BOERE GESKIEDENIS: Anglo-Boereoorlog en ANC se Bisarre Rasse Ideologie

Argief foto

Argief foto

BOERE GESKIEDENIS – Duidelik het Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, geen begrip van die komplekse historiese prosesse van die afgelope 100 jaar en meer nie. Met geen sukses kon hulle die trotse Afrikaanse taal uitwis nie, en nou teiken hulle die Boere Geskiedenis.

Dit kan duidelik gesien word dat ons Boere Geskiedenis aangepas moet word by die ANC se bisarre rasse-ideologie. Die uiteinde van alle historiese prosesse moet volgens die ANC beleid die “rasse en geslag-samestelling” van die bevolking weerspieël. Die Boervolk het dit inderdaad sien kom, die Anglo-Boereoorlog se naam is al meer as eenkeer probeer verander.

Prof. Bill Nasson het ’n Engelse boek oor die oorlog, The War for South Africa, geskryf. Toe Tafelberg dit in Afrikaans uitgee, het hulle Anglo-Boereoorlog in die titel gebruik omdat Afrikaanse lesers dit so ken. Dit is verstommend dat die ANC-regering ’n oorlog ’n amptelike naam wil gee en dit in mense se voorhuise, studeerkamers en in biblioteke wil indwing.

Uit die oogpunt van die ANC het die Oorlog bloot gegaan oor wit en swart. Die Geskiedenis van die Boervolk wil hulle stadig uitwis, deur die oorlog ’n amptelike naam te gee as die Suid-Afrikaanse Oorlog, en so wil hulle die Boere-jeug mislei deur te beweer dat die oorlog slegs oor wit en swart gehandel het.

So het Frans Johan Preto­rius, emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, gereageer op die aankondiging deur Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, dat die Anglo-­Boereoorlog (ABO) voortaan as die Suid-Afrikaanse Oorlog bekend sal staan.

“Geen naam sal bevredigend wees nie. Die ABO verwys na die Engelse en Boere se betrokkenheid in die hoofrolle as strydende partye. Inderwaarheid was dit Engelse, Skotte, Austra­liërs, Nieu-Seelanders, Boere en swart mense.  Deur te verwys na die Suid-Afrikaanse Oorlog sluit jy die aggressor, die Britse Ryk, uit,” sê hy. Die regering het ook met die eeufees van die ABO, van 1999 tot 2002, die Anglo-Boereoorlog na die Anglo-Boere-Suid-Afrikaanse Oorlog hernoem.

Nathi tree inderdaad uit onkunde op en is ‘n geslag agter as hy dink dat daar eers onlangs oor swart mense se betrokkenheid by die ABO geskryf is. Afrikaanse historici skryf al byna 40 jaar daaroor. Daar is weinig beswaar daarteen dat swart mense se rol en lyding erken word, maar hoe die nuwe naam vir die oorlog daaraan erkenning gee, is belaglik. In die tydperk 1899 tot 1902, waartydens die oorlog plaasgevind het, het Suid-Afrika nog nie bestaan nie. Suid-Afrika is ’n begrip wat eers na Uniewording in 1910 ontstaan het.

Afrikaanse Nuus verneem ook dat daar nêrens, nie in die parlementêre portefeuljekomitee, of die publiek deur openbare deelname gekonsulteer is oor so ’n naamsverandering nie. By die verandering van dorpsname is daar streng voorwaardes van hoe en wie almal gekonsulteer moet word. – Afrikaanse Nuus

Namecheap