Aangeklaagde in Flippie Engelbrecht-saak pleeg selfmoord

Johnny Burger, van Rietvallei op Robertson en sy plaasbestuurder, Wilhelm (Dozi) Treurnicht (agter), buite die streekhof op Ashton. Foto Nasief Manie

Johnny Burger, van Rietvallei op Robertson en sy plaasbestuurder, Wilhelm (Dozi) Treurnicht (agter), buite die streekhof op Ashton. Foto Nasief Manie

ROBERTSON – ‘n Aangeklaagde in die opspraakwekkende Flippie Engelbrecht-aanrandingsaak, Johnny Burger, het vanoggend selfmoord gepleeg.

Burger is die eienaar van die Rietvallei-wynlandgoed op Robertson.

Vanoggend het die telefoonlyne gegons soos die skoknuus deur die Breedevallei en elders getrek het.

‘n Polisiewoordvoerder, Andre Traut, wou by navraag slegs sê dat ‘n dossier oopgemaak is ná die dood van ‘n 62-jarige man op sy plaas. Alhoewel omstandighede daarop dui dat die persoon vir sy eie dood verantwoordelik was, sal die geval steeds ondersoek word, het Traut gesê.

‘n Nabye familievriend het aan Rapport gesê dat Burger homself vanoggend omstreeks halfnege met ‘n vuurwapen geskiet het.

Die vallei is hartseer. Die boere is kwaad oor Johnny se dood, het ‘n buurman van Rietvallei aan Rapport gesê.

Burger en sy plaasbestuurder, Wilhelm (Dozi) Treurnicht (35), word daarvan beskuldig dat hulle Flippie (Tollas) Engelbrecht (toe 15) glo op 25 Januarie 2008 erg aangerand het.

Hullle het verlede week vir die tweede keer in die streekhof op Ashton verskyn. Burger se voertuig is ná die hofverrigtinge deur die woedende skare met klippe bestook en die polisie moes ‘n skokgranaat afvuur.

“Propagandistiese kwaadstokery met ’n politieke bymotief. ‘n Soortgelyke aanklagte is reeds in 2008, kort ná die beweerde voorval, deur die plaaslike staatsaanklaer teruggetrek”

Burger het destyds aan Rapport gesê hy ontken die beweerde aanval en sê dat dit deel is van ’n “propagandistiese kwaadstokery met ’n politieke bymotief”. Burger het toe gesê soortgelyke aanklagte is reeds in 2008, kort ná die beweerde voorval, deur die plaaslike staatsaanklaer teruggetrek.

Engelbrecht het volstaan met sy bewerings en sê die twee mans het op 25 Januarie 2008 sy kop só hard teen ’n wyntenk gestamp dat hy daarna gereelde epileptiese aanvalle gekry het. Nadat ’n operasie om die drukking op sy brein te verlig skeefgeloop het, het hy blind geword. In September 2009 het hy sy hande so erg verbrand nadat hy ’n epileptiese aanval langs ’n vuur gehad het dat sy hande geamputeer moes word.

Engelbrecht eis vergoeding, asook sy hande en “gesiente” terug. “Daai boer het my hart baie seer gemaak,” het hy toe gesê.

“Die venyn van die ongetoetste en valse beskuldigings en veral die manier waarop dit op doelgerigte wyse elektronies aan die media en kliënte van die Rietvallei-wynlandgoed versprei is, dui op ’n beswadderingspoging deur Engelbrecht se regsverteenwoordiger, Carina Papenfus”

Burger het toe deur sy prokureur, Jaco Krauwkam, gesê dat die venyn van die ongetoetste en valse beskuldigings en veral die manier waarop dit op “doelgerigte” wyse elektronies aan die media en kliënte van die Rietvallei-wynlandgoed versprei is, dui op ’n “beswadderingspoging” deur Engelbrecht se regsverteenwoordiger, Carina Papenfus.

Krouwkam het toe in ’n aparte verklaring bygevoeg dat Engelbrecht na die beste van sy kliënt se wete in goeie gesondheid was toe hy die plaas in 2008 verlaat het. Hy was beslis nie blind nie en het albei sy hande gehad. Ook dat die Engelbrecht-egpaar ernstige drankprobleme gehad het en dat dit die rede was waarom hulle gevra is om Rietvallei te verlaat het.

Burger het toe gesê hy sal enige vervolging ten sterkste teenstaan en die “kwaadstokers” wat dié valse aantygings maak aan die kaak stel en “tot verantwoording bring”.

Die saak is verlede week tot 13 September uitgestel.

BRON: Rapport

Namecheap

Omtrent die skrywer

MDBP - My District and Business Publications
The Independent Global News Network Organization