Bejaarde Vrou se Liggaam in Haar Huis Gevind

Argief foto

Argief foto

VANDERBILPARK – ʼn Bejaarde vrou (79) van Vanderbijlpark in Sentraal-Transvaal se liggaam is Maandagoggend deur haar dogter in haar huis aangetref.

Volgens luitenant Teboho Lephoto, woordvoerder van die polisie, is die vrou se liggaam blykbaar op haar bed aangetref met die vermoede dat sy verwurg is. Die vrou se dogter het haar ma Vrydag vir die laaste keer gesien toe sy vir haar kos gevat het. Oor die naweek het sy met haar ma in verbinding probeer tree, maar kon haar nie in die hande kry nie.

Die dogter het onraad vermoed en is Maandagoggend na haar ma se huis toe, maar die huis was gesluit. Sy kon egter haar ma deur die venster  op die bed sien lê en die polisie onmiddelik geskontak. Met die polisie se aankoms het hulle die deur oopgebreek. Dit is nog nie bevestig of enigiets uit die huis gesteel is nie. Die polisie wag nog vir die familie om eers die huis te deursoek voordat daar bepaal kan word of iets vermis word.

Dit blyk of die aanvaller deur ʼn venster toegang tot die huis verkry het. Volgens die bure het hulle haar Saterdag nog lewend gesien, maar dit is nie duidelik wanneer die moord gepleeg is nie. ’n Nadoodse ondersoek sal moontlik die tyd van die oorledene se dood bepaal. Die naam van die vrou kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien al haar naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie – Suid-Afrikaanse Polisie Diens Vanderbijlpark

Namecheap