant Venter swaar gewond en afgedra. Sy burgers weet nie verder nie. Dis net die speerpunt in die middel wat nie stomp word nie. Hulle bereik die tweede kransmuur. Drie van die burgers buk, en kommandant Wepener en twee van sy manne hys hulleself boontoe. Dadelik val hulle plat om hul makkers met spervuur te dek. Een vir een kom hulle agterna. Van klip tot klip, soms sommer plat op die oop grond. Hoër, altyd hoër. Die middagson bak op hul rûe. Doringbossies skeur hul klere. Gruisklippe vreet in hul elmboë en knieë. Om hulle, oor hulle dreun die eentonige lied van die dood. Nou lê die skanse voor, tussen twee ewewydige klipriwwe wat steil na die bergpoort oploop. Hier moes die twee voelers van weerskante af ingeswaai het om hulle by die middelgroep aan te sluit. Maar daar is al drie gedood, meer as ‘n dosyn gewond, en die ander het nie meer veel hoop nie.

By Louw Wepener is nog net honderd man. Vir die eerste maal huiwer die kommandant. Vrees ken hy nie, omdraai sal hy nie. Maar hulle wat om hom is weet dat hy aan sy burgers se veiligheid dink. Hulle is so bitter min. Sal daar dan geen hulp kom nie? Louw Wepener stel sy verkyker in, speur berg af, laat dit weer sak. “Gaan dadelik na generaal Fick toe,” beveel hy een van die burgers “Vra vir hom of ons nie versterking kan kry nie.” Dan kyk hy na die groepie om hom. “Ons sal ‘n halfuur hier vertoef,” sê hy. Hulle is redelik veilig agter ‘n klomp rotsblokke verskuil, skiet net so nou en dan om die Basoeto’s besig te hou. Een van die offisiere kruip na die kommandant toe. “Die spul lafaards,” sê hy met blitsende oë. Louw Wepener skud stadig sy kop. “Lafaards – nee, dit glo ek nie,” antwoord hy. “Daar sal seker diesulkes ook wees, maar nie ‘n hele leërmag nie. Wat ek wel sê is dat ons leiers te veel dwaashede begaan. Die voorbokke kan nie mik-mik loop nie, dan bars die hele trop verby.”

“Dié Fick, ja…” “Moenie net vir generaal Fick die skuld gee nie,” spreek Louw Wepener hom weer teë. “Hy is ‘n dapper man, maar hy het ongelukkig te veel vriende aan wie hy sy ore uitleen. Al die gepraat van sy raadgewers maak hom besluiteloos, en dis waar die moeilikheid begin.” Die halfuur gaan verby, Daar is geen teken van hulp nie. “Dan druk ons aan,” sê die kommandant. “Ons verdeel weer in drie groepe: kommandant Wessels, neem jy dertig man op die linkerflank; kommandant Pansegrouw dertig aan die regterkant. Ek vat die oorblywende veertigtal.” Hulle is gereed. “Kom burgers!” Die aanval op die skanse het begin. Louw Wepener spring op en hardloop gebukkend vorentoe. Die Basoeto’s sien wat kom, en hulle skiet, skiet sonder ophou. Maar kans vir aanlê is daar nie want van links en regs hou kommandante Wessels en Pansegrouw se vuur hul koppe af.

Louwrens Jacobus Wepener 2Die voorste burgers is nou so naby die eerste skans dat assegaaie en strydbyle tussen hulle ingeslinger word. Een struikel en val. ‘n Tweede. Kommandant Wepener kom orent. Kat-agtig klouter hy teen die ses voet hoë klipmuur uit, druk sy pistool bo-oor en skiet die magasyn leeg. Langs hom volg twee, drie burgers sy voorbeeld. Nou is Louw Wepener op die skans. Verwonderd kyk die burgers hoe hy homself ophef. ‘n Oomblik staan hy so, fors en vreesloos. Dan verdwyn die Swartmaanhaar agter die klipmuur in. Een vir een plof die voorste Vrystaters langs Wepener neer. “Kom burgers!” Die tweede skans val. Die Basoeto’s het Louw Wepener lankal geëien, en toe hy die eerste twee skanse so maklik vat, yl die boodskap berg uit: “Die Swartmaanhaar is in die poort! Ons kan die Swartmaanhaar nie keer nie. Ons koeëls word water, ons assegaaie is riete in die wind.”

In die tweede skans huiwer die kommandant weer. Daar is skaars vyftien man by hom, en in die eerste skans wag seker nog soveel. Dit word nou werklikheid dat hulle die skanse in besit kan neem maar nie genoeg mense sal wees om die aanval na die berg toe uit te brei nie. Wepener stuur weer ‘n boodskapper. “Ons sal ‘n rukkie hier wag,” sê hy. Maar te lank kan hulle nie vertoef nie. Die kommandant kyk na die son wat reeds laag bokant die horison hang en beduie na die derde skans se kant toe. Hulle storm. Dit lyk asof niks hom kan stuit nie. Dis net opklouter, vuur, oorspring, plat val, weer vuur. Hulle het die derde skans ook ingeneem. Net nog een skans staan tussen hulle en die kruin van die Nagberg. Maar in die tweede skans het ‘n makker vir goed agtergebly. Die Basoeto’s werp alles vir laas in die stryd. Hulle het die Boere nou van drie kante onder skoot: uit die vierde skans, en van die rotspunte af aan weerskante van die poort. Hulle veg omdat daar niks anders oorbly nie, maar hul moed is min. So ‘n vyand het hulle nog nooit gesien nie, geeneen het nog so in hul ore kom brul nie. Dis asof hul geliefde berg self vir hom bang is, of sy poort oopgaan as hierdie stem praat.

Kommandant Wepener kyk na die vier naaste aan hom. Die kommandant glimlag met hulle, gly dan vinnig van klip na klip, bespied, oorweeg. Een van die jong burgers kan die spanning nie meer verduur nie. Dis George Finlay, seun van ‘n kommandant. Hy hardloop vorentoe, duik langs Louw Wepener neer. “Gaan ons verder, Kommandant?” “Ons gaan verder,” antwoord hy. George maak ‘n beweging asof hy orent wil kom maar die kommandant pluk hom neer. ‘n Sarsie koeëls spat teen die klip. “Stadig ou seun,” maan hy. “Laat ek eers sien of dit veiig is.” Die kommandant lig sy voorlyf. Kruitdampe vul die lug. Die lawaai is oorverdowend. Koeëls, rotsblokke, assegaaie en strydbyle reën om hom neer. “So moet die dal van die doodskaduwee wees,” dink hy, “maar ek sal geen onheil vrees nie.” Dis net oor sy burgers, hulle wat hom vertrou, wat hy liefhet, dat hy terughou. Maar dit kan nie anders nie. Louw Wepener lig sy arm, wys na die laaste skans. Sy lippe vorm al die woorde: “Kom, burgers!”

Toe ruk iets vreeslik aan sy lyf. Hy voel die geweld van die stormwind in sy bors, hy hyg soos in diep waters. ‘n Groot gejuig syg bo die berg op. Een van die burgers strompel nader. “Komandant!” “Tot hier toe… Ek… kan nie verder nie,” stamel Louw Wepener, en sy kop knik op sy bors af. Die koeël het in die hart getref. Sy groepie manne is verbyster. Bergop, bergaf vlieg die berig van Wepener se dood. “Die kommandant het gesneuwel!” “Die Swartmaanhaar is dood!” Die son is al onder, die aandwindjie kom op. Koel stoot dit oor die vallei, teen die berghang uit. Die burgers huiwer. Vol nuwe moed slaan die Basoeto’s skreeuend toe. Met lewensgevaar, met spervuur en die hulp van die kanonne, kry die Boere dit tog reg om die Basoeto’s terug te hou tot hulle die dooies en gewondes van die berg af gebring het. Maar die lyke van die voorstes kan hulle nie uitkry nie. In die tweede skans bly ‘n burger agter.

In die derde – Louwrens Jacobus Wepener, gesneuwel in die ouderdom van 53 jaar en 25 dae. Hy het geval toe hy die onmoontlike vermag het en die berg reeds oorwin was. Want die Basoeto’s was aan die vlug toe hy getref is. Nooit voor hom is dit gedoen nie, en geeneen ná hom kon dit ooit regkry nie. Maar hy was hý.

Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar

Namecheap