Beeld Voer Haatveldtog teen die Puk

Ukranian-Nazis-640x480MENINGS – Dit blyk dat regte, egte Nazi’s, van die soort wat tans die verkose regering in die Oekraïene destabiliseer met geweld, Naarpers se goedkeuring wegdra.

Maar ‘n paar lawwe en vervelige studente by die PUK het volgens die smeerkoerant ‘n doodsonde begaan om ‘n “Nazi-saluut” te wys tydens… ontgroening.

Ja, u het reg gelees! Ontgroening. Die heel lafste manier waarop studente hulself as studente bevestig, is vir die comrades by Naarpers erger as ‘n misdaad teen die mensdom.

“Internasionaal word studente, sportsterre en bekendes wat dit wys verguis, afgedank en selfs tronk toe gestuur,” aldus Beeld.

“Enigiemand met die kleinste begrip van die geskiedenis sal weet dat dit onaanvaarbaar is om die Nazi-saluut in die openbaar te wys,” skel Beeld sy lesers. Maar dis doodreg met Naarpers as volbloed Nazi’s soewereiniteit en demokrasie mbv gewelddadige buitelandse agente ignoreer. Om nie van hoogverraad en terreur te praat nie. Alles piekfyn!

Dit kan net uit pure kwaadwilligheid wees dat ‘n koerant sulke berigte oor ontgroening by die Puk met doodserns aanbied, asof die giftige gas van Auschwitz hul neusvleuels onbehoorlik terg.

Praag het reeds oor die rol van die Nazi’s en die Open Society-miljardêr George Soros se befondsing vir die omverwerping van ‘n demokraties verkose regering in die Oekraïene berig.

Volgens Naarpers se opper-Afrikaanse, bied Brittanje en Nederland “morele en praktiese steun aan die Oekraïense opposisie”. Geen sprook gesprak oor die terreurbefondsing wat nou reeds tot die dood van byna ‘n honderd mense gelei het of die rookkolomme van brandende buitebande wat oor die hoofstad Kiëf hang nie.

Leopold Scholtz maak ook seker dat hy geen verwysing na die Oekraïeniese SS (Spilna Sprava) in sy pro-Nazi-berig insluit nie.

Naarpers het die gewone “Nazi’s” uitgesnuffel, en sommer hier naby in Potchefstroom, nie Bloemfontein nie. Dit pas so reg in Scholtz en die nuwe dorpsidioot Adriaan Basson se kraal want dis weer wit Afrikaners wat ter sprake is. Het Leopold ons nie reeds male sonder tal, met oorgawe vertel hoe onderling uitruilbaar die twee begrippe is nie?

Beeld voer tans ‘n reuse smeerveldtog teen die Puk. Die agenda is ‘n herhaling van wat die spul dommes daar gereeld onderneem, en dis al lank in die tand: Smeer die Afrikaner swart, breek sy instellings af en verdoem hom tot ‘n minderheid wat aan ‘n meerderheidstirannie uitgelewer is.

Die laaste paar dae bel omgekrapte vooraanstaande ondersteuners van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus redaksielede van Beeld om te kla oor die openlike haatveldtog wat die koerant en hul slinkse nuwe redakteur Basson dryf, maar soos gewoonlik is dit kommunikasie per gebreekte telefoon.

Basson en sy snuiters is horende doof. Hulle hou hulself glo te besig met “joernalistiek” sê hy.

Die comrades daar in die swart moddertoring – lank nie meer van ivoor nie – het “nuussin” en “dien die openbare belang”, verklaar hy hoogheilig. Basson het gerieflikheidshalwe vergeet om by te voeg dat hy die swart openbare belang bedoel wat wit Afrikaners per definisie uitsluit.

Die afgelope twee weke het die skorsing van twee koshuise se huiskomiteelede oor ontgroening op Potchefstroom nou gevorder na die hoofnuus oor studente se Nazi-salute. Dis nie eers eties verdag nie. Dis kru en kras en uiters bedenklik wat die monopolistiese moddergooiers aanvang.

Dis die gereelde bombardement teen opgevoede, ordentlike mense, weer op dieselfde trant as wat daardie handgebaretolk met Mandela se begrafnis met die dowes gesels het.

Die verkragters, kindermolesteerders, mensehandelaars, dwelmsmouse, swendelaars en misdadigers moet ‘n groot sug van verligting slaak dat Naarpers hul doelwit so getrou nastreef en op die vernietiging van Afrikaners fokus.

Dit laat darem oorgenoeg ruimte vir die skuim om na bo te dryf.


[Ter wille van perspektief oor die situasie in die Oekraïne, sien die volgende soos gepubliseer deur Die Vryburger. – Red]

Opinie: Die feite oor Oekraïne en Rusland

12 Maart 2014 – Die Vryburger

RUSLAND – Soms is dit nodig om feite te stel en emosie eenkant te laat. Die toestand in die Oekraïne is uiters plofbaar, en daarom hierdie feitelike uiteensetting van waarom die Russe so hardnekkig kleef aan sekere aspekte.

Die Oekraïne se stelling by die VN dat 16,000 Russiese soldate in die Krim ontplooi is, het ‘n tsoenami deur die Westerse media gestuur wat een feit ignoreer, naamlik dat die troepe reeds sedert die laat negentigs ingevolge ‘n Kiëf-Moskou ooreenkoms daar gesetel is.

Die feite, getalle en detail van hierdie ooreenkoms is as volg:

  1. Die Swartsee-vloot was ‘n dispuut tussen Rusland en die Oekraïne sedert die val van die Sowjet-unie in 1991.
  2. In 1997 is daar ‘n ooreenkoms oor die militêre bates in die Krim gesluit wat in 1999 deur die Russiese en Oekraïniese parlemente bekragtig is. Rusland het 81.7% van die vloot se skepe oorgeneem waarvoor hulle kompensasie van $526.5 miljoen betaal het.
  3. Jaarliks skryf Moskou $97.75 miljoen van Kiëf se skuld af in ruil vir die reg om Oekraïne se water en radiofrekwensies te kan gebruik asook vir enige negatiewe omgewingsimpak wat hulle vloot in die Swartsee mag hê.
  4. Ingevolge die oorspronklike ooreenkoms sou Rusland in die Krim gebly het tot 2017, maar die ooreenkoms is met 25 jaar verleng.
  5. Die 1997 ooreenkoms gee Rusland die reg om tot 25,000 troepe, 24 artillerie sisteme, 132 gepantserde voertuie en 22 militêre vliegtuie in die Krim aan te hou.
  6. Ingevolge die ooreenkoms het Rusland tans vyf vlooteenhede wat in die hawe van Sevastopol gestasioneer is.
  7. Moskou het ook twee lug-basisse in Krim.

Die Russiese parlement het reeds vir Poetin toestemming gegee om troepe na die Oekraïne te stuur, ‘n stap wat Poetin nie wil doen nie en gesê het dat hy dit slegs as ‘n laaste opsie sal oorweeg.

Die bewindhebbers van die Krim-skiereiland, waar meer as die helfte van die inwoners Russe is, het Moskou om hulp gevra nadat die selfaangestelde regering in Kiëf ‘n wet geproklameer het wat alle ander tale behalwe Oekraïnies in amptelike omstandighede verbied het.

[‘n Video van die gewraakte ‘saluut’ volg hierna. – Red]


VERWANTE BERIGTE

REDAKSIONELE OPMERKING: Afrikaanse Nuus is ‘n gemeenskapskoerant. As jy iets op die hart het, moenie ‘n moordkuil van jou hart maak nie. Gryp jou pen (rekenaar se sleutelbord) en skryf vir Afrikaanse Nuus. Begin met ‘n Blog (onder ‘n skuilnaam as jy wil). Wanneer jy ons vaardigheidstoetse slaag, mag ons dalk oorweeg om jou te bevorder tot gereelde rubriekskrywer. Wie weet, dalk byt die gogga jou en kan jy ‘n voltydse joernalis word?

Omtrent die skrywer

PRAAG

Pro-Afrikaanse Aksiegroep - Direkteur: Dr Dan Roodt
Webtuistes: www.praag.co.za - www.praag.org - www.praag.org.za