Afrikaners gee Demokratiese Alliansie die Trekpas

Helen Zille en DA-ondersteuners

Helen Zille en DA-ondersteuners

RUBRIEKE: Na die ontbinding van die Nuwe Nasionale Party (NNP), het baie Afrikaners ‘n heenkome by die Demokratiese Alliansie (DA) gevind, bloot om ‘n verenigde opposisie teen die ANC te vorm. ‘n Klein persentasie het egter by die Vryheidsfront Plus aangesluit.

Tydens vorige verkiesings het die DA egter daarop geroem dat dié party die enigste politieke opsie is wat teenstand teen die ANC kan bied. Onder leiding van Helen Zille, voormalige lid van die Black Sash, ondergaan die DA egter ‘n ingrypende gedaanteverwisseling en betrek eers die Onafhanklike Demokrate, en beweeg daarna polities al nader aan die ANC om sodoende stemme van die ANC af te rokkel en hul magsbasis vir die komende verkiesing te versterk.

Voormalige NNP ondersteuners word meegesleur tydens hierdie politieke klemverskuiwing, terwyl ANC elemente binne die DA net eenvoudig Afrikaners marginaliseer en enige konserwatiewe sienings stoomroller. Daarom het baie Afrikaners tot die slotsom gekom dat dit nou tyd geword het om hul DA “vriende” die trekpas te gee.

Trekpas kennisgewings is veral opvallend binne sosiale netwerke. Hier volg een so ‘n kennisgewing.

DA betoging by Kleinfontein

Die DA betoog by Kleinfontein

Toe ‘n deel van die Boerevolk opgeruk het na Delmas na die barbaarse moord op Wihan Botes, was dit nie die ANC wat gekerm het oor die verbranding van die Volksmoordvlag nie maar die DA!

Dit was ook nie die ANC wat die Verwoerd borsbeeld wou verwyder in Meyerton nie, maar die DA!

Tydens ‘n VVK registrasiegeleentheid in die ooste van Pretoria was dit nie die ANC wat plakkate teen die pale gaan op plak het wat lees: “Moenie hier registreer!”, dit was die verdomde DA!

Vandag was dit ook nie die ANC wat gaan betoog het by Kleinfontein nie, maar weereens die DA!

Hiermee ‘n brokkie inligting, noem dit feite, noem dit Boere-mentaliteit, noem dit net wat jy wil. Ek en jy kan en sal ook nie gou vriende kan wees as jy hierdie Afrikanerhatende politieke party steun nie. Inteendeel, ons sal eerder vyande wees aangesien vyande van my opregte volksgenote beslis vyande van my is. As jy die moed het om my hieroor aan te vat, doen dit nou.

As jou moed jou begewe, soos dit ‘n getroue DA ondersteuner betaam, verlaat my teenwoordigheid in stille erkenning van jou bydrae tot Volksverraad. Ons kan en sal nooit saamstem oor onnosele argumente soos dat die DA ons enigste hoop is nie. Jy sal my nooit kan oortuig om deel te neem aan die NSA se sirkusverkiesings nie, wat nog te sê om vir die aartsvyande van ons volk te loop stem. Jy kan my nooit in der ewigheid daarvan oortuig dat ‘n wegblystem ‘n stem vir die ANC is nie.

Jy sal my ook nie daarvan oortuig dat ek verkramp is terwyl ek juis vryheid nastreef terwyl jy vryheid doodsmoor met jou DA-tonnelvisie nie. Jy mag dus jou goeie reg t.o.v. vryheid van assosiasie hier toepas en my van jou vriendelys verwyder. Ek soek nie vriende soos jy nie aangesien vriende soos jy die grootste vyande is van mense soos ek. Hoe op dees aarde enige regdenkende Afrikaner vir ‘n vyand soos die DA kan stem gaan my verstand te bowe!

As jy na afloop van hierdie pos nog op my vriendelys is, neem ek aan jy steun my sienings rondom die DA. As jy egter stil-stil verdwyn, dankie, dis beter vir jou en beslis beter vir my. – Leon Cornelius

Namecheap